Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-dosent terug in die saal om R100 000 vir studente in nood in te samel
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Anel Lewis]
Gepubliseer: 20/03/2025

​Een gesin. Tien fietsryers. Ses dae. Seshonderd kilometer.

Dr Marietjie Lutz, dosent van die Universiteit Stellenbosch (US), is terug in die geldinsamelingsaal, en vanjaar beoog sy om minstens R100 000 met haar Wheels of Opportunity (WOOP25)-veldtog in te samel om geld vir talentvolle maar minderbevoorregte wetenskapstudente te genereer.

Lutz en haar gesin het verlede jaar R75 000 vir die veldtog ingesamel – wat die aanvanklike teiken van R60 000 oortref het. "Hierdie ongelooflike reaksie het die belangrikheid van ons saak beklemtoon en ons geïnspireer om weer die uitdaging aan te pak," sê Lutz.

Nadat hulle vroeër vandeesmaand hulle eerste Kaapstad-fietstoer op bergfietse voltooi het, berei die Woop25-span – bestaande uit Lutz en haar man, Daniël, haar oudste seun, Ben (bedryfsingenieurstudent aan die US), haar tweede seun, Jan (BCom Bestuurswetenskappestudent aan die US), haar dogter Isabel in graad 11 by Bloemhof en die jongste, Daniël, wat in graad 8 by Paul Roos Gimnasium is – voor om weer van George na Kaapstad te fietsry.

2024 WOOP 6.jpg

Verlede jaar moes hulle temperature van meer as 40°C en sterk teenwinde te bowe kom, asook 'n noue ontmoeting met 'n oorywerige koedoe. Maar Lutz sê vanjaar is die span logisties en strategies beter voorbereid.

Hulle begin Sondag 30 Maart trap aan hulle uitmergelende tog.

"Ter voortbouing op verlede jaar se sukses, het ons 'n paar opwindende veranderinge aan die 2025-rit aangebring. Die belangrikste is dat ons ons span van ses tot tien ryers gegroei het, wat 'n nog groter gesamentlike poging beteken om geld in te samel en groter bewustheid te skep."

2024 WOOP 7.jpg

Lutz sê die ongelooflike sukses van verlede jaar en die belangrikheid daarvan om bewustheid oor die finansiële stryd te skep wat baie wetenskapstudente in die gesig staar, het haar laat besluit om die WOOP-geldinsamelingspoging voort te sit. "Hierdie studente het geweldige potensiaal, maar word dikwels deur finansiële beperkings teruggehou. Deur vir WOOP te ry, hoop ons om hulle behoefte aan ondersteuning te beklemtoon en om meer mense aan te moedig om in hulle akademiese toekoms te belê. Deur WOOP ry ons nie net fiets nie; ons maak deure oop vir geleenthede vir studente wat 'n kans verdien om hulle volle akademiese potensiaal te bereik."