Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee studente van Letterefakulteit gekies vir gesogte SA-Washington-leierskapsprogram
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 26/05/2016

Busiswa Sobahle en Shane Sass is dringend op soek na finansiering om hulle leierskapsvaardighede verder te slyp en tot Suid-Afrika se toekoms by te dra, al moes hulle reeds verskeie struikelblokke in die strewe na hulle drome te bowe kom.

Twee studente wat tans voorgraads aan die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US) studeer, is onlangs gekies om deel te neem aan 'n gesogte internasionale leierskapsprogram "om 'n nuwe geslag etiese, diensbare leiers in Suid-Afrika te inspireer, te ontwikkel en te ondersteun".

Busiswa Sobahle van Gugulethu en Shane Sass van Kuilsrivier sal deel uitmaak van 20 studente uit Suid-Afrika, en altesaam vyf van die US, wat op 12 Junie na Washington DC in die Verenigde State sal vertrek, waar hulle ses weke lank professionele blootstelling aan verskeie leiers sal ontvang en 'n intense leierskapsleerplan sal voltooi.

Shane en Busiswa is tans onderskeidelik besig met hulle derde en finale jaar van die BA-graad in Internasionale Studie via die Verlengde Graadprogram (VGP).

Die Suid-Afrika-Washington Internasionale Program (SAWIP) is 'n inisiatief van die Washington-Ierland-program vir Diens en Leierskap (WIP), wat die afgelope 20 jaar reeds die volgende geslag leiers in Ierland ná dekades se gewelddadige konflik help ontwikkel.

"Meer as 400 universiteitstudente van sowel Noord- as Suid-Ierland het die WIP suksesvol voltooi, en baie van hulle maak nou deel uit van 'n ontluikende geslag leiers wat hulle plek op verskillende vlakke in die regering en die samelewing begin vol staan," sê me Sally Currin, uitvoerende bedryfshoof van SAWIP.

Sedertdien konsentreer SAWIP op die ontwikkeling van ontluikende leiers wat hulle daadwerklik vir maatskaplike en ekonomiese transformasie, geregtigheid en 'n volhoubare demokrasie vir alle Suid-Afrikaanse burgers sal beywer. Die SAWIP-beskermhere is emeritusaartsbiskop Desmond Tutu en die wêreldbekende scenariobeplanner mnr Clem Sunter.

Altesaam 123 studente in Suid-Afrika het reeds die program, wat amptelik deur die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en die Amerikaanse regering onderskryf word, voltooi.

Buiten die Washington-gedeelte van hulle opleiding, sal Busiswa en Shane 'n sewe maande lange program volg wat 'n reeks formele en informele ontwikkelingsessies en twee gemeenskapsdienskomponente insluit, gevolg deur verdere ontwikkeling en betrokkenheid by SAWIP deur sy alumni-netwerk.

Nou konsentreer die twee studente egter eers daarop om die R9 000 elk bymekaar te maak wat hulle nodig het om die besoek aan Washington mee te maak.

"Dit is werklik belangrik vir ons om aan die program deel te neem. Nie net sal ons baat vind by 'n leierskapsleerplan wat op 'n ander beskouing gegrond is as ons eie idees van leierskap in Suid-Afrika nie, maar ons sal ook blootgestel word aan beroepe en diegene ín beroepe wat ons graag eendag self wil beoefen, en sal boonop die geleentheid ontvang om met leiers op alle lewensterreine te skakel," verduidelik hulle.

As 'n mens luister na die dikwels opdraande pad wat albei hierdie studente moes stap om studenteleiers aan die US te word, kan 'n mens kwalik glo Busiswa is nou ondervoorsitter van Huis Russel Botman, en Shane die Metanoia-huiskomiteelid vir kritiese skakeling en studenteontwikkeling sowel as die koördineerder van die Metanoia-leierskapskursus by die US se Frederik van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling. Laasgenoemde kursus word in die eerste semester van die jaar vir eerstejaars by Metanoia aangebied en het die FVZS Instituut geïnspireer om hulle eie kursus vir alle US-studente te ontwikkel.

Toe hulle aanvanklik in 2013 by die Universiteit aangekom het, is Busiswa en Shane albei in die VGP geplaas omdat hulle matriekgemiddeldes van 57% nie aan die formele toegangsvereistes van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe voldoen het nie. "Die VGP, wat ingestel is om sistemiese hindernisse vir billikheid en studentesukses uit die weg te ruim, stel opvoedkundig en histories benadeelde studente in staat om hulle eerste akademiese jaar oor twee jaar te voltooi. In hierdie tyd het studente ook bykomende akademiese steunvakke wat nie vir hoofstroomstudente beskikbaar is nie," verduidelik me Anita Jonker, akademiese koördineerder van die VGP. "Busiswa en Shane is albei ywerige en vindingryke studente wat die bykomende akademiese steun wat die VGP bied, ten volle benut. Dit is fantasties dat hulle uiteindelik met die beste studente in die land kan meeding."

