Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente maak insiggewende voorstelle oor verkragtingskultuur
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 01/08/2016

Studente het Donderdag (28/07) met die Taakspan oor Verkragtingskultuur vergader om idees en gedagtes oor verkragtingskultuur by Universiteit Stellenbosch uit te ruil en te bespreek.

Tydens die gesprek het studente hul kommer en algemene frustrasies uitgelig. Me Zetu
Makamandela-Mguqulwa het die gesprek gefasiliteer.

"Ons land moet kan aanbeweeg en ons moet hierdie gesprekke hê. Julle moet vir ons sê wat julle nodig het,"het Me Makamandela-Mguqulwa gesê.

Studente het onder meer voorstelle gemaak oor hoe klein gedragsveranderinge op kampus en in koshuise sal bydra dat studente nie geteister of geviktimiseerd voel nie. Hierdie voorstelle sluit in geslagsgelykheid, toegangklikheid van dienste aan slagoffers van seksuele misdrywe sowel as opvoedkundige sessies aan nuwe studente oor hoe gedrag verkragtingskultuur kan perpetueer.

"Dit is nié moontlik om kultuur oornag te verander nie. Ons werk almal daaraan om kwessies op ons  kampusse aan te spreek en het reeds baie vordering gemaak. Ons kan julle ook verseker dat studente ernstig in  hierdie gesprekke opgeneem word," sê dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake en Voorsitter van die Taakspan.

Die Rektor se Bestuurspan het vroeër vanjaar die taakspan aangewys om verkragtingskultuur te ondersoek.  Die Taakspan het vir die eerste keer in Maart vanjaar vergader om vas te stel tot watter mate verkragtingskultuur by die Universiteit bestaan. Sedertdien het die Taakspan reeds ver gevorder met die uitwys van praktyke wat verkragtingskuluur perpetueer, en ook idees bespreek hoe om hierdie praktyke uit te wis.

'n Webblad vir verkragtingskultuur is geskep en die Taakspan verwelkom enige terugvoer op die blad. (Klik hier vir die webblad oor verkragtingskultuur.) Die Taakspan sal ook eersdaags 'n meningspeiling uitstuur om terugvoer van die breër studente gemeenskap te verkry. Die e-pos adres om terugvoer aan die Taakspan te verskaf is: ttrc@sun.ac.za