Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Beelde en simbole: skep van ‘n verwelkomende kultuur
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 10/03/2016

Die Universiteit Stellenbosch erken dat visuele simbole verskillende emosies en ervarings by mense oproep, veral in ʼn gediversifiseerde en histories verdeelde land soos Suid-Afrika.

In beginsel moet ʼn historiese interpretasie gemaak word van standbeelde, simbole en ander visuele uitbeeldings van historiese figure wat hul konteks in ag neem.

Dit is die mening van die US-Bestuur in die lig van protesaksie waarin geëis word vir ʼn ondersoek na historiese standbeelde en simbole by die Universiteit – in die besonder die verwydering van die standbeeld van Johannes Henoch (Jan) Marais van die Rooiplein. Die Universiteit erken die spesifieke bydrae van JH Marais in 1915 wat die stigting van die Universiteit moontlik gemaak het.

Vordering is oor die laaste paar jaar gemaak om studente- en personeel-vriendelike leef- en werkruimtes te skep wat voldoen aan die behoeftes van ʼn diverse groep studente, personeel en ander belanghebbers, en wat 'n verwelkomende kampuskultuur bevorder.

Daarmee saam het die Universiteit ʼn daadwerklike poging aangewend om ruimtes vir dialoog oor openbare simbole en historiese figure te skep. Daarbenewens, is daar spesifieke komitees in plek om ʼn universiteitswye gesprek en benadering oor openbare simbole en die name van geboue te fasiliteer.