In die sewentigerjare was hulle klasmaats in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en vandag lei hulle internasionale teologiese vakorganisasies.
Profs Johann Cook van die Departement Antieke Studie en Johan Cilliers van die Dissiplinegroep Praktiese Teologie en Missiologie aan die US het in 1979 saam gegradueer en is vandag onderskeidelik die presidente van die International Organization for the Study of the Old Testament (IOSOT) - die grootste Ou-Testamentiese organisasie ter wêreld - en Societas Homelitica. Cook is in 2013 verkies en Cilliers in 2014. Beide se termynne verstryk hierdie jaar.
Cilliers het by die onlangse Societas Homelitica-konferensie op Stellenbosch die presidensiële gelewer. Dit was die eerste keer dat die konferensie in Afrika gehou is. Soos Cilliers, sal Cook ook die presidensiële lewer by die IOSOT-konferensie wat vanaf 4-9 September by die US plaasvind. Te danke aan Cook sal die IOSOT-konferensie die eerste keer in Afrika gehou word en slegs die tweede keer buite Europa.
Beide Cook en Cilliers sê hulle geniet die samewerking met kollegas van regoor die wêreld en beskou dit as ʼn eer om hul onderskeie organisasies te lei.
Cilliers sê hy is gelukkig om ʼn bekwame span te hê wat hom help om die administratiewe uitdagings van sy pos die hoof te bied.
Prof Louis Jonker van die dissiplinegroep Ou en Nuwe Testament in die Fakulteit Teologie sal as konferensiesekretaris van IOSOT 2016 dien.
- Foto: Profs Johann Cook (links) en Johan Cilliers