Wêreldnierdag word elke jaar op die tweede Donderdag van Maart (13 Maart in 2025) gedenk. In ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick skryf prof Yazied Chothia van die Afdeling Nefrologie dat in die laaste paar jare nuwe behandelings ontwikkel is wat die progressie van chroniese niersiekte verder kan vertraag. Hierdie terapieë is egter onbeskikbaar of te duur vir openbare gesondheidsorg in Suid-Afrika.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Yazied Chothia*
Chroniese niersiekte (CNS) is ʼn groot, wêreldwye gesondheidsorg wat ongeveer 1 uit 10 volwassenes raak. In baie lae- en middelinkomstelande, insluitend Suid-Afrika, neem die aantal CNS-gevalle toe weens toestande soos hoë bloeddruk en diabetes, gekombineer met infeksies, swangerskapverwante komplikasies en blootstelling aan skadelike stowwe. Ofskoon dit onduidelik is presies hoeveel mense in Suid-Afrika CNS onder lede het, dui ramings daarop dat dit tot 17% kan wees.
Ondanks die toename in pasiënte bly toegang tot behandeling uiters beperk, veral vir diegene wie se niere versaak en wat dialise of ʼn oorplanting nodig het. Die ernstige hulpbronbeperkings van Suid-Afrika se openbare gesondheidsorgstelsel, wat die grootste deel van die bevolking bedien, bring mee dat lewensreddende behandelings streng gerantsoeneer word. Private gesondheidsorg bied baie beter toegang tot behandeling, maar net ʼn klein persentasie van Suid-Afrikaners kan dit bekostig.
Omdat talle mense nie toegang tot dialise of oorplantings het nie, is dit van lewensbelang om te verhinder dat CNS vererger. Medikasie wat nierfunksie beskerm, soos renien-angiotensien-stelselinhibeerders, het ʼn kardinale rol in behandeling gespeel. In die laaste paar jare is nuwe behandelings ontwikkel wat die progressie van CNS verder kan vertraag. Dit is belangrik dat ons meer aandag aan hierdie nuwe middels gee, veral op Wêreldnierdag, wat elke jaar op die tweede Donderdag van Maart (13 Maart in 2025) gedenk word. Die tema vanjaar is “Is jou niere oukei? Bespeur vroeg, beskerm niergesondheid".
Nuwe middels
ʼn Nuwe klas medikasie bekend as natrium-glukose-kotransporter-inhibeerders, of SGLT2-inhibeerders, toon groot belofte in die beskerming van nierfunksie vir mense met of sonder diabetes en CNS. Hierdie middels help om spanning op die niere te verminder deur die druk binne-in hulle te verlaag, skadelike glukose-opbou te verminder en algehele metabolisme te verbeter. Groot kliniese proewe het getoon dat SGLT2-inhibeerders die progressie van niersiekte vertraag en hospitalisasies en sterftes wat met nier- en hartsiektes verband hou, verminder.
Diabetes, wat ook ʼn belangrike oorsaak van niersiekte is, is ʼn groeiende probleem in Suid-Afrika en raak ongeveer 11% van die bevolking. Volgens die jongste verslag van die Suid-Afrikaanse Nierregister was sowat 13% van mense wat niervervangingsterapie ontvang het, diabete. SGLT2-inhibeerders kan help om CNS -vordering te vertraag, maar die gebruik daarvan in die land is ongelyk. Pasiënte in private gesondheidsorg het toegang tot hierdie middels, maar hulle is weens hoë koste buite bereik van die meeste mense in die openbare gesondheidsorgstelsel. Kenners meen hierdie medikasie kan ʼn deurslaggewende rol in die voorkoming van nierversaking in Afrika speel, veral in die lig van die beperkte beskikbaarheid van dialise en oorplantings.
Daar is onlangs getoon dat ʼn ander diabetesmedikasie, die glukagonagtige peptied-1-reseptoragonis (GLP-1 RA) wat ook as semaglutied bekend is, nie net die progressie van CNS onder diegene met diabetes vertraag nie, maar ook sterftes weens nierversaking, beroertes en hartaanvalle verminder. Daar is ook getoon dat hierdie middel aansienlike gewigsverlies meebring wanneer mense wat oorgewig of vetsugtig is dit saam met leefstylveranderinge gebruik. Maar soos die geval met SGLT2-inhibeerders, is hierdie middel slegs beskikbaar vir diegene met toegang tot private gesondheidsorg.
