Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe US Taalbeleid bevorder toegang en meertaligheid
Outeur: US Raad / SU Council
Gepubliseer: 27/06/2016

Verklaring deur mnr George Steyn, Raadsvoorsitter van die Universiteit Stellenbosch

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag (22 Junie 2016) die voorgestelde nuwe Taalbeleid met die Senaat se aanbevole wysigings aanvaar. Die Senaat het die Taalbeleid op 9 Junie 2016 met ’n groot meerderheid van stemme (113 ten gunste en 10 daarteen) goedgekeur. Volgens die Wet op Hoër Onderwys en die Statuut van die Universiteit Stellenbosch is die Taalbeleid die enigste beleid wat die Raad met die instemming van die Senaat moet goedkeur. 

Met die goedkeuring van die voorgestelde nuwe Taalbeleid sê die Raad sy onomwonde steun aan meertaligheid toe, sonder om studente uit te sluit wat nie in Afrikaans óf Engels vaardig is nie. Die beleid berus op die beginsels dat die Universiteit se onderrigtale toegang en akademiese sukses moet bevorder, en dat die instelling se taalbeleid sy akademiese projek moet dien. Die beleid maak uitdruklik voorsiening vir studente wat verkies om in Afrikaans te studeer, terwyl dit ook beter toegang tot onderrig bied aan studente wat slegs Engelsvaardig is. 

Volgens mnr George Steyn, Voorsitter van die Raad, het lede spesifiek hulle sterk steun uitgespreek vir die meertalige konteks wat in die nuwe beleid vervat is. “Die hersiene Taalbeleid erken die US as ’n nasionale bate en herbevestig ons toewyding aan die gebruikers van Afrikaans, Engels en isiXhosa, synde die drie amptelike tale van die Wes-Kaap,” het mnr Steyn gesê. Die instelling gebruik sy tale van keuse om te verseker dat geen student of personeellid van aktiewe deelname aan sy werksaamhede uitgesluit word nie.

Die Taalbeleid maak ook voorsiening vir meganismes vir akademiese toesig, doeltreffende bestuur en goeie beheer wat taalimplementering betref, binne ’n raamwerk wat fakulteite in staat stel om pasgemaakte taalimplementeringsplanne te ontwikkel, asook meganismes vir verantwoording en verslagdoening aan die tersaaklike strukture.  

Die beleid bevestig dat die US daartoe verbind is om in ’n diverse samelewing met kennis om te gaan. Dit gee uitvoering aan die Grondwet van Suid-Afrika wat taalgebruik in die Universiteit se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste betref, en bevorder ook die instelling se eie visie om inklusief, innoverend en toekomsgerig te wees.

In reaksie op mediaberigte oor lede wat die Raadsvergadering verlaat het, het mnr Steyn gesê:

“Dit is betreurenswaardig dat sommige raadslede die vergadering summier ná die aanvaarding van die Taalbeleid verlaat het, hoewel verskeie ander agendapunte van breë institusionele belang nog moes dien. Verder het ek met spyt gedurende die vergadering mnr Jannie van der Westhuizen se onmiddellike bedanking ontvang. Dit is jammer, want as ’n Raad waardeer ons juis verskillende menings, maar ons respekteer meerderheidsbesluite.”

Klik hier om die nuwe Taalbeleid te lees.