Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van BSc tot kliniese navorsingsgenoot
Outeur: Communication & Media, Faculty of Science
Gepubliseer: 19/08/2016

BSc alumnus Eugene Pretorius, het 'n gesogte werk by 'n internasionale biofarmaseutiese diensmaatskappy wie se dienste die volgende insluit: die uitvoer van kliniese studies vir verskeie farmaseutiese maatskappye, sowel as maatskappye wat mediese toerusting vervaardig.

Hy het onlangs sy opleiding voltooi en is nou 'n gesertifiseerde kliniese navorsingsgenoot by Quintiles, 'n Fortune 500 maatskappy, met meer as 36 000 werknemers in meer as 10 lande. Die tydskrif Fortune stel jaarliks 'n lys saam van die 500 grootste maatskappye in die VSA, gebaseer op totale inkomste.

Alhoewel hy daarvan gedroom het om 'n dokter te word, het hy sy suksesvolle loopbaan begin deur 'n BSc-graad te verwerf. "Ek wil studente aanraai om nie 'n BSc-graadprogram aan te pak sonder 'n definitiewe loopbaanplan nie. Doen jou navorsing oor loopbaanopsies en ondersoek die verskillende werksgeleenthede in jou beplande studieveld."

Hy het ingestem om 'n paar vrae te beantwoord oor sy studies en daaropvolgende loopbaan.

Waar het jy grootgeword?

Ek het in Middelburg, 'n klein dorpie in die Oos-Kaap grootgeword. Ons was omtrent 200 leerders van graad 8 tot 12 in die skool.

Hoekom het jy besluit om BSc by die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer?

My oupa en ooms het almal op Stellenbosch gestudeer. Dit was dus altyd 'n droom om in hulle voetspore te volg. Aangesien ek akademies uitgeblink het en goed was in syfers, wou ek aanvanklik chemiese ingenieurswese of aktuariële wetenskap swot.

In 2007 het my ma egter skielik siek geword en is sy oorlede. Ek het myself belowe dat ek die res van my lewe daaraan sal wy om lewens te red. Daarom het ek toe in matriek Rekenaarstudies gestaak en na Biologie oorgeslaan.

Ek het oral vir medies aansoek gedoen, maar sonder graad 11-biologiepunte kon ek nêrens inkom nie. Uiteindelik het ek besluit om BSc te studeer, vasbeslote om hard te werk en in te kom vir medies aan die einde van my eerstejaar. Ek was so gefokus op medies dat 'n tweede loopbaanopsie nooit bestaan het nie. Alhoewel ek hard gewerk het en elke jaar weer aansoek gedoen het, was die realiteit dat ek nooit vir medies gekeur is nie. Dit was die grootste teleurstelling van my lewe.

Na afloop van my tweedejaar het ek gekwalifiseer om Anatomie as hoofvak te neem vir BSc Menslike Lewenswetenskappe. 

Nadat ek aan die US gegradueer het, het ek my BMedSc Honneurs in Anatomie en Selmorfologie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Dit was nader aan my ouerhuis en meer bekostigbaar. Dít het ek opgevolg met 'n MMedSc in Anatomie.

Pas nadat ek met my meestersgraad begin het, het die realiteit van beperkte fondse en studieskuld my getref.  Ek het 'n internskap by Quintiles gekry en in the databestuursdepartement gewerk terwyl ek ook deeltyds vir eerstejaarstudente klasgegee het en my meesters gedoen het ‒ wat my met 16 tot 20 werksure per dag gelaat het!

Hoe het jy by jou huidige werkgewer uitgekom?

Terwyl ek as intern by die databestuursdepartement gewerk het, het ek aansoek gedoen vir 'n pos as kliniese navorsingsgenoot in opleiding, as deel van die maaskappy se wêreldwye ontwikkelingsprogram.

Ek het my opleiding voltooi en is nou 'n onafhanklike en gesertifiseerde kliniese navorsingsgenoot. Die volgende stap sal wees om genoeg ondervinding op te doen sodat ek 'n senior kliniese navorsingsgenoot kan word en dán wil ek kliniese projekbestuur doen.

Hoe lyk jou tipiese werksdag?  

Indien 'n nuwe chemoterapiemiddel vir longkanker byvoorbeeld getoets moet word, sal ek saam met onkoloë regoor Suid-Afrika werk. Ek maak seker dat elke toetsterrein objekte (gewoonlik pasiënte) werf om aan die studie deel te neem en dan "oudit" (monitor) ek die dokter en die objekte wat aan die kliniese studie deelneem om te verseker dat objekveiligheid deurentyd  sentraal staan en dat alles volgens goeie kliniese praktykreëls gedoen word.

Ek reis ook baie. Ek was onlangs in London aangaande 'n nuwe studie oor pediatriese gastroënteritis. Ek werk 40 - 50 uur per week en verdien 'n kompeterende salaris.

Watter raad sal jy vir studente wil gee oor hulle studies en loopbaanopsies?

Ek het die keuse gemaak om nie toe te laat dat die feit dat ek nie vir medies kon inkom, die res van my lewe negatief beïnvloed nie. Ons is almal spyt as ons dink aan dinge wat dalk anders kon wees. Maar dan staan jy op en doen wat gedoen moet word.

Vandag is ek deel van 'n baie groot masjien wat seker maak dat nuwe medikasie goedgekeur word en sodoende iemand se lewe kan red, of ten minste iemand se lewenskwaliteit kan verbeter.

As my ma nie gesterf het nie, sou ek dalk nie vandag gewees het waar ek nou is nie.

Ek wil studente aanraai om nie 'n BSc-graadprogram aan te pak sonder 'n definitiewe loopbaanplan nie. Doen jou navorsing oor loopbaanopsies en ondersoek die verskillende werksgeleenthede in jou beplande studieveld.

Dis maklik om in die strik te val van: "Ek het nie vir medies ingekom nie, so ek sal maar BSc swot en weer probeer." Die lewe werk nie so nie. Jy moet 'n tweede en derde, en self vierde alternatief hê vir ingeval alles nie volgens plan verloop nie.

Jou toekomsplanne?

Ek het onlangs verloof geraak, dus is dit nou net trouklokkies! Volgende op die lys is 'n MBA. Ek wil aan die besigheidskant van hierdie industrie eindig, waar ek die besluite kan neem.

Hoe het jy jou studielenings afbetaal?

Ek betaal steeds af en sal ook nog vir die volgende vier jaar! Maar as ek nie 'n lening aangegaan het nie ‒ eintlik meer as een ‒ sou ek in die eerste plek nie kon studeer nie; en dan sou die loopbaan wat ek tans het, nie eers 'n opsie kon wees nie.

Iets anders wat jy wil byvoeg?

Prof. Faadiel Essop, die voormalige hoof van Department Fisiologiese Wetenskappe aan die US. Ek sal nooit vergeet hoe ek in sy kantoor gesit het, desperaat oor my toekoms nie. Hy het my geïnspireer om my graad klaar te maak, om hard te werk vir wat ek wil hê en om nooit moed op te gee na teleurstellings nie. Tot vandag is hy 'n referent op my CV.

Vir meer inligting oor 'n loopbaan as kliniese navorsingsgenoot, gaan na http://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC3275991/