MIV en niersiekte
Altesame 12,7% van Suid-Afrikaners leef met MIV en dié virus is ʼn groot oorsaak van niersiekte in die land. MIV-geassosieerde nefropatie (MIVAN), wat die niere se vermoë om afval te filtreer onder mense met MIV beskadig, is een van die mees algemene vorms van niersiekte wat aan die virus gekoppel word. ʼn Genetiese faktor bekend as die APOL-1-geen word geassosieer met ʼn hoër risiko om MIVAN te ontwikkel. Wetenskaplikes het nuwe behandelings bestudeer wat hierdie geen teiken, en ʼn onlangse proef van die middel inaxaplin het belowende resultate getoon en het nierskade met byna 50% in 13 weke verminder. Ofskoon hierdie nuwe terapieë hoop bied, bly antiretrovirale behandeling die belangrikste manier om niergesondheid te beskerm by mense wat met MIV leef. Toekomstige navorsing kan help om hierdie nuwe behandelings meer algemeen beskikbaar te maak, veral in Afrika suid van die Sahara, waar APOL-1-verwante niersiekte die algemeenste voorkom.
Bloedtipes en oorplantings van dier op mens
In die verlede kon mense met onversoenbare bloedgroepe (ABO-onversoenbaar of ABOi) nie nieroorplantings ontvang nie. Vooruitgang in mediese toestelle maak egter nou oorplantings tussen verskillende bloedgroepe moontlik deur spesiale behandeling te gebruik om verwerping te voorkom. Dokters by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad het onlangs drie suksesvolle ABOi-nieroorplantings met behulp van ʼn nuwe mediese toestel uitgevoer. Die vroeë resultate is belowend, maar verdere navorsing is nodig om langtermynsukses te bevestig voordat dit ʼn roetinebehandeling word.
In Maart 2024 het dokters in die VSA vir die eerste keer ʼn geneties gemodifiseerde varknier in ʼn mens oorgeplant. Ongelukkig is die pasiënt twee maande later oorlede, maar die oorsaak van dood het nie met nierverwerping verband gehou nie. In die lig van die lang waglyste vir nieroorplantings en hoë sterftesyfers onder diegene wat wag, kan xeno-oorplanting in die toekoms ʼn lewensreddende opsie wees, maar dit is nog ʼn eksperimentele prosedure en verdere navorsing is nodig om die veiligheid en doeltreffendheid daarvan te verseker. Daarbenewens kan etiese, kulturele en godsdienstige bekommernisse ʼn impak hê op hoe wyd dit aanvaar word.
Ná jare van beperkte vordering is daar opwindende nuwe behandelings vir CNS, waarvan baie deur diabetesnavorsing of vooruitgang in die verstaan van niersiekte op ʼn molekulêre vlak ontwikkel is. Die meeste van hierdie behandelings is egter onbeskikbaar of te duur vir openbare gesondheidsorg in Suid-Afrika, waarheen die meeste CNS -pasiënte hulle vir sorg wend. Toegang tot hierdie terapieë word hoofsaaklik deur hoë koste en afhanklikheid van ingevoerde medisyne beperk.
Oplossings kan die prioritisering van CNS in gesondheidsbeleide insluit, asook die uitbreiding van universele gesondheidsorgdekking en die bevordering van plaaslike farmaseutiese produksie. Selfs bestaande, bekostigbare behandelings word soms weens leemtes in mediese kennis en oorbelaste gesondheidsorgwerkers onderbenut. Die aanpak van hierdie kwessies deur middel van onderrig en beter werksomstandighede is noodsaaklik. Soos wat meer Suid-Afrikaners CNS ontwikkel, is stelselwye pogings nodig om te verseker dat lewensreddende behandelings diegene bereik wat dit die nodigste het.
* Yazied Chothia is ʼn medeprofessor en mediese spesialis in die Afdeling Nefrologie aan die Universiteit Stellenbosch.