Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoëvlakbesoek verseël US- vennootskap met Universiteit van Warwick
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Anel Lewis]
Gepubliseer: 16/05/2025

​Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Warwick in Engeland het formeel 'n omvattende en strategiese vennootskap bekragtig wat die reikwydte, impak en netwerk van beide instellings, binne hulle onderskeie streke en wêreldwyd, sal verbreed.

'n Hoëvlakafvaardiging van Warwick het die US se Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse besoek om met senior bestuur, insluitende die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, en die voorsitter van die Raad, dr Nicky Newton-King, te vergader om die "gesamentlike program van aksie" te bespreek wat samewerking tussen die Noord-Suid-instellings oor die volgende vyf jaar sal rig. Hoog op die agenda was gesprekke oor die twee universiteite se gedeelde waardes, hulle oorvleuelende netwerke en die identifisering van geleenthede om mekaar te benut om hulle sosiale en globale impak te verstewig.

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het verskeie programme, soos die SUNRISE-program, uiteengesit wat baat vind by internasionale uitruilings. Sy het na die finansieringuitdagings verwys wat deur die kansellering van VSA-ondersteunde navorsingsfinansiering geskep word, asook die invloed wat dit op werk sal hê wat in Afrika gedoen word. "Dit beteken ons is op soek na vennootskappe met ander instellings, veral in gesondheidsverwante navorsing en op gebiede soos TB, MIV en genomika."

Stuart Croft, Visekanselier en President van Warwick, het gesê die instelling waardeer sy "langtermyn"-verbintenis met die US. "Dit is 'n baie belangrike verhouding vir ons." Hy het ook na uitdagings verwys wat hoëronderwysinstellings in die gesig staar, en gesê wêreldwye uitruilings is onder "enorme druk". Vinnige optrede is dus van uiterste belang, en hy het die US geloof vir die spoed waarteen dié instelling bande met Warwick gesmee het.

Daar bestaan reeds uitgebreide samewerking op voorgraadse, nagraadse, postdoktorale en senior navorsersvlak. Die tweede rondte saadbefondsingsaansoeke – finansiële ondersteuning vir navorsers en professionele personeel by die US en Warwick om nuwe bande te smee en bestaande samewerking te bevorder – het pas gesluit en die suksesvolle projekte sal binnekort aangekondig word.

Ter voortbouing op die betrokkenheid wat meer as drie jaar gelede begin het, moet die twee universiteite nou hulle fokus na strategiese denke verskuif oor die waarde wat elkeen kan bied, het Croft verduidelik. "Afrika is 'n groot fokus vir ons. Ons wil saam met die US werk en sy verbintenis in Afrika (benut)." Gegewe die US se betrokkenheid by die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA), 'n Afrikawye navorsingsnetwerk wat byvoorbeeld daarop gemik is om navorsing op die vasteland te versterk en nagraadse opleiding te verbeter, is die US goed geplaas om as 'n spilpunt op die vasteland te dien, het Moyo gesê.

Die vermoë om deur netwerke soos ARUA en die Eutopia Universiteitsalliansie saam te werk, maak voorsiening vir 'n unieke, multilaterale vennootskap, het Sarah van der Westhuizen, die US se Direkteur: Sentrum vir Globale Betrokkenheid, wat deel is US Internasionaal, gesê. "Vir ons is hierdie strategiese vennootskap nie transaksioneel nie, maar transformerend." Croft het die US daarvoor geloof dat die instansie "opstaan vir diversiteit, insluiting en uitnemendheid" – waardes wat deur die Universiteit van Warwick gedeel word.

Volgens prof Franklyn Lisk, Adjunk-Pro-Visekanselier (Afrika) aan die Universiteit van Warwick, bied die vennootskap 'n steunpunt om gemeenskaplike institusionele uitdagings aan te spreek. Dit kan ook help om die reputasie van albei universiteite te versterk, het Croft voorgestel. "Ons moet julle stories vertel, en andersom." Prof Sam Tshehla, die US se waarnemende Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, het na Ramjungernath se visie verwys om die US onder die top 100 universiteite ter wêreld te sien. "Wie anders sal ons saamneem op ons reis na die top 100?"

Oor die pad vorentoe het die twee afvaardigings ooreengekom op die uitbreiding van die saadfondsprogram om jaarliks tien projekte te ondersteun, die organisering van 'n jaarlikse Stellenbosch-Warwick-simposium, voortgesette ondersteuning vir samewerkende finansiering en die verkenning van 'n moontlike internasionale navorsingskultuurnetwerk tussen die US, Warwick en die Monash-Universiteit in Australië. Die belangrikheid van die ontwikkeling van trilaterale netwerke tussen die US, Warwick en ander lande in Afrika is ook bespreek.