Hoewel albei studente kort voor lank bewus geword het van die ongegronde negatiewe opvattings oor die VGP, was hulle vasbeslote om op enige moontlike manier sukses te behaal ten einde hulle omstandighede te verbeter en te herbelê in die gemeenskappe waarvandaan hulle kom.

"Ek was tevrede daarmee om 'n VGP-student te wees, want ek het geweet ek's besig om die verloop van my lewe te verander. So, of dit nou drie of vyf jaar sou duur, dit was in die haak met my. As jy van 'n township af kom, is jy geneig om jouself onbewustelik aan bande te lê – jy dink nie aan waarheen jy op pad is en wat jy kan bereik nie. Ek het geweet iemand met my verwysingsraamwerk [met betrekking tot wat ek in die lewe kon bereik op grond van wat ek elke dag om my aanskou het] hoort nie na regte by die Universiteit Stellenbosch nie, maar ek was vasberade en toegewyd daaraan om my status quo te verander," verduidelik Busiswa.

"Ek was nogal opgewonde om universiteit toe te kom. Dit was op sigself 'n groot geleentheid en 'n voorreg, veral omdat ek 'n eerstegenerasie-universiteitstudent is. Ek was ook nie akademies baie sterk op hoërskool nie, so ek het getwyfel of ek enigsins toegelaat sou word. Daarom was ek baie opgewonde toe ek my toelatingsbrief kry," voeg Shane by.

Trouens, dit was uiteindelik 'n seën dat hy sy graad oor 'n langer tydperk kon voltooi, want dit het hom die geleentheid gebied om nóg 'n hindernis te bowe te kom – sy ernstige gehakkel. Hy het op laerskool begin hakkel nadat hy gespot is omdat hy mank loop as gevolg van 'n kindersiekte wat sy linkerbeen stadiger as die regterbeen laat groei het.

"As 'n eerstegenerasiestudent, was ek nogal bang toe ek die eerste keer by die Universiteit aankom. Dis 'n dinamiese omgewing waar jy moet byhou om suksesvol te wees. Toe ek hier aankom, het ek geweet ek wil 'n beter lewe lei en ook die ekonomiese en maatskaplike voordele van 'n gegradueerde geniet. Maar ek wou ook méér hê, so ek het vir myself die uitdaging gestel om by leierskap betrokke te raak. Dit is iets wat ek nooit op hoërskool sou gedoen het nie, want ek is 'n introvert. Ek het byvoorbeeld nooit mondeling gepraat nie en vir die onderwysers gesê ek het nie die punte nodig nie, want ek was gewoon te skaam oor my gehakkel."

Shane het ook besluit om 'n sielkundige by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling te gaan spreek en danksy haar ondersteuning, het hy heeltemal ophou hakkel. Hy is in 2014 as klasverteenwoordiger vir Besluitneming en Waardestudie aangewys, by die Metanoia-stemkomitee ingesluit, en het 'n lid van die Swartbestuursforum sowel as die Stellenbosse afdeling van die Verenigde Nasies-vereniging van Suid-Afrika (UNASA) geword. Teen 2015 het Shane die Ontluikende Maties-kursus aan die FVZS Instituut voltooi en is hy tot huiskomiteelid van Metanoia verkies. Hy was terselfdertyd 'n akademiese mentor en 'n lid van die koshuis se grondwet- en gemeenskapsinteraksiekomitee. Ten spyte van al sy verantwoordelikhede, het hy ook akademies uitgeblink en aan die einde van 2015 twee onderskeidings behaal.

"As ek 'n bedrywige akademiese rooster in drie studiejare moes inprop, sou ek nie dít alles kon doen en myself met méér as net 'n graad kon toerus nie," sê Shane.

"Ek het nooit destyds heeltemal verstaan waarom ek daagliks die gespot oor my hakkelprobleem moes verduur en waarom dit met my moes gebeur nie, maar ek besef nou dit het my voorberei om meer doelgerig te wees. Die leierskapsontwikkelingsgeleenthede en my ervarings as 'n individu het my toegerus vir enigiets wat ek in my lewe wil bereik. Dat ek gehakkel het en mank loop, het my eintlik gevorm en my 'n sterk karakter as individu gegee.

"My ouers het ook 'n groot rol gespeel, want hulle het oor die jare soveel vir my opgeoffer, al het hulle nie baie gehad om te gee nie, en my aangemoedig om my graad te behaal en daarná nagraads te studeer."

