Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gebaretaal-verwante kursusse help onderwysers van Dowe studente met nuwe kurrikulum
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 26/07/2016

Verlede jaar is die eerste Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) kurrikulum nasionaal in Suid-Afrika uitgerol nadat dit eers as 'n loodsprojek by die De la Bat Skool vir Dowes in Worcester vanaf 2011 tot 2013 geloods is. Nou, danksy drie kort kursusse van die Departement Algemene Taalwetenskap wat fokus op taalonderwysers, insluitend gebaretaal-onderwysers, sal diegene wat hierdie kurrikulum moet implementeer ook die nodige vaardighede hê om dit effektief te doen.

Volgens dr Frenette Southwood van die Departement Algemene Taalwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US) bied die departement sedert die begin van 2015 die Grondbeginsels van die Taalwetenskap-, Gebaretaal-linguistiek- en Literatuur van SAGT-kortkursusse vir onderwysers van Dowe leerders aan.

"Suid-Afrikaanse Gebaretaal word nou net soos Engels en Afrikaans deur die Departement van Onderwys as 'n eerste taal erken en word ook nou in skole onderrig," sê Southwood. Die US is een van drie akademiese instansies in Suid-Afrika wat hierdie tipe kursusse aanbied.

"Die kursusse is bedoel vir taalonderwysers wat nie 'n voldoende agtergrond in linguistiek of literatuur het nie en help hierdie onderwysers om op 'n optimale manier met die kurrikulum wat hulle moet onderrig om te gaan."

Die drie kursusse is geskep nadat die departement in Junie 2015 die eerste intensiewe vyfdae Grondbeginsels van die Taalwetenskap-kursus vir 31 onderwysers van Dowe leerders en personeel van die Wes-Kaapse Onderwys Departement (WKOD) aangebied het.

Volgens me Minna Steyn van die WKOD, wat ook die projekbestuurder van die loodsprojek by De la Bat was, is onderwysers in die Wes-Kaap in 2013 met basiese opleiding deur die WKOD voorsien om die nuwe kurrikulum te implementeer. 'n Jaar later is opleiding op nasionale vlak gedoen.

"Tydens die opleiding op nasionale vlak, het ons besef daar is nie genoeg opleiding wat fokus op literatuur en poësie nie alhoewel dit deel is van die nuwe kurrikulum. Die idee was dus om onderwysers en onderwys-assistente te wys hoe om gebaretaal-poësie en -literatuur te onderrig. Ek wou dus graag vir ons onderwysers wat Dowe leerders onderrig meer indiepte opleiding bied en het toe met die Departement Algemene Taalwetenskap begin praat oor die moontlikhede. Daarna is ETDP-SETA genader om befondsing vir 30 studente te soek om opleiding by die Universiteit Stellenbosch te doen," vertel Steyn.

Steyn is vir die afgelope drie dekades betrokke by die opvoeding van Dowe persone en was die hoof van die Thiboloha Skool vir Dowes en Blindes in Qwaqwa in die Vrystaat voor sy na De la Bat gesekondeer is vir die loodsing van die SAGT kurrikulum. Sy het ook haar MA in Desember 2015 by die US se Departement Algemene Taalwetenskap verwerf en het spesifiek op taal- en geletterdheidswerwing van Dowe Grondslagfase-leerders in haar tesis gefokus. In 'n verslag van die WKOD in 2015 het sy oor die implementering van SAGT as 'n eerste taal gesê: "Dowe kinders wat in horende families gebore word, het nie die voorreg om taal vanaf hul geboorte op 'n natuurlike manier te leer nie. Dit is eers wanneer hulle skool toe gaan dat 'n Dowe kind aan Dowe volwassenes en vriende blootgestel word en dat hulle gebaretaal aanleer. Suid-Afrikaanse Gebaretaal is die eerste taal van Dowe persone in Suid-Afrika en is gelykstaande aan enige gesproke taal. Dit is wetenskaplik bewys dat voor 'n addisionele eerste taal bemeester kan word, die kind se moedertaal ferm gevestig en in plek moet wees."

Tydens haar tyd by De la Bat het sy opgelet hoe Dowe leerders in die voorskoolse klasse meer begin deelneem aan lesse omdat hulle nou die voldoende Gebaretaalwoordeskat het om makliker deel te kan neem danksy hierdie loodsprojek. Vantevore is gebaar-ondersteunde Afrikaans of gebaar-ondersteunde Engels (dit is gesproke tale wat woord vir woord in gebare omgesit is, waarvan sommige kunsmatige, nie-SAGT-gebare was) as taal van leer en onderrig in skole vir Dowes gebruik. Dit het leerders ontneem aan blootstelling aan SAGT in die klaskamer. Met die uitrol van die SAGT-kurrikulum word SAGT ook as taal van leer en onderrig in skole vir Dowes geïmplementeer, reeds in die voorskoolse klasse. Dowe leerders se SAGT-vaardighede word dus nou van vroegs af verbeter en hulle het die geleentheid om hul skoolopleiding in 'n natuurlike taal te ontvang.

