Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MFM wen toekenning vir Veiligheidsveldtog
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 06/09/2016

Vir die tweede opeenvolgende jaar het die Maties gemeenskapsradiostasie MFM met die prys vir "Beste Kampus Media" weggeloop, vir hulle tweejaarlikse Veiligheidsveldtog, by die Diageo Responsible Drinking Media Awards (RDMAs) wat in Sandton op Woensdag, 31 Augustus gehou is.

Hulle was ook die naaswenners in dieselfde kategorie. Die veldtog, wat in Februarie en Augustus plaasvind, beoog om bewustheid te skep van misdaad, dronkbestuur en algemene veiligheid in Stellenbosch. MFM het dié toekenning gewen vir 'n radio-insetsel wat 'n onderhoud bevat met die ma van 'n kind wat deur 'n dronkbestuurder doodgery is.

 "Die toekenning beteken baie vir ons as 'n span, ons probeer regtig hard om 'n verskil te maak. Ons word gesien as 'n stem vir die stemloses, en dit is ons verantwoordelikheid om die probleem te help oplos, al is dit net deur meer bewustheid te skep. Mense dink nooit hul sal negatief deur alkoholmisbruik geraak word, tot dit met hulle gebeur nie," sê Charita van der Berg, MFM Stasiebestuurder.

"Daar is 'n verskil tussen 'n drankie veilig geniet, en om 'n gevaar te raak op die pad, of jy nou stap, fietsry of met 'n motor ry. Ons voel geëerd om hierdie toekenning te ontvang – dit beteken ons werk word erken."

IMG-20160707-WA0000.jpg

MFM het die wrak van 'n motor op die Rooiplein "vir twee weke vertoon om die probleem hier op kampus uit te lig", aldus Van der Berg.

"Ons as 'n gemeenskapsradiostasie is verantwoordelik vir die mense in ons gemeenskap, nes almal wat deel vorm van die Stellenbosch gemeenskap na mekaar moet kyk," het Van der Berg bygevoeg, met verwysing na die rol wat die media kan speel om die verantwoordelike gebruik van alkohol te bevorder. "Al is daar net een persoon wat hierna twee keer dink voordat hulle besope in 'n kar klim, sal dit 'n verskil maak. Die media kan ook help om ander sisteme uit te wys, soos publieke vervoer sisteme, die wetgewing rondom drankmisbruik meer bekend te maak en meer geleerdes op die lug te kry om te gesels oor misbruik."