Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Studente toon solidariteit met Rhodes-studente
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 29/04/2016
Studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het gister (28 April) op die Rooiplein vergader om hul ervaringe van verkragtingskultuur met mekaar te deel en ook solidariteit te toon met hul medestudente op Rhodes Universiteit.

Sommige van die vroue was kaal bolyf met swart kleefband oor hul borste geplak, ander het onderklere aan gehad – meestal met plakkate in die hand wat sê "still not asking for it". Die klem was deurgaans op die feit dat vroue se liggame aan hulself behoort en dat húlle sal bepaal waar en wanneer hul klere uitgetrek word.

Van die ervaringe en menings wat gedeel is, sluit in dat verkragtingskultuur ʼn nasionale probleem is, dat  vrouestudente bang voel op kampus, Kampussekuriteit nie genoeg beskerming bied nie of nie voldoende opgelei is om voorvalle te hanteer nie en dat die ondersteuning wat op kampus  aan slagoffers van seksuele geweld gebied word, dikwels te kort skiet.

Een van die studente het vroue daarop gewys dat hulle soms hulself daaraan skuldig maak dat hulle slagoffers van verkragting blameer deur vrae te vra soos: "Wat het sy daardie tyd van die nag alleen daar gemaak?"

Studente het deurgaans ʼn  beroep op mekaar en personeel gedoen om introspeksie te doen en op te staan teen verkragtingskultuur.

US Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het vroeër vandeesmaand, ʼn pleidooi gelewer vir die Matie-gemeenskap om saam te staan om verkragtingskultuur stop te sit. In sy videoboodskap vra prof De Villiers Maties om op te staan vir sosiale geregtigheid.

"Kom ons werk saam om gemeenskappe te skep waar almal – mans en vroue – veilig voel en nie blootgestel word aan disrespek en geweldsmisdade nie. Ons kan dit doen as ons solidariteit toon met die kwessie. Hierdie is my pleidooi aan studente, personeel en die Universiteit in geheel. Kom ons neem standpunt in teen verkragting en geslagsmisdaad. Kom  ons neem standpunt in teen seksisme en die objektivikasie van vroue. Kom ons staan op vir sosiale geregtigheid."​