Die Maties Opedag word is die ideale geleentheid vir Graad 11 en 12-leerders om waardevolle inligting te bekom oor studie by hoëronderwysinstellings.
Die Universiteit Stellenbosch (US) Opedag – by die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse – word op Saterdag 27 Februarie gehou. Dié Opedag begin om 08:30 en duur tot 16:00.
Besoekers kan hulself toerus met inligting oor universiteitstudies oor die algemeen, beroepskeuses, beurse en lenings, klasgelde, koshuisplasings, sportgeleenthede, akkomodasie, studente verenigings en studente lewe
"Wat die Opedag so spesiaal maak is dat voornemende studente en hul ouers direk met fakulteitspersoneel en verteenwoordigers van steundienste kan gesels om presies op hoogte te kom van wat die onderskeie studierigtings behels en die ondersteuning wat die Universiteit aan sy studente bied," sê me Magdel Pretorius, projekkoördineerder en adviseur by die US se Sentrum vir Studentewerwing (SSW).
Beroepsvoorligting
Die Universiteit bied ook toegang tot ʼn gratis loopbaanvoorligting vraelys, beskikbaar by gostudy.net/maties. Dié vraelys identifiseer beroeps- en belangstellingsvelde en koppel dit dan aan onderskeie beroepe en studiegeleenthede.
"Nog ʼn baie innoverende program is die Course Chooser, ook beskikbaar by gostudy.net/maties, wat jou kan help om programme te vind waarvoor jy kwalifiseer gebaseer op jou Graad 11 of 12 vakke en punte. Dan het jy ʼn baie goeie idee met wie jy moet kom gesels by die Opedag," sê Pretorius.
"Die US bied ook loopbaanvoorligting aan graad 11- en 12-leerders. Hierdie diens behels ʼn psigometriese assessering van persoonlikheid, aanleg en belangstellings, individuele gespreksessie, asook ʼn geskrewe verslag van die resultate en aanbevelings."
Vir besprekings, skakel *120*1536# van jou selfoon en volg die instruksies.
Inligtingsessies
ʼn Goeie beginpunt vir die Opedag is die verwelkomingstent voor die US se Konservatorium in Victoriastraat. Hier kan leerders en hul ouers volledige inligting oor die program en inligtingsessies kry. ʼn Kampuskaart, sowel as bussies om besoekers na en van die lokale te vervoer is ook hier beskikbaar.
Kyk ook uit vir verskeie inligtingsbeamptes in maroen T-hemde wat by verskillende punte op kampus diens sal doen om inligting en rigtingaanwysings te verskaf.
Leerders en hul ouers kan tydens die Opedag verskeie inligtingsessies bywoon vir onder meer aansoek om toelating in 2017. Hulle kan ook die verskillende fakulteite besoek vir meer inligting oor spesifieke kursusse. Diegene wat in sport belangstel, kan na die grasperk langs die Rooiplein gaan en meer uitvind oor Maties Sport.
Verskeie ander opvoedkundige instansies stal ook by die Maties Opedag uit. Dit sluit in Isa Carstens Academy; Stellenbosch Hair Academy; Stellenbosch Academy for Design and Photography; Stellenbosch Rugbyakademie; Boland Kollege; The Private Hotel School; ICA en Aleit Academy; CTU en The Hurst Campus.
Tygerberg-kampus
Pendelbussies ry van die Stellenbosch-kampus na die Tygerbergkampus en terug vir leerders en hul ouers wat albei kampusse wil besoek – besprekings hiervoor is egter noodsaaklik.4