Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dietrich Bonhoeffer vir vandag
Outeur: Marita Snyman
Gepubliseer: 05/09/2016

Die afgelope drie jaar het die Bonhoeffer Konsultasie 'n aantal kenners, pastore en studente bymekaargebring vir 'n in-diepte lees en bespreking van gedeeltes van Bonhoeffer se skryfwerk. Die fokus van vanjaar se Konsultasie was Bonhoeffer se skripsie, Sanctorum Communio, wat hy op die ouderdom van 21 voltooi het. Bonhoeffer beskryf die kerk daarin as 'n sosiale entiteit waarin afsonderlike persone in gemeenskap saamgesnoer word deur mekaar se verskille te ontmoet. Deelnemers het elke oggend deur die Sanctorum Communio gelees en die implikasies vir teologie, sosiologie, politiek, menswees en 'n vars visie vir die kerk se rol in 'n diverse en versoenende Suid-Afrika bespreek. Die besprekings was aangevul deur openbare lesings, en spesifiek 'n lesing deur die bekende teoloog en Bonhoeffer-kenner, Prof. John de Gruchy, oor Bonhoeffer se profetiese voorbeeld vir 'n globale Kairos teologie.

Foto: Prof Robert Vosloo, Direkteur van die Bonhoeffer Eenheid by die Beyers Naudé Sentrum saam met Prof John de Gruchy