Die internasionaal-erkende Suid-Afrikaanse komponis en liedjieskrywer, Jonathan Butler, is Maandag (24 Maart 2025) deur die Universiteit Stellenbosch (US) met ʼn eredoktorsgraad by die instelling se Maart-gradeplegtigheid vereer. Butler het die graad Doktor in die Filosofie (DPhil), honoris causa, by ʼn gradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang.
Die eregraad is aan Butler toegeken vir sy musikale invloed en bydraes tot kuns en kultuur as 'n komponis, liedjieskrywer en kunstenaar, en sy toegewyde werk om platforms te skep wat sorg dat jongmense uit gemarginaliseerde gemeenskappe toegang tot die kunste ontvang.
Butler het in sy aanvaardingstoespraak gesê “hierdie oomblik is 'n droom wat waar word, een wat alles wat ek ooit kon vra, dink of voorstel oortref. Dit is n glorieryke dag, een wat ek vir die res van my lewe sal saamdra. Ek staan in diepe nederigheid voor julle. Ek is met dankbaarheid en vreugde gevul."
Hy het bygevoeg dat die eregraad nie net vir hom is nie, maar ook vir sy familie.
Butler het gesê musiek het aan hom gegee wat hy weens omstandighede nie deur formele onderwys kon kry nie.
“Musiek het my onderwyser, my gids, my kompas geword. Musiek het my dissipline, moed, kreatiwiteit en veerkragtigheid geleer. Die reis was nie vir my maklik nie. Ek wou musiek gebruik om die wêreld bymekaar te bring, om die wêreld 'n beter plek te maak, om verandering in mense se lewens te sien, om verandering in gemeenskappe te sien."
Hy het aan die nuwe gegradueerdes gesê dat hulle hul eie wedloop sal hê om te hardloop en hul eie bome om af te kap. “Soms sal julle moeg en afgemat word, en sal julle moet stop en hergroepeer. Maar ek sê, as jy reg begin, sal jy reg eindig."
Na sy aanvaardingstoespraak het Butler die aanwesiges vermaak deur van sy liedjies te sing.
Meer oor Butler
Al het hy onder die skadu van apartheid en te midde van swaarkry in Belgravia Estate in Athlone, Kaapstad, grootgeword, was Jonathan Kenneth Butler in 'n tyd van streng rasseskeiding een van die eerste gekleurde kunstenaars op Suid-Afrikaanse radio en televisie. As die jongste van 12 kinders in 'n gesin wat musiek gemaak het om kop bo water te hou, het hy op die ouderdom van sewe begin toer toe hy by 'n reisende verhoogvertoning aangesluit het en is later ingeskryf om aan 'n string trefferopnames deel te neem, wat hom in 'n plaaslike tiener-idool verander het. Butler het later een van die sterkste stemme geword wat internasionaal voorspraak gedoen het vir die vrylating van Nelson Mandela en ander politieke gevangenes.
Hoewel hy reeds in Afrika en die Verenigde Koninkryk (VK) naam gemaak het, was dit eers in 1987, toe hy as openingskunstenaar saam met popster Whitney Houston getoer het, dat Butler in die Verenigde State raakgesien is. Daardie selfde jaar maak hy finaal sy deurbraak met sy Grammy-benoemde treffer-enkelsnit “Lies", wat nommer 27 op die Billboard Hot 100-treffersparade was en by nommer 18 op die VK se Official Singles Chart gaan draai het. Sy en Ruby Turner se weergawe van die Staple Singers se liedjie “If You're Ready (Come Go with Me)" het ook in daardie tyd nommer 30 op die treffersparades in die VK gehaal. Hy sit sy sukses voort met die vrystelling van meer as 28 albums, insluitende verskeie gospelprojekte, met een wat die eerbiedige "Falling In Love with Jesus" bevat.
Ondanks sy internasionale sukses bly Butler getrou aan sy wortels. Hy is die eerste Globale Vermaaklikheidsambassadeur vir die Lalela-stigting, wat opvoedkundige kunsprogramme vir hoërisikojeug aanbied. Met hulle kunskurrikulum en relevante boodskappe bedien Lalela weekliks meer as 5 000 Suid-Afrikaanse leerders.
Butler gaan voort om populêre musiek in verskeie genres te maak en toer deur die wêreld. Op sy jongste album, Ubuntu, het hy nog 'n droom verwesenlik, naamlik om saam met die ikoniese kunstenaar Stevie Wonder op te tree in sy weergawe van Wonder se liedjie "Superwomen".
- Foto: Dr Jonathan Kenneth Butler by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els