Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
uMAMA, Rickus Cronje, Student, Stellenbosch, PGIO, SPL
Matie-student se ervaring by die tweede Chicago Forum vir globale stede
Outeur: Urban Modelling and Metabolism Assessment, School of Public Leadership, Centre for Complex Systems in Transition
Gepubliseer: 21/06/2016

Die Matie-student George Frederick (Rickus) Cronje het baie opgewonde teruggekeer van die ontmoeting met wêreldleiers by die Chicago Forum vir globale stede wat van 1 tot 3 Junie 2016 in Chicago, VSA, gehou is.

Die kongres was ʼn samekoms van wêreldleiers op die gebied van besigheid, onderwys, kultuur en burgerleer. Onderwerpe is in die vorm van paneelbesprekings bespreek, waarin verskeie wêreldstede verteenwoordig is. Die paneelbesprekings is behendig deur Financial Times-joernaliste gemodereer en het gewissel van onderwerpe soos vervoer-hubs, kulturele erfenis, veiligheidsbedreigings en inklusiwiteit tot ontwrigtende tegnologieë, klimaatsverandering en talle meer. Toegang tot alle paneelbesprekings kan gratis aanlyn verkry word by: https://www.chicagoforum.org/videos/2016

Rickus het by die kongres as ʼn verteenwoordiger van die Universiteit Stellenbosch opgetree en deel gevorm van die studente-afvaardiging. Die studente-afvaardiging het bestaan uit 28 studente van 21 lande, en hy was die enigste Afrika-student.​

Volgens Rickus was sy gesprek met Claudio Orrego, goewerneur van die metropolitaanse streek Santiago, Chili, ʼn groot ervaring wat stof tot nadenke gebied het. Claudio het beklemtoon dat ons "in hoëgehalte-infrastruktuur in die armste gemeenskappe van stede moet belê as ons geweld in stede wil verminder. Volgens hom bou ons sosiale krotbuurte, en dan wonder ons hoekom daar geweld is".

Claudio se redenering hou sterk verband met Rickus se meestersgraadnavorsing, met die titel: A business case for renewable energy technology leapfrogging in informal settlements, onder studieleiding van dr. Josephine Kaviti Musango by die Skool vir Publieke Leierskap en medestudieleiding van Imke de Kock by Bedryfsingenieurswese. Sy meestersgraadstudie is deel van "urban Modelling and Metabolism Assessment" (uMAMA – www.umama-africa.com), ʼn navorsingspan in die Sentrum vir Komplekse Sisteme in Oorgang, moet die doel om met verskillende belanghebbendes, van stadsbeplanners en besluitnemers tot akademici en die burgerlike saamlewing, te skakel in die gesamentlike skepping van volhoubare stede en gemeenskappe. Gemeenskapsontwikkeling lê Rickus na aan die hart en hy wil graag sy nuut gevonde perspektiewe gebruik om ʼn katalisator vir verandering in onderbediende gemeenskappe te word. ​

Rickus se benoeming en keuring om aan die tweede Chicago Forum vir globale stede deel te neem, was afkomstig van die Nagraadse en Internasionale Kantoor en die Skool vir Publieke Leierskap.​


 

Chicago Students.jpg