Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Beleidsinnovasielaboratorium dryf DVO-vordering
Outeur: Sustainable Development Impact Hub
Gepubliseer: 11/06/2025

​Die Universiteit Stellenbosch (US) – as mededrywers van die Suid-Afrikaanse Goalkeepers-gemeenskap vir die Gates-stigting – is deel van 'n dinamiese, kruissektorale gemeenskap van innoveerders, kampvegters en beleidsmakers wat vordering met die 17 Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO'e) dryf. Die Goalkeepers, wat deur die US se Beleidsinnovasielaboratorium en US Internasionaal ondersteun word, is daartoe verbind om teen 2030 'n beter toekoms vir almal te bereik, soos ooreengekom deur alle lidlande van die Verenigde Nasies.

Die US se Beleidsinnovasielaboratorium by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke koördineer sedert 2024 die sekretariaat van die Suid-Afrikaanse Goalkeepers-gemeenskap vir die Gates-stigting (voorheen die Bill en Melinda Gates-stigting). Hulle werk word deur medewerking met die SDG/2063 Impact Hub in US Internasionaal (USI) toegepas.

Lede van die Suid-Afrikaanse Goalkeepers-netwerk het onlangs die geleentheid gehad om by 'n vergadering in Kaapstad met Mark Suzman, uitvoerende hoof van die Gates-stigting, en Paulin Basinga, Afrika-direkteur, in gesprek te tree. Die SA netwerk, die eerste program van sy soort op landsvlak, sluit 20 aktiewe lede in wat hulle vir verskeie DVO'e beywer wat die basiese menslike behoeftes aanspreek, met 'n fokus veral op toegang tot gesondheidsorg (DVO 3), gehalte-onderwys (DVO 4), geslagsgelykheid (DVO 5) en voedselonsekerheid (DVO 2).

Hulle bespreking het die beduidende vordering beklemtoon wat die Goalkeeprs gemaak het om die DVO'e op plaaslike vlak te bevorder, en ook die impak van hulle werk op sleutelgebiede soos gesondheid, onderwys, armoedeverligting en innovasie versterk.

Wat van besondere belang vir lande soos Suid-Afrika is, is die Stigting se hernude fokus op drie globale aspirasies. Dit sluit in die voorkoming van vermybare sterftes onder moeders en kinders, die uitskakeling van aansteeklike siektes soos MIV en TB, en om miljoene te help om armoede te ontsnap deur meer inklusiewe ekonomieë te bou.

Die Beleidsinnovasielaboratorium staan gereed om deel te wees van hierdie hoofstuk. Hetsy deur KI-geaktiveerde oorsigbestuursinstrumente, navorsingsamewerking of platforms soos die Goalkeepers-netwerk, vind die Beleidsinnovasielaboratorium aktief nuwe maniere om na die doelwitte te werk wat Gates herbeklemtoon het: gesondheid, onderwys, inklusiewe ekonomieë en 'n beter toekoms vir almal. "Hierdie prioriteite weerspieël die Beleidsinnovasielaboratorium se eie fokus op plaaslikgedrewe, stelselgebaseerde oplossings. Deur met hierdie globale ambisies te belyn, help die Lab om te verseker dat innovasie diegene bereik wat dit die nodigste het," sê prof Willem Fourie, bekleër van die leerstoel vir beleidsinnovasie en hoof van die US se Beleidsinnovasielaboratorium .

Die sekretariaat het verlede week (3 Junie) by 16 Goalkeepers en lede van die SA en VSA Gates-stigting se kantore aangesluit vir 'n persoonlike netwerksessie. Fourie het besin oor hoe die US se intervensies hulle gehelp het om hulle werk te vorm. Een van die hoofdoelwitte vir 2025 is dat die Goalkeepers saamwerk en 'n medewerkingsprojek skep om die DVO'es deur hulle werk en voorspraak te bevorder. Die hoof van die Gates-stigting Suid-Afrika, Matshidiso Masire, het deelnemers aan hulle verantwoordelikheid herinner om "ander op te hef namate ons in ons vakgebiede opgang maak

Die Goalkeepers sal Stellenbosch later vanjaar vir 'n tweedaagse intensiewen program besoek om in groepe aan hulle projekte te werk en ook meer oor die maatskaplike innovasieprojekte te wete te kom wat op en om die dorp aangebied word. "Dit sal hulle praktiese tyd saam met hulle LaunchLab-kollegas gee om werksessies oor hulle projek en die sakemodel en aanbiedingsvoorstelle daarvoor te hou," het Fourie ten slotte gesê.