Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe ʼn ‘MBA-baba’ vir Davina Mentoor gehelp het om leierskap te herdefinieer
Outeur: Nastassja G. Wessels
Gepubliseer: 28/03/2025

Halfpad deur die MBA-program aan die Stellenbosch Bestuurskool, het Davina Mentoor (34), ʼn departementsbestuurder in die Departement Siviele Ingenieurswese van die Universiteit Stellenbosch, ontdek dat sy swanger was met haar tweede kind.

Dit was reeds ʼn uitdaging om die eise van ʼn MBA in te pas. Om dit te doen terwyl jy swanger is en later ʼn pasgebore baba moet versorg, beteken fyntrap tussen uitputting, spertye en die onverbiddelike werklikheid dat moederskap nie stilstaan vir akademiese ambisies nie. “Ek moet bely dat swangerskap nie deel van my tweejaarplan was nie, maar my plan en God se plan het verskil. Ek moes dit een dag op ʼn slag aanpak en seker maak dat ek my MBA-spertye vooruit beplan, om ruimte vir noodgevalle te laat.”

Davina se besluit om ʼn MBA aan te pak, was nie net oor vooruitgang in haar loopbaan nie, maar meer oor die verbreking van generasiekringlope, leiding deur haar voorbeeld, en bewys dat opvoeding en ʼn gesin nie wedersyds uitsluitend is nie. Haar reis was een van stille krag, vasberadenheid en aanpassing – ʼn kragtige herinnering daaraan dat, hoewel instellings groot lewensveranderinge tydens ʼn MBA afraai, die lewe soms sy eie kurrikulum volg.

In September 2023 het Davina geboorte geskenk aan haar seun. Twee weke later was sy terug agter die boeke. “Ek onthou nog duidelik die aanpak van spertye en voorbereiding vir die eksamen, enkele dae nadat ek geboorte geskenk het. Dit was uitputtend, met tye oorweldigend, maar ek het my daartoe verbind om klaar te maak, en ek sou nie opgee nie.”

Die logistiek was meedoënloos. Omdat sy geweet het dat pasgebore babas feitlik konstant aandag nodig het, het Davina elke beskikbare oomblik vir haar studies uitgesit. “Ek het twee uur per dag oor middagete en voordat ek huis toe gaan, vir werk aan my opdragte uitgesit. By die huis het my tyd aan my man en my kinders behoort. Ek het dit ʼn reël gemaak om nooit my skootrekenaar tuis oop te maak nie, tensy dit ʼn absolute noodgeval was.”

Teen Januarie 2024, toe haar babaseuntjie vier maande oud was, is hy in dagsorg geplaas. Die gewig van die verantwoordelikheid het nooit verdwyn nie, maar Davina het aangepas, ʼn strategie opgestel en aangehou. Buiten vir die fisiese uitputting, het dit ook ʼn enorme geestelike en emosionele tol geëis. Om moederskap, ʼn akademiese program met baie op die spel, en haar loopbaan te balanseer, het haar oomblikke van intense angs besorg.

“Daar was dae dat ek heeltemal oorweldig was. Met tye het die druk ondraaglik gevoel. Maar ek het myself net gereeld daaraan herinner dat ek my gedagtes beheer. My ma het altyd vir my gesê: ‘Jy is die enigste een wat angs en depressie kan oorkom.’ Daardie raad het my geanker gehou.”

Waarom vroue die swaarste las dra

Hoewel mans en vroue vir MBA’s studeer, lig professor Anita Bosch se verrassende navorsing as die bekleër van die navorsingsleerstoel: Vroue by die Werk by die Stellenbosch Bestuurskool, ʼn strak werklikheid uit:

  • Vroue dra die meerderheid van die onbetaalde versorgingsverantwoordelikhede, selfs al werk hulle voltyds en studeer.
  • Die versorging van kinders word buite verhouding die moeder se plig gemaak, veral in die eerste jaar van ʼn kind se lewe.
  • Vroue in leierskapsrolle ondervind dikwels groter druk om hulleself te ‘bewys’, veral as hulle kraamverlof neem of hulle gesinslewe saam met ambisieuse loopbaandoelwitte moet behartig.

“In teenstelling met ʼn man, dra die vrou die meeste van die gewig – fisies, emosioneel en geestelik – wanneer sy ʼn kind het. Daardie eerste jaar van ʼn baba se lewe is ongelooflik veeleisend. Maar ek was nie bereid om my doelwitte op te offer nie. Ek wou hê dat my kinders moes grootword met die wete dat dit moontlik is.”

Agter elke moeder wat vir ʼn MBA studeer, is daar ʼn ‘dorpie’ wat dit moontlik maak en Davina het krag uit haar ondersteuningstelsel geput. “My man, ouers en sibbe was my grootste ondersteuners. Hulle het my regdeur my MBA-reis bygestaan, en ingetree as ek tyd vir studeer of rus nodig gehad het.” En in daardie oomblikke toe niemand kon help nie, het sy op haar diepgewortelde geloof staat gemaak.

Herdefiniëring van leierskap deur moederskap

Vir Davina het die ervaring haar siening van leierskap in besigheid en in die lewe hervorm. “Ek het altyd geglo dat leierskap gegaan het oor die beste wees, om volmaaktheid na te streef. Maar om tydens my studies ʼn moeder te word, het dit verander. Leierskap gaan oor veerkragtigheid, balans en die neem van moeilike besluite met jou hart.”

Dit het ook haar siening van sukses verander. “Met my vorige kwalifikasies het ek altyd na ʼn cum laude gemik. Met die MBA wou ek net goed genoeg slaag. Ek moes redeliker verwagtiginge vir myself stel, omdat ek dit nie kon bekostig om uit te brand nie.”

Davina se raad aan toekomstige MBA-moeders:

"Moenie volmaaktheid najaag nie – streef na wat saak maak"

Vir vroue wat wonder of hulle ʼn MBA kan behartig terwyl hulle groot lewensveranderinge moet navigeer, bied Davina swaar bekomde wysheid:

  • Jy is meer bevoeg as wat jy dink. “Ons is gebou om meer te hanteer as wat ons besef. Bly toegewyd en neem sake een tree op ʼn slag.”
  • Prioritiseer, maar moenie uitbrand nie. “Jou gesin kom eerste. Kry ʼn stelsel wat vir jou werk, en moenie jou welstand vir onrealistiese verwagtinge opoffer nie.”
  • Bou ʼn ondersteuningsnetwerk op. “Jy kan dit nie alleen doen nie. Steun op jou familie, jou vriende en jou geloof.”
  • Gryp die onverwagte aan. “Sommige goed in die lewe kan nie beplan word nie. Wat saak maak, is hoe jy aanpas en die uitdaging hanteer.”

Wat kom volgende?

Noudat sy haar MBA verwerf het, dink Davina nie net aan haar volgende loopbaanskuif nie; sy dink aan die boodskap wat sy vir die volgende geslag nalaat.

“Ek wil hê my dogter moet sien dat vroue moeilike goed kan doen. Ek wil hê my seun moet grootword met die wete dat vroue respek, steun en geleenthede om die leiding te neem, verdien. Ek hoop my reis besiel ander vroue om in hulleself te glo, selfs as dit lyk asof die noodlot teen hulle is.”

Moederskap hoef nie met ambisie mee te ding nie. Dit kan ʼn krag wees wat dit aanvuur. Davina Mentoor is ʼn lewende bewys hiervan.