Die kursusse van die Departement Algemene Wetenskap akkommodeer 30  persone op 'n slag wat die Grondbeginsels- en Gebaretaal-linguistiek-kursusse oor ses weke voltooi, met een week van lesings wat op kampus gedoen word, en die res deur middel van gerigte selfstudie en afstandsonderrig. Die kursus oor Literatuur van Suid-Afrikaanse Gebaretaal loop oor twee dae en bestaan uit  lesings wat op die US-kampus aangebied word. Volgens Southwood is die doel van die opleiding om onderwysers se kennis oor taal en gebaretaal as 'n taal op te skerp sodat hulle beter taalonderwysers kan wees.

"Dit is nie 'n sektor wat baie aandag in die verlede gekry het nie en die kwaliteit van onderrig is dus nie op standaard nie. Daar is ook sommige onderwysers wat nie gebaretaal vlot kan gebruik nie maar wat moet klasgee in gebaretaal.

"So behalwe dat onderwysers se gebaretaalvaardighede verhoog moet word, moet hulle ook kennis hê van hierdie eerste taal van hul leerders sodat 'n onderwyser byvoorbeeld beter vir hul gebaretaalgebruikende leerders Engels of Afrikaans as geletterdheidstaal kan aanleer. Met hierdie kursusse help ons onderwysers om laasgenoemde te doen deur hulle te help verstaan wat taal is, hoe dit werk en hoe dit aangeleer word. Ons kursussse dek konsepte soos die aard, funksie en struktuur van menslike taal, hoe menslike tale gebruik en verstaan word, hoe dit geprosesseer en geproduseer word, en hoe dit op gebaretaal van toepassing is."

Steyn glo dat die kursusse nie net sal lei tot beter toegeruste SAGT-onderwysers nie, maar ook die profiel en sigbaarheid van gebaretaal sal verhoog.

"Suid-Afrikaanse Gebaretaal is 'n gestigmatiseerde taal, met reëls en beginsels soos enige ander taal. Dit help dus die beeld van die taal as akademiese instansies soos Universiteit Stellenbosch kursusse daaroor aanbied."

Steyn het self ook die drie kursusse voltooi om 'n beter idee te kry van die tipe opleiding wat onderwysers deur middel van die kursusse ontvang het.  

"Daar is geen ander manier om dit beskryf nie, as om te sê  dit is vir my regtig wonderlik om te dink dat onderwysers nou bemagtig is om hierdie kurrikulum te kan implementeer met die kundigheid wat hulle ook nou by die US ontvang het."

Dusver het altesaam 61 onderwysers in Junie tot Oktober 2015 die drie kursusse voltooi, met 'n verdere 36 wat opleiding in April 2016 begin het. 

Steyn moedig nou ook ander provinsies aan om dieselfde samewerkings met plaaslike universiteite in hul omgewing op te bou en te verseker dat onderwysers so bemagtig word.

Vir Southwood en haar kollegas bied hierdie samewerking met die WKOD ook baie ander opwindende geleenthede vir die opleiding van studente aan die US.

"Ons departement is baie bly om deel te kan wees hiervan. Gebaretaal-linguistiek is nou 'n afdeling van ons tweedejaarmodule in Algemene Taalwetenskap en ons sal dit volgende jaar ook aanbied as 'n derdejaarsmodule. Ons beplan ook om in 2017 vir studente Gebaretaalwerwing as 'n vak aan te bied. Ons is dus nie net besig om bestaande onderwysers se kundigheid te verstewig nie, maar ook om 'n nuwe generasie van studente voor te berei om hulself as onderwysers vir Dowe leerders te bekwaam."

Vir Steyn is die wyer impak van die projek wat hulle in 2011 aangepak het die mees belangrike resultaat van 'n jarelange doelwit om SAGT as 'n volwaardige taal te herken.

"Die Dowe kind kry nou die tipe onderrig wat hulle akademies voorberei. My droom is om SAGT in ons hoofstroom skole as 'n vak te hê en dat horende persone ook die geleentheid gegee kan word om gebaretaal te leer."

Foto: Nege Dowe studente (waarvan sewe onderwysers van Dowe leerders is) het in Maart  die Grondbeginsels van die Taalwetenskap-, Gebaretaal-linguistiek- en Literatuur van SAGT -kursusse voltooi en 'n sertifikaat van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Mnr Christopher Dontsa (vierde van links) het al drie kursusse voltooi. Voor van links is prof Johan Oosthuizen, me Annette Humphrey-Heyns, Nodumo Same, Christopher Dontsa, Phumla Mosia, Ncumisa Loliwe, Andiswa Fayindlala, Lazya le Roux, en dr Frenette Southwood. Agter is Christoffer Galada en Simon Ndaba.