Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale Impak-gemeenskapsoggend: Bemagtig Studente om die SDG’s deur gemeenskapskakeling te bevorder
Outeur: Centre for the Advancement of Social Impact and Transformation
Gepubliseer: 03/02/2025

Meer as 6 000 nuwe Matiestudente sal op 7 Februarie 2025 van 09:00 tot 12:00 deelneem aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sosiale Impak-gemeenskapsoggend as deel van die amptelike Verwelkomingsweek vir nuwelinge. Die inisiatief, wat deur die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie (CASIT) aangebied word, bied studente 'n praktiese geleentheid om betrokke burgers te word deur hulle akademiese kennis te gebruik om tot die aktiwiteite van verskeie organisasies en gemeenskapsvennote rondom die US se Stellenbosch- en Tygerbergkampus by te dra.

Betrokke burgerskap verwys na individue se aksiegerigte, bewuste en impakryke betrokkenheid by die maatskaplike, ekonomiese en politieke sfere van die samelewing. Dit beklemtoon die belang daarvan om tot gemeenskapsgerigte inisiatiewe by te dra, en in die hoëronderwysomgewing gaan dit veral oor instellings se gesamentlike verantwoordelikheid om 'n volhoubare toekoms te help skep.

Die US se Sosiale Impak-gemeenskapsoggend stel die konsep van betrokke burgerskap aan nuwelingeerstejaars bekend en bied hulle 'n platform om wederkerige verhoudings met die plaaslike gemeenskappe rondom die Universiteit te bou. Deelname aan hierdie geleentheid sal studente help verstaan hoe om hulle vaardighede te benut om werklike, praktiese uitdagings – waaronder dié wat met die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) verband hou – die hoof te bied.

CASIT en die Afdeling Studentesake se Sentrum vir Studentelewe en -leer het met studenteleiers saamgewerk om 'n robuuste raamwerk vir betrokke burgerskap deur die hele 2025 te voorsien. Studente sal leer hoe om die leiding te neem in volhoubare inisiatiewe vir sosiale transformasie en impak wat plaaslike gemeenskappe en organisasies baat.

Gedurende die Sosiale Impak-gemeenskapsoggend sal studente op sowel Stellenbosch- as Tygerbergkampus deelneem aan 'n wye verskeidenheid aktiwiteite wat met die SDG's verband hou, soos om strande en riviere skoon te maak, skryfbehoeftes in te samel, kospakkies te maak, en opvoedkundige aktiwiteite vir jong kinders aan te bied. Ál die inisiatiewe strook met die US se verbintenis om akademiese kennis met praktiese optrede aan te vul en studente sodoende 'n transformerende ervaring te bied wat hulle in staat stel om sinvol tot die samelewing by te dra.

Die Sosiale Impak-gemeenskapsoggend sal studente toerus met 'n dieper begrip van:

  • die krag van gemeenskapsgedrewe oplossings vir komplekse maatskaplike kwessies;
  • hoe hulle individuele bydraes 'n tasbare verskil in die samelewing kan maak;
  • die belang van samewerking tussen studente, plaaslike organisasies en die US;
  • praktiese maniere waarop die SDG's in plaaslike gemeenskappe bereik kan word; en
  • die rol van betrokke burgerskap om 'n meer inklusiewe, volhoubare toekoms te skep.

Vir verdere inligting, kontak senior programbestuurder Michelle Pietersen by mpieters@sun.ac.za.