Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voedselwetenskap-studente mik hoog met voedsame groente-sjokoladesmeer
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 30/05/2016

​'n Sjokolade-toebroodjie volgepak met soetpatat en boontjies klink na die perfekte manier waarop ouers meer groente by hul kinders se voedsel kan insmokkel. Voedselwetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch hoop ook dat dié voedsame smeer genaamd S 'coolBeans aan hulle 'n prys sal besorg by ʼn internasionale produkontwikkelingskompetisie vir studente.

S'coolBeans is ʼn laekoste sjokolade- en haselneutgegeurde toebroodjiesmeer. Dit word vervaardig van gefermenteerde suikerbone en soetpatat. Dit is genomineer as ʼn finalis in die internasionale Vereniging vir Voedselwetenskap en Tegnologie (IUFoST) se produkontwikkelingskompetisie Food Science Students Fighting Hunger. Die kompetisie moedig voorgraadse studente aan om hul kennis en vaardighede aan te wend om innoverende voedselprodukte te ontwikkel waardeur hongersnood bestry kan word. Die wenners word tydens IUFoST se 18de Wêreldkongres vir Voedselwetenskap en Tegnologie aangekondig. Dit word van 21 tot 25 Augustus 2016 in Dublin, Ierland gehou.

S'coolBeans is in 2015 ontwikkel deur Cenette Bezuidenhout, Carin-Marie Engelbrecht, Nicholas Grobbelaar, Taryn Harding, Shannon Howell en Megan Kleyn, as deel van die produkontwikkelingsmodule in hul finale jaar as BSc Voedselwetenskap-studente. Cenette, Shannon en Megan studeer vanjaar verder as meestersgraadstudente aan Universiteit Stellenbosch, terwyl Carin-Marie, Nicholas en Taryn reeds in die bedryf begin werk het.

Volgens Cenette Bezuidenhout is S'coolBeans meer as net ʼn manier om groente stilletjies in te smokkel in ʼn smaaklike toebroodjiesmeer vir kinders. Dit bevat baie proteïen, asook die nodige vitamines en minerale wat belangrik is in die groei en ontwikkeling van kinders. Dis veral geskik vir kinders wat uit lae-inkomste omgewings kom. Sy glo daarom dat dit baie gepas kan wees vir gebruik deur byvoorbeeld skoolvoedingskemas.

"S'coolBeans verskaf nie net ʼn bekostigbare oplossing om honger te bestry nie, maar inkorporeer drie van die huidige wêreldwye voedselneigings, soos nuwe gebruike vir vrugte en groente, meer prominensie vir proteïen en goeie vette, sowel as koolhidrate," voeg sy by.

Die produk is nog nie op die rakke nie. Die span werk tans saam met Innovus, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch, om dit verder te ontwikkel. Hulle hoop om sodoende die oog van 'n vervaardiger te vang wat sou belang stel om S'coolBeans te bemark en beskikbaar te stel aan skoolvoedingskemas.

Navrae kan gerig word aan: info@innovus.co.za .

Facebookblad: S'cool Beans