"Een keer 'n Matie, altyd 'n Matie!" Dit was die strydkreet by vanjaar se amptelike verwelkomingseremonie toe duisende nuwelinge die eerste treë van hul akademiese reis by die Universiteit Stellenbosch (US) gegee het. Die sowat 6 000 eerstejaarstudente het 'n see van maroen in die Coetzenburg-stadion gevorm met nuwe personeel en nagraadse studente wat aan die feestelikhede deelgeneem het.
Ouers en familielede het eerstehands die tradisies en energie ervaar wat so uniek is aan die instelling se verwelkomingsgeleentheid. Van 'n op-en-wakker klankbaan opgedis deur die Universiteit se radiostasie, MFM, tot die manewales van die US se geliefde gelukbringer, Pokkel, en die pragtige klanke van die US se Simfoniese Blaasensemble wat die volkslied speel, het die inkomende klas van 2025 'n onvergeetlike inleiding tot die lewe as 'n Matie ontvang.
Die geleentheid is afgesluit met die langverwagte Droomoptog – 'n tradisie waar studente in Victoriastraat afstap om die begin van hul universiteitsreis te simboliseer.
Vanjaar se seremonie was besonder aangrypend aangesien dit die laaste amptelike verwelkoming onder leiding van die US se uittredende Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, was wat al 'n dekade lank in die rol dien. Sy opvolger, prof Deresh Ramjugernath, het die geleentheid saam met lede van die Rektoraat, dekane van fakulteite, studenteleiers en eregaste – insluitende die burgemeester van Stellenbosch, mnr Jeremy Fasser – bygewoon wat deel van die akademiese prosessie uitgemaak het.
'Hulp is altyd beskikbaar'
Liyema Jacobs, tussentydse voorsitter van die Studenteraad (SR), het die nuwelinge 'n blik gegee op dít wat hulle van die universiteitslewe kan verwag en het die nuwe groep aangemoedig om die geleenthede en uitdagings wat voorlê, aan te gryp.
"Die universiteitslewe gaan nie net daaroor om 'n graad te verwerf nie; dit gaan oor die ontdekkingstog – om kennis, nuwe vriendskappe en bowenal jouself te ontdek," het Jacobs gesê.
"Wat ons instelling so besonder maak, is dat daar iets vir almal is," het hy opgemerk. "Ons kampusse is 'n smeltkroes van kulture, uiteenlopende ideologieë en voorliefdes. Raak betrokke by mekaar, binne en buite die klaskamer, want die bande wat jy hier sal smee, sal 'n leeftyd hou en sal deure oopmaak wat jy nooit geweet het bestaan nie," het hy gesê.
Jacobs het die angs wat dikwels met hierdie oorgang gepaard gaan, erken en studente verseker dat hulle nie alleen is nie. "Baie van julle navigeer finansiële druk, om verblyf te vind of om by 'n nuwe kultuur aan te pas. Hierdie gevoelens is geldig, en jy is nie alleen nie. Wees deernisvol teenoor jou mede-Maties en onthou daar is altyd beskikbaar hulp."
In 'n inspirerende oomblik van eenheid het Jacobs die nuwelinge gelei in 'n belofte om die US se waardes te handhaaf en 'n inklusiewe, ondersteunende gemeenskap te bevorder. "Julle hoort hier," het Jacobs bevestig. "Julle is gekies om deel van hierdie Universiteit te wees omdat ons in julle potensiaal glo."
'n Baie spesiale verrassing vir prof Wim
Die programdirekteur, Ayanda Mlatsa, se aankondig dat sy 'n verrassing vir De Villiers het – ʼn huldeblyk deur sy vrou, Catherine de Villiers – was 'n hoogtepunt by die geleentheid. Die studente was gek oor die Rektor se geskokte reaksie en 'n kollektiewe "aww" van liefde het van die pawiljoen af opgeklink toe die US se eerste paartjie mekaar omhels het.
