Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Politieke Studies-vereniging vereer US se Pierre du Toit
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 08/09/2016

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Politieke Studies (oftewel die South African Association of Political Studies - SAAPS) het die Universiteit Stellenbosch (US) se prof Pierre du Toit met sy gesogte Toekening oor ʼn Leeftyd, vereer.

SAAPS is die oudste professionele en vakspesifieke vereniging vir politieke wetenskaplikes in die land. Een van die vereniging se doelwitte is om erkenning te gee aan kundiges (studente en dosente) vir hul wetenskaplike bydraes tot SAAPS en politieke wetenskap in die algemeen.

Die Toekenning oor ʼn Leeftyd is gebaseer op eweknie-geëvalueerde werk van ʼn persoon se werk en erken ʼn persoon se uitnemende en internasionaal-erkende volgehoue akademiese bydrae oor ʼn periode van tyd. Du Toit, van die US se Departement Politieke Wetenskap, geniet erkenning in hierdie verband vir onder meer sy werk in demokratisering en demokratiese oorgang in Suid-Afrika.

Hy het die toekenning by die Vereniging se onlangse Toekenningsaand, wat deel gevorm het van die Nasionale Konferensie wat vanjaar by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou is, ontvang.

In sy aanvaardingstoespraak het Du Toit gewys op die voordele van ʼn akademiese loopbaan (wat hy ʼn  roeping eerder as bloot ʼn werk genoem het) deur te fokus op navorsing, metodologie, onderrig en akademiese dissipline.

SAAPS het Du Toit gelukgewens met sy akademiese bydrae en hom sterkte toegewens vir die pad vorentoe.

Prof Hennie Kotze, voormalige dekaan van die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, het die toekenning in 2014 ontvang.

Foto: Proff Pierre du Toit en Amanda Gouws van die Departement Politieke Wetenskap