Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EU-befondsing ʼn hupstoot vir navorsingsbestuur in Suider-Afrika
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 12/09/2016

ʼn Navorsingsvoorstel deur die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) aan die Universiteit Stellenbosch (US) in reaksie op die Europese Unie (EU) se Erasmus+ Program se oproep vir Capacity Development in Higher Education, is onlangs deur die EU vir befondsing ter waarde van R14.7 miljoen (976, 665 euro) goedgekeur. Die voorstel was vir 'n projek getiteld Strengthening of collaboration, leadership and professionalisation in Research Management (STORM) wat vroeg volgende jaar sal begin.

Dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US, het die gesamentlike voorstel aan die EU gekoördineer. Die US is deel van ʼn konsortium-vennote wat insluit die Universiteit van Bristol (Verenigde Koninkryk; VK), Kopenhagen Universiteit (Denemarke), Kaunas Universiteit van Tegnologie (Litaue), die Universiteit van die Wes-Kaap, die Universiteit van Namibië, die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie, die Universiteit van Botswana, die Botswana College of Distance and Open Learning, sowel as die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Navorsings- en Innovasiebestuur. Ander vennote in die projek sluit in die Vereniging van Statebondsuniversiteite, Thompson Reuters Edms Bpk, die Europese Vereniging vir Navorsingbestuurders en -administrateurs, en die Vereniging vir Navorsingsbestuurders en -administrateurs in die VK.

Dr Theron sê sy is baie opgewonde oor die geleenthede wat hierdie projek bied vir die ontwikkeling van personeel en internasionale netwerke binne ANO, en ook vir die ontwikkeling van professionele navorsingsbestuurders in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

"Ek hoop hierdie sukses wys ook aan ons navorsers dat ons bereid is om die daad by die woord te voeg, nie net te praat oor die bevordering van toegang tot internasionale befondsing nie! Ek glo dat die uitkomste van die STORM-projek  ̶  wat insluit die ontwikkeling van 'n nagraadse sertifikaat in navorsingsbestuur, die kurrikulumontwikkeling van 'n SAOG-gebaseerde meestersgraad in navorsing, sowel as 'n internasionale akkreditasiemeganisme vir navorsing bestuurders in die SAOG-streek  ̶  sal navorsingsbestuurskapasiteit in die SAOG-streek en elders ʼn hupstoot gee, en op so ʼn wyse van onskatbare waarde  wees vir die versterking van navorsing en innovasie aan universiteite en ander navorsingsinstellings in die streek."

Die Afdeling Navorsingsontwikkeling  bied professionele ondersteuning vir aansoeke van die US se navorsingsgemeenskap aan die EU se navorsingsbefondsingsprogramme. Waneer geleenthede hul self voordoen, berei die afdeling ook aktief voorstelle en bestuursprojekte wat met sy eie kundigheidsgebied  verband hou voor.

Dit bied aan ANO se personeellede die geleentheid om self die komplekse proses om by die EU aansoek te doen te deurloop, en, indien suksesvol, projekte te bestuur, ten einde die EU se befondsingsinstrumente beter te verstaan en beter ondersteuning aan navorsers te verskaf. Die projekte waarby hulle betrokke raak bied ook uitstekende geleenthede vir personeel ontwikkeling binne ANO, en maak voorsiening vir die vestiging en versterking van die afdeling se internasionale netwerke vir navorsingsbestuur.