Busiswa deel sy siening oor die voltooiing van haar graad oor 'n langer tydperk. Sy het in haar eerste jaar reeds 'n verskeidenheid leierskapskursusse van die FVZS aangepak – Demokrasie en Aktiewe Burgerskap, Vroueleierskap, Leierskap deur Gemeenskapsinteraksie, en Fasiliterende Leierskap – en is later gekies om in 2014 en 2015 in 'n Luister-, Leef- en Leer- (LLL-)huis te woon en haar leierskapsvaardighede verder te slyp. Die LLL-inisiatief is beskikbaar vir 'n uitgesoekte klompie senior studente wat in 'n temahuis woon en met medestudente, 'n huisgids ('n personeellid met kennis van/belang by die tema) en genooide gaste oor kwessies soos geslagsgelykheid, volhoubaarheid, tegnologie en innovasie, etiese leierskap, en onderwys en die gemeenskap in gesprek tree.

As deel van haar graadprogram het Busiswa ook besluit om in haar eerste jaar Chinees te leer. Sy het so goed gevaar dat sy gekies is om in haar tweede studiejaar aan 'n uitruilprogram van die Universiteit van Xiamen in China vir die beste 15 studente deel te neem. Sy het ook haar derdejaarstudie in Chinees binne twee jaar voltooi.

As inwoner van Huis Russel Botman, het sy in 2015 gedien as studenteleier vir die grondwetportefeulje, en in 2016 ondervoorsitter van die huis en 'n fasiliteerder vir die eerstejaars se Verwelkomingsprogram geword. Sy behoort ook sedert 2014 tot die Golden Key- internasionale erevereniging, wat volgens Jonker "getuig van haar uitnemende akademiese resultate, haar leierskapsvaardighede en haar konstruktiewe benadering tot die lewe in die algemeen". Daarbenewens maak sy sedert 2014 'n verskil in die lewens van individue uit benadeelde gemeenskappe deur Media24 se mentorskapsprogram, Rachel's Angels.

Op die vraag oor wat hulle hoop om uit hulle deelname aan die Washington-afdeling van SAWIP te kry, sê Busiswa: "Ek dink wat ek uit SAWIP sal kry, is 'n hernude passie vir groter geregtigheid in Suid-Afrika. Dit sal my beslis met die nodige kennis en vaardighede bemagtig en toerus om kwessies van maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika die hoof te bied of te hanteer. Dit sal my 'n meer volledige en ingeligte begrip bied van hoe ons die uitdagings van transformasie benader, want as ons tans in Suid-Afrika van transformasie praat, vergeet ons dikwels dat ons nie net van rassetransformasie praat nie, maar ook gender- en sosio-ekonomiese transformasie. Nadat ek SAWIP voltooi en my eerste kwalifikasie behaal het, wil ek beslis nagraads studeer, hetsy Internasionale Betrekkinge aan die US of Ontwikkeling- en Beleidstudie aan Wits-universiteit, want dit alles sal my uiteindelik help in my loopbaan as ekonomiese beleidsimplementeerder."

Op sy beurt sê Shane: "Hierdie geleentheid sal my ongetwyfeld my leierskapstyl en myself as individu help verbeter. Dit sal my ook anders help kyk na Suid-Afrika met al sy kompleksiteite en al sy ongeregtigheid uit die verlede, en my laat konsentreer op die skep van hoop en op ál ons potensiaal om te streef na die Suid-Afrika wat ons graag wil hê. My doel is om in die toekoms op die gebied van sosio-ekonomiese beleidsontwikkeling en -implementering te werk, so hopelik sal ek in Washington reeds met mense in daardie loopbaanrigtings te doen kry en by hulle kan leer, en dan daardie kundigheid terugbring Suid-Afrika toe om hier 'n bydrae te lewer."

Diegene wat Busiswa en Shane finansieel wil ondersteun, kan 'n bydrae inbetaal by SAWIP, Standard Bank, Brooklyn-takkode 051001 (vir elektroniese oorbetalings), rekeningnommer 137380917, en hulle volle naam en van as verwysingsbesonderhede gebruik. Vir meer inligting, bel me Sally Currin, uitvoerende bedryfshoof van SAWIP, gerus by 083 447 7909.

Foto: Busiswa Sobahle (links) en Shane Sass het die unieke geleentheid ontvang om aan die gesogte internasionale SA-Washington-leierskapsontwikkelingsprogram deel te neem, en vertrek in Junie na Washington DC in die Verenigde State om 'n deel van die program daar te voltooi. (Anton Jordaan, SSFD)