Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tydelike skorsing van US-studente in beweerde “blackface”-insident opgehef
Outeur: Corporate Marketing
Gepubliseer: 12/02/2016

Die tydelike skorsing van twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US) se Heemstede Vrouekoshuis betrokke by ʼn beweerde "blackface"-voorval op Vrydag 4 Februarie, is opgehef.

Dít was die aanbeveling van die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid na ʼn uitgebreide ondersoek na die voorval.  

Die US-bestuur het gistermiddag (Donderdag 11 Februarie) die aanbeveling aanvaar en opdrag gegee dat die twee studente genooi word om na hul koshuis terug te keer. Die twee vroue is reeds gisteraand in die koshuis terugverwelkom, en een van hulle is in haar posisie as mentor heraangestel.

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid het soos volg verklaar: "Dit is duidelik dat daar geen direkte of indirekte bedoeling was om enige student of personeellid aanstoot te gee of skade te berokken nie. Daar was ʼn persepsie, aangevuur deur die impak van sosiale media, dat dit ʼn blackface-voorval was. Dit is egter nie die geval nie."

"Die Bestuur betreur die trauma wat die twee studente, die huiskomitee, die inwonende hoof en inwoners  moes ervaar het," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê.

"Hoewel ek tevrede is dat die korrekte prosedures ingevolge die Universiteit se Konsepbeleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering gevolg is, besef ons dat dit vir die twee betrokke studente ʼn baie moeilike tyd was. Die Universiteit sal voortgaan om hulle te ondersteun terwyl hulle weer by die koshuis inskakel.

Die verbale mishandeling en vernederende optrede van sommige studente teenoor medestudente en personeel tydens van die sessies is onaanvaarbaar, het Bestuur bygevoeg.

"Die insidente herbevestig hoe belangrik konstruktiewe gesprekvoering oor belangrike kwessies op kampus is. Alle gesprekke moet gevoer word in die gees van die US se kernwaardes soos in ons Institusionele Voorneme en Strategie vervat, naamlik empatie, medeverantwoordbaarheid, diensbare leierskap, uitnemendheid en innovasie," het prof De Villiers gesê.

"Veilige ruimtes vir gesprekvoering en samewerking is moontlik slegs as die hele kampusgemeenskap medeverantwoordelikheid neem om ons gemeenskap vry te maak van intimidasie, manipulasie, dreigemente, haatspraak, rassisme, seksisme, homofobie en ander vorme van onbillike diskriminasie en ontmensliking."

  • Studente wat berading benodig, kan die US Krisisdiens by 082 5570 880 bel, en diskriminasie, viktimisasie en teistering kan anoniem by die Eenheid vir Gelykwaardigheid aangemeld word via e-pos (unfair@sun.ac.za ) of telefoon (021 808 3136).