Catherine het in haar toespraak gesê dit is 'n "bittersoet" oomblik vir hulle gesin. "Wim, ek weet dat om hierdie geleentheid te lei, een van jou gunstelingoomblikke van die akademiese jaar is," het sy hartlik gesê. "Maar net soos hierdie studente hier vanaand 'n opwindende nuwe fase in hulle lewe betree, gaan jy dit ook doen. Die Universiteit Stellenbosch sal jou nooit verlaat nie – dit is in jou bloed."
De Villiers is op die verhoog verwelkom deur die brullende kitaarakkoorde van een van sy gunstelingliedjies, "Thunderstruck" deur AC/DC. Nog 'n "aww" het deur die gehoor gegaan toe De Villiers sy vrou bedank het: "Ek is oorweldig, Catherine. Ek is lief vir jou en dankie vir jou ondersteuning."
Die Rektor het die nuwelinge met sy kenmerkende entoesiasme toegespreek en besin oor sy ampstermyn by die US en die impak wat die Universiteit op studente se lewens het.
"Ek het deur die jare gesien hoe duisende jongmense hierdie hekke binnekom, gevul met ambisie en vasberadenheid, en later as selfversekerde gegradueerdes vertrek wat gereed is om 'n verskil in die wêreld te maak," het hy gesê. "Ek het honderde van hierdie gegradueerdes ontmoet wat ons alumni geword het en wat nou regoor die wêreld en op ons vasteland werk en woon en 'n impak maak waar hulle ook al gaan. Dít is wat 'n kwalifikasie van die Universiteit Stellenbosch ook vir jou sal doen. Dit sal deure na die wêreld oopmaak."
De Villiers het studente en ouers verseker dat die US verbind bly tot hulle veiligheid en welstand, met uitgebreide veiligheidsmaatreëls wat getref is om 'n veilige en ondersteunende omgewing vir almal te verseker. Hy het studente ook daaraan herinner om hulle universiteitservaring ten volle te omarm en 'n balans tussen akademiese uitnemendheid en buitemuurse aktiwiteite te handhaaf.
"Julle is nou deel van 'n gemeenskap wat julle sal uitdaag, inspireer en julle toekoms sal vorm. Neem verantwoordelikheid vir jou reis, neem deel aan die studentelewe en maak die meeste van jou tyd hier," het hy hulle aangemoedig.
'Onthou jou droom'
Om studente te help om hulle pad deur hulle universiteitsjare te vind, het De Villiers 'n eenvoudige geheuebrug vir die US se kernwaardes bekendgestel: ECARE – uitnemendheid (Excellence), deernis (compassion), verantwoordbaarheid (accountability), respek (respect) en billikheid (equity). "Dit is nie net woorde nie," het hy gesê. "Hulle is die grondslag van alles wat ons doen. Hierdie waardes sal jou tyd op Stellenbosch rig."
Die studente het na afloop van die formele program met groot geesdrif aan die Droomoptog deelgeneem en handgeskrewe kaartjies aan bome langs Victoriastraat vasgemaak waarop hulle hul aspirasies uiteensit.
De Villiers het die student met 'n aangrypende boodskap gelaat: "Wanneer jy in Victoriastraat afstap, moet jy dit as 'n drempel in jou akademiese reis sien. Onthou waar jy jou droom geplaas het, en keer terug daarna wanneer jy gradueer as 'n herinnering aan die belofte wat jy vandag aan jouself gemaak het. Dit is die oomblik waar jy verantwoordelikheid neem vir jou tyd op Stellenbosch en amptelik 'n Matie word. Van nou af sal jy altyd 'n Matie wees – niemand kan dit van jou wegneem nie," het De Villiers ten slotte gesê.
- Die amptelike verwelkomingsprogram duur tot 8 Februarie voordat klasse op 10 Februarie begin. Die T-hemde wat vanjaar deur alle nuwelinge gedra word, word deur Pineapple Insurance geborg.
FOTO: Stefan Els