Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor praat oor verkragting, 'verkragtingskultuur' en kampusveiligheid
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 04/04/2016

Veiligheidsmaatreëls, wetgewing en dissiplinêre stappe kan dalk as afskrikmiddel dien vir die verkragting en aanranding van vroue, maar dit sal nie geslagsgeweld voorkom nie. ʼn 'Verkragtingskultuur' strek veel dieper as ʼn kriminele daad of regsaspekte. Dit weerspieël ʼn algemene kultuur van disrespek en die aanvaarding van die teistering van vroue as die norm, het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, in ʼn epos aan die kampusgemeenskap geskryf. Hy het ook ʼn beroep op alle Matie-mans gedoen om begrip te help ontwikkel dat respek vir vroue die verbale mishandeling, seksuele teistering, onvanpaste grappies en wolf-fluite uitsluit. Lees die volledige epos hier. 'n Afskrif volg hieronder.

* * * * *

Beste kollegas en studente

Die universiteitsgemeenskap het Saterdagoggend weereens wakker geword met die hartseer nuus van die aangemelde verkragting van een van ons vroue-studente. As ʼn gemeenskap is ons geskok en ontsteld oor die geslagsgeweld wat in ons samelewing voorkom. Sulke voorvalle los diep letsels en woorde kan nie die verontwaardiging teenoor die geweldenaars beskryf wat ons gemeenskappe bly terroriseer nie. As ʼn kampus, dorp en selfs ʼn nasionale gemeenskap moet ons selfs harder en meer gekoördineerd saamwerk om ʼn samelewing te skep waar vroue veilig kan voel en nie blootgestel word aan disrespek en geweldsmisdade nie. Ons dink met deernis aan ons student, haar familie en vriende, en ook haar mede-inwoners, en ons doen ʼn beroep op die kampusgemeenskap om hul privaatheid te respekteer.

KAMPUSVEILIGHEID

Die veiligheid van ons studente en personeel is een van ons grootste bekommernisse en etlike miljoene rande is reeds oor die afgelope paar jaar aan veiligheids- en sekuriteitsmaatreëls bestee, veral ná die skerp toename in gryproof in 2014. As ʼn instelling wil ons graag vir ons studente ʼn veilige en misdaadvrye universiteitsdorp bied om sorgeloos rond te beweeg, maar met die stygende misdaadstatistiek in ons land, is dit eenvoudig nie moontlik nie. Ondanks die talle inisiatiewe wat hieronder gelys word, bied ons oop kampus en voortdurend veranderende sekuriteitsituasie in die land, baie spesifieke uitdagings.

Oor die afgelope paar jare het die US:

  • die skryf van eksamens en toetse in die aande gestaak;
  • ʼn pendel​​busdiens op kampus en omliggende gebiede ingestel, asook ʼn saamstapdiens wat saans beskikbaar is;
  • die aantal wagte verdubbel wat die primêre roetes op kampus patrolleer;
  • voetgangerroetes verbeter;
  • ʼn uitgebreide straatkameranetwerk gevestig;
  • veiligheidskiosks op kampus aangebring;
  • die sigbaarheid van sekuriteitspersoneel, patrollievoertuie en -motorfietse verbeter;
  • begin om sekuriteitsones soos die Rooiplein te vestig waar ʼn toring met kameras en ligte toegerus is;
  • die gebruik van tegnologie, reaksiekapasiteit en bewusmakingsveldtogte vir studente en personeel verhoog; en
  • aktiewe vennootskappe met die SAPD, Stellenbosch-munisipaliteit en die groter sekuriteitsgemeenskap in die dorp gevestig. 

Ná 'n insident in Februarie vanjaar het die Universiteit weereens veiligheids- en sekuriteitsmaatreëls hersien en ons sal daarmee voortgaan. Wanneer ons 'n beroep op personeel en studente doen om bedag te wees op risiko's en om aksies te vermy wat hulle in gevaar kan stel, is die bedoeling nié om die kampusgemeenskap vir insidente te blameer nie. Met meer as 25 000 mense op ons Stellenbosch-kampus op meeste dae van die week, is dit nie moontlik om alle kriminele aktiwiteite uit te skakel nie. In Stellenbosch moet dieselfde veiligheidsmaatreëls as elders in die land toegepas word.

​VERKRAGTINGSKULTUUR

Die Universiteit Stellenbosch het van die mees uitgebreide sekuriteit- en vervoerstelsels om die veilige beweging van studente te verseker. Daar bestaan ʼn wanindruk dat sekuriteit geslagsgeweld en verkragting kan voorkom. Soos met dissiplinêre strukture, dien dit as afskrikmiddel, maar dit sal nie geslagsgeweld uitroei nie.

Die term verkragtingskultuur is die eerste keer in die 1970s internasionaal geïdentifiseer en beskryf. Dit word gedefinieer as verskeie dade wat seksuele geweld en viktimisering normaliseer op grond van die samelewing se ingesteldheid teenoor geslag en seksualiteit. Gedrag wat gewoonlik met ʼn verkragtingskultuur geassosieer word sluit in seksuele objektivering, blaam teenoor slagoffers, ʼn miskenning van die skade wat seksuele geweld berokken, of ʼn kombinasie hiervan. Dit moet ook gesien word in die konteks van uitdagings in die samelewing as ʼn geheel, in Suid-Afrika, maar ook internasionaal.

Die Rektor se Bestuurspan het aan die begin van Maart ʼn taakspan aangestel om dringend na verkragtingskultuur by die instelling te kyk en die nodige aanbevelings te maak. Bestaande teenmaatreëls by die US sluit in voortdurende aktiwiteite op ons verskillende kampusse om bewusmaking oor geslagskwessies en seksuele teistering te kweek. Sensitiwiteitsopleiding vir personeel en studente vind binne en buite koshuise plaas. Maar meer sistemiese intervensies is dalk nodig as teenvoeter vir gevestigde praktyke. Dit sal binne die werksomvang van die taakspan val om met aanbevelings vorendag te kom.

Die taakspan kan egter nie die psige van die samelewing verander nie. Alle Matie-mans is verantwoordelik om te help om ʼn kultuur van begrip te ontwikkel waarin respek vir vroue enige vorm van verbale mishandeling, seksuele teistering, onvanpaste grappies, 'catcalling' en wolf-fluite uitsluit. Kom ons almal behandel mekaar met respek.​

  • Vroue en mans wat seksueel geteister, mishandel of verkrag word, moenie skroom om voorvalle by die Universiteit se Krisisdiens (tel: 082 557 0880) of Kampusseku​​riteit (tel​: 021 808 2333; en 021 938 9507 vir die Tygerberg-kampus) aan te meld nie. Verkragting is ʼn kriminele oortreding en behoort ook by die naaste polisiekantoor aangemeld te word. Personeel en studente wat nie van bogenoemde rapporteringskanale gebruik wil maak nie, word aangemoedig voorvalle ten minste by die US se onafhanklike Etiekhulplyn aan te meld – anoniem, indien hulle so verkies, by tel. 0800 204 549 of e-pos sun@ethics-line.com. Klagtes kan ook by die Universiteit se Eenheid vir Gelykwaardigheid aangemeld word: unfair@sun.ac.za

Groete

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier