Drie talentvolle Maties se drome van ʼn beter toekoms is ʼn werklikheid danksy die Russel Botman-beursfonds.
Dié studente, Sandiso Sogula, ʼn nagraadse regstudent; Randall van den Heever, ʼn tweedejaar Rekeningkunde-student en Soné Reens, ʼn tweedejaar BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie)-student, is die eerste ontvangers van die Russel Botman Beurs. Hulle ontvang elk R85 000.
Wyle prof Botman, voormalige Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), het die Fonds op sy 60ste verjaardag op 18 Oktober 2013 gestig en vriende, familie en kollegas versoek om in plaas van geskenke, ʼn bydrae te maak.
Prof Botman is op 28 Junie 2014 oorlede.
"Ek is dankbaar, geëerd en bevoorreg om deel te wees van die nalatenskap van prof Russel Botman en ek sal alles in my vermoë doen om suksesvol te wees en my beste te lewer," het Van den Heever gesê.
Vir Sogula is die beurs ʼn bewys dat harde werk uiteindelik beloon word. "Hierdie beurs het my daaraan herinner dat harde werk erken word, dalk nie dadelik nie, maar tog is daar iewers ʼn goeie persoon of stigting wat jou sal beloon. Dit beteken so baie vir my."
Reens het op haar beurt gesê dat sy stomgeslaan is deur die geleentheid wat sy ontvang het. "Hierdie beurs maak my studies soveel makliker sonder die stres van finansies. Ek is dankbaar en belowe plegtig dat ek altyd my beste sal lewer."
"Ons is dankbaar vir die individue en instansies wat sedert die stigting van die Beursfonds in 2013 donasies gemaak het en so opgewonde om hierdie beurse aan verdienstelike studente toe te ken," het dr Beryl Botman, weduwee van wyle prof Botman, gesê.
"Hierdie studente toon enorme potensiaal waaraan hulle uitdrukking gee in hul volgehoue toewyding om die beste te bied en die meeste uit hul studies te haal. Hulle is uitstekende verteenwoordigers vir die redes waarom Russel die Fonds gestig het. Deur hulle is daar ʼn geleentheid om die hoop en toekomsideale wat hy gekoester het, waar te maak," het sy gesê.
"Ons hoop die beurs bied aan die beursontvangers die gemoedsrus om hulle volle aandag en energie aan hul studies en student-wees te bestee en daarmee ook hulle drome en ideale vlerke te gee. Verder, dat hul families en ondersteuningsnetwerke hulle nou op ander wyses van ondersteuning kan toespits, sonder die groot finansiële uitdagings."
Prof Elna Mouton, voormalige dekaan van die US se Fakulteit Teologie en prof Botman se dogter, Roxanne, albei lede van die Russel Botman Beurskomittee, het ʼn beroep op hul donateurs gedoen om voort te gaan met hul ondersteuning en het diegene wat nog nooit voorheen ʼn beursskenking gemaak het nie, uitgenooi en aangemoedig om te begin.
"My pa het soos president Nelson Mandela en vele andere geglo dat onderwys die sleutel tot ons land en kontinent se ontwikkeling is en hierdie beursfonds kan ons help om ʼn verskil te maak. Ons het reeds groot en klein bedrae ontvang, eenmalig sowel as maandeliks, bydraes vanaf families, studente, ouers, vriende of belangstellendes – en dit word alles waardeer. Hierdie studente is beslis ʼn belegging in die toekoms."
ʼn Amptelike beursoorhandiging sal op 18 Oktober 2016 as deel van die jaarlikse Russel Botman-gedenklesing gehou word.
- Indien jy graag ʼn bydrae tot die Russel Botman Beursfonds wil maak is die besonderhede vir direkte inbetalings as volg: Standard Bank, rekeningnommer 07 300 695 5 en takkode 05 0610. Die verwysing Botman moet asb bygevoeg word.
Foto: Sandiso Sogula, Dr Beryl Botman, Soné Reens en Randall van
den Heever (foto deur Stefan Els)