Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente bespreek verkragtingskultuur
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 29/03/2016

Nagenoeg 300 studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het Dinsdag 29 Maart 2016 oor die etensuur op die Rooiplein bymekaargekom om verkragtingskultuur te bespreek. ʼn Memorandum met eise is ook aan bestuursverteenwoordigers oorhandig.

Die byeenkoms is gereël deur studenteleiers en die Studenteraad. Studente het uiting gegee aan hul bekommernisse, klagtes en ervarings. Van die kwessies wat gelug is, sluit in Universiteitsaktiwiteite en koshuistradisies wat vroue objektiveer, die veiligheid van studente, hoe ondersteuningstrukture funksioneer en hoe verkragtingskultuur by die instelling hanteer word. Sprekers het verkragtingskultuur gedefinieer as vroue wat geobjektiveer, onveilig en geviktimiseer voel.

"Ja ons het 'n probleem aangesien verkragtingskultuur 'n probleem in Suid-Afrika is en nie net tot SU beperk is nie. Julle is reg, ons as 'n instelling moet meer doen hieroor," het dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur van Studentesake, tydens die byeenkoms gesê. Sy is voorsitter van 'n nuutgestigte taakspan wat geslagsgeweld aan die US ondersoek.

"Ons is trots daarop dat ons studente dié kwessies lug. Ons het nodig dat mans- en vrouestudente ʼn verskil maak – binne hul eie omgewing asook binne formele Universiteitstrukture."

Dr Schreiber het die studentememorandum ontvang, saam met me Nicolette van den Eijkel, Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur (wat Kampussekuriteit insluit), wat ook op die taakspan dien.

Verkragtingskultuur is vir die eerste keer in die 1970's internasionaal beskryf. Dit word gedefinieer as dade wat seksuele aggressie of viktimisering normaliseer weens die gemeenskap se houding teenoor geslag en seksualiteit. Gedrag wat met verkragtingskultuur geassosieer word, sluit in seksuele objektifisering, slagofferblaam en ʼn weiering om die trauma van seksuele geweld te erken.

Die US het vroeër gesê die instelling neem lank reeds ferm standpunt in teen alle vorme van seksuele misdrywe en geweld teen vroue. Aan die begin van Maart het die Rektor se Bestuurspan (RBS) 'n taakspan aangestel om dringend verkragtingskultuur by die instelling te ondersoek en met die nodige voorstelle vorendag te kom.

Verkragting is 'n ernstige kriminele oortreding wat onder die jurisdiksie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) val, en die Universiteit het gesê hy verskaf sy volle samewerking in alle kriminele ondersoeke. Tydens die byeenkoms op die Rooiplein is studente aangemoedig om verkragting en seksuele geweld aan te meld – by die owerhede en die Universiteit.

Die US het gesê seksuele wangedrag word ingevolge die Universiteit se Dissiplinêre Kode vir Studente en Seksuele Teisteringsbeleid (vir personeellede) hanteer. Die US se Afdeling Regsdienste ondersoek aantygings, en die US se Advieskomitee oor Seksuele Teistering hoor aangemelde sake aan en neem gepaste stappe.

Verkragtingskultuur strek egter verder as regtelike en dissiplinêre aspekte. Dit behels klagtes oor ʼn algemene kultuur van minagting en teistering van vrouestudente, en dat dit as normaal beskou word.

Volgens die US sluit die instelling se bestaande teenmaatreëls bewusmaking oor geslagskwessies en seksuele teistering in. Gesprekke en opleidingsessies vir personeellede en studente vind in koshuisverband en daarbuite plaas. Maar die US gee toe dat meer stelselmatige ingryping benodig word om gevestigde wanpraktyke teë te werk. Die Taakspan sal aanbevelings hieroor maak.

Die US het gesê berading en ondersteuning word gebied aan studente wat hulp benodig weens seksuele wangedrag. Die US se Kampusgesondheidsdiens, Kampussekuriteit, die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling, en die Eenheid vir Gelykwaardigheid is daar om te help, en daar is ook ʼn 24-uur Krisisdiens vir studente wat dringend bystand benodig – by telefoonnommer 082 557 0880.

Een van die eise in die memorandum is dat die Universiteit ontslae raak van gekontrakteerde veiligheidsbeamptes wat van seksuele teistering beskuldig word. Die US het by navraag gesê daar word van eksterne diensverskaffers verwag word om die waardes van gelykwaardigheid, respek en mensewaardigheid te onderskryf en toe te pas. Daar word ook van hulle verwag om geen diskriminasie te duld nie. Die gedrag van eksterne diensverskaffers word gemonitor en aangespreek indien nodig. In dié verband kan studente en personeel klagtes (anoniem, indien hulle dit so verkies) aanmeld by die Universiteit se Eenheid vir Gelykwaardigheid per epos aan unfair@sun.ac.za.

Die bestuur het gesê die memorandum sal bestudeer word, en daar sal so gou moontlik gereageer word.