Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jansen bring ommekeer by sukkelende skool
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 31/01/2025

Hoërskool Crestway in Retreat was aan die begin van 2024 om ál die verkeerde redes in die nuus. Met 'n power matriekslaagsyfer was dit die Wes-Kaapse skool wat die heel swakste presteer. Swak dissipline, bendebedrywighede en akademiese uitdagings was aan die orde van die dag, en die vooruitsig vir die skool was bra droewig. Maar 'n skrale jaar later is Crestway 'n simbool van transformasie wat spog met 'n aansienlike verbetering in sy matriekslaagsyfer van 'n beroerde 35% tot meer as 66%. Die dryfkrag agter dié dramatiese ommekeer? Die Universiteit Stellenbosch se prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in Opvoedkunde.

Missie aangevuur deur persoonlike band

Jansen se betrokkenheid was diep persoonlik. Toe hy sien hoe 'n skinderbladopskrif die skool vir “SWAK!" uitkryt, het hy geweet daar moet dringend opgetree word. Crestway was nie sommer enige skool nie; dit was ten nouste verweef met sy kindertyd. Jansen se grootwordhuis was langs die skool geleë. Op Crestway se terrein het hy destyds sokker gespeel – dit was 'n plek vol herinneringe.

“Ek het 'n emosionele band met hierdie skool," sê Jansen. “Dit was vir my 'n gewetensaak om in te gryp en te help." Hy het sy ma se woorde “Charity begins at home" onthou en summier die hoof van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gebel om sy dienste as skoolomkeerspesialis gratis aan te bied.

Met die US-bestuur se ondersteuning het Jansen hom daartoe verbind om elke oggend by Crestway deur te bring. Hier het hy onvermoeid met skoolhoof Cheryl Jacobs en haar span saamgewerk om opnuut 'n kultuur van dissipline te vestig en 'n strategie vir beter akademiese prestasie te bedink.

Jacobs sê haar onmiddellike reaksie was om Jansen met ope arms te verwelkom. “Enigiets om ons uit die groef te kry was welkom. Ons het regtig hard gewerk; die personeel het alles gedoen wat hulle kon om in uiters moeilike omstandighede klas te gee. Dit was 'n swaar slag om nie die uitslae te sien wat ons graag wou nie."

Jansen se ingryping was 'n bestiering, sê sy. “Baie mense het vir ons skool gebid. Prof Jansen het ons anders help kyk na hoe ons dinge doen. Ons het 'n wedersyds voordelige verhouding gebou. En ons het nog nie een dag teruggekyk nie."

Herstel orde, een dag op 'n slag

Die presiese omvang van die taak het ná sy eerste week by Crestway tot Jansen deurgedring. Klasse was rumoerig, daar was gereeld 'n bakleiery, en onderwysers het gesukkel om in beheer te bly. Die wanorde was so erg dat onderrig dikwels eers tien minute ná die aanvang van elke periode kon begin.

“Ek kon my oë nie glo nie – leerders wat in- en uitstap nes hulle wil, graffiti op deure, selfs kondome wat op die trappe rondlê," sê hy. “Dit was duidelik: Crestway het nie net akademies gesukkel nie; dit was 'n disfunksionele skool. Vir van my kollegas was daardie beskrywing 'n bitter pil."

Die eerste stap was om orde te herstel. Een van die eenvoudigste dog doeltreffendste maatreëls was om die skoolhekke presies om 08:00 te sluit. Jansen is soggens om 06:20 by sy huis in Crawford weg om leerders persoonlik by die skoolhek te verwelkom. Voorheen het leerders by die skool opgedaag soos dit húlle pas, wat die dag uit die staanspoor ontwrig het. Daar was uiteraard teenstand, maar Jansen het uit ervaring geweet dat verandering altyd teenkanting ontlok. “Disfunksie werk vir party mense," sê hy. “Maar sodra verantwoordbaarheid deel word van die prentjie, begin die kultuur verander."

Teen middagete is Jansen by Crestway weg en direk Stellenbosch toe vir sy “betaalde werk" by die Fakulteit Opvoedkunde. Hy het soms eers laataand by die huis gekom, maar sy geesdrif het nooit getaan nie.

Hy het ook sy aan sy met die onderwysers gewerk om klaskamerbestuur te verbeter en 'n gevoel van struktuur te skep. Die skool se opvoeders het die uitdaging met graagte aangepak. “Hulle was gereed vir verandering. Ál wat hulle gekort het, was die regte ondersteuning," onderstreep Jansen.

Die Adjunkhoof Ashley Jaftha beskryf Jansen se impak as 'n vars briesie. “Prof Jansen se energie is aansteeklik; hy het ons opgebeur toe ons dit die nodigste gehad het." Jaftha benadruk dat die professor nooit met die skool se leierskap ingemeng het nie. “Dít was belangrik vir die onderrigpersoneel. Sy bydrae was vir ons almal besonder waardevol. Hy het ons 'n broodnodige vars perspektief gegee om ons te help verbeter."

 


Bied bystand en hulpbronne

Benewens 'n tekort aan dissipline, het Jansen ook 'n behoefte aan beter leergereedskap raakgesien. Danksy finansiële bystand van die US en eksterne skenkers het Crestway ultramoderne onderrighulpmiddele soos grootskerms en dataprojektors ontvang. Onderwysers is met handboeke, fotokopieermateriaal en ander noodsaaklike hulpbronne toegerus – op een voorwaarde: verantwoordbaarheid.

“Vir elke bietjie bystand het ons 'n gelyke mate van verantwoordbaarheid verwag," verduidelik Jansen. Hy en die hoof het ná elke belangrike eksamen met onderwysers vergader om die uitslae te evalueer. “Ons het drie vrae gevra: Wat het skeefgeloop? Hoe beplan jy om dit reg te stel? Hoe kan ons help?" Die klem was deurentyd op oplossings, en onderwysers het entoesiasties gereageer. Party het vir die heel eerste keer 'n slaagsyfer van 100% behaal.

“Deur my loopbaan het ek ontdek verantwoordbaarheid is maklik as mense begryp dat jy vir hulle lief is en enigiets sal doen om hulle sukses te help verseker. Dan sál hulle presteer," sê Jansen.

Die hele jaar deur was daar ál hoe meer klein dog betekenisvolle oorwinnings. Saam met die skool se toenemende akademiese sukses het leerders se gedrag geleidelik verbeter. 'n Besoek aan die US-kampus, wat Jansen gefasiliteer het, het 'n groot indruk op die matriekklas gemaak en 'n nuwe wêreld vir die opgewonde tieners laat oopgaan.

Jansen onthou 'n aangrypende oomblik toe 'n seun uit 'n besonder wanordelike klas hom genader en uit sy hart gesê het: “Prof, ek wil deel wees van die oplossing." Vir Jansen is sulke oomblikke van onskatbare waarde. “Geen geld kan dit koop nie. Dís wanneer jy weet daar is werklike verandering aan die gebeur."

Sy verbintenis het verder as die akademie gestrek en ook emosionele en praktiese ondersteuning ingesluit. In die koue wintermaande het hy reënjasse gekoop vir leerders wat nat en yskoud by die skool opgedaag het. Sy vrou, Grace, het op wintersoggende warmsjokolade uitgedeel aan dié wat vroeg by die skoolhek was. Leerders met tandpyn is na die plaaslike tandarts geneem.

Jansen self het as mentor vir leerders opgetree, finansiële bystand gebied aan dié in nood, en intervensies help koördineer vir leerders met erge persoonlike uitdagings. 'n Dogter wat na haar pa in 'n psigiatriese hospitaal verlang het, kon hom besoek voordat hy oorlede is – alles omdat Jansen 'n foonoproep gemaak en haar na Valkenberg vergesel het.

Vir leerders sonder 'n stabiele huisomgewing het die skool 'n stil studieruimte by 'n plaaslike kerk gereël. Die onderwysers en skoolhoof het dikwels hulle vrye tyd opgeoffer om leerders se studietyd te reël en as toesighouers op te tree.

Die kern van Crestway se transformasie is 'n kragtige vennootskap tussen Jansen en skoolhoof Jacobs. In teenstelling met baie eksterne agente vir verandering wat hulle gesag wil afdwing, het Jansen sy rol nederig en met respek benader.

Die professor is boonop bekend daarvoor dat hy 'n passie vir onderrig by opvoeders aanwakker en het een van sy voormalige US-onderwysstudente, Neels Haasbroek, geïnspireer om as vrywilliger by Crestway te werk. Haasbroek het as Lewensoriëntering-onderwyser by die skool ingestaan en elke oomblik daarvan geniet. “Ná my Nagraadse Onderwyssertifikaat aan die US wou ek graag praktiese ervaring opdoen, en daar is geen beter manier om dít te doen as skaduwerk saam met prof Jansen nie. Ek het besef hoe baie ek by hom kan leer. Hy het so 'n magnetiese persoonlikheid, maar belangriker nog is dat hy werklik omgee. En dit bly nie net by praatjies nie; hy voeg daad by die woord," sê Haasbroek.

Die pad vorentoe

Die sukses by Crestway het 'n selfs groter inisiatief aan die gang gesit. Jansen het die landwye projek Professors Back to School (PBS) van stapel gestuur waardeur tien toonaangewende onderwysprofessore van Suid-Afrika se voorste universiteite – waaronder Wits, Kaapstad, Limpopo en Stellenbosch – by sukkelende skole sal tyd deurbring. Die doel? Om te sorg dat die volgende generasie onderwysers opgelei word om die realiteite van Suid-Afrika se onderwysstelsel te kan hanteer.

Hoewel Crestway se matriekslaagsyfer van 66% in 2024 'n reuseverbetering was, glo Jansen die beste lê nog voor. Hy voorspel 'n slaagsyfer van 100% in die nabye toekoms. “Vanjaar is geen graad 12-leerder daar omdat hulle kunsmatig deurgedruk is nie. Elke enkele leerder het op meriete geslaag," sê hy tevrede.

Vir Jansen is die belangrikste les vir enige sukkelende skool 'n eenvoudige een: “Moet nooit van die veronderstelling uitgaan dat die leerders die probleem is nie. Hulle is nie. As jy in hulle glo en hulle dissipline, struktuur en ondersteuning gee, sal hulle presteer soos hulle moet."

Deur sy energie, wysheid en ondersteuning het Jansen onderwysers en leerders by Crestway daaraan herinner dat elke skooldag tel, merk Jacobs op. “En die afgelope jaar het bewys dat elke minuut van elke skooldag weliswaar saak maak," sê die trotse skoolhoof glimlaggend.

VIDEO: Ubaid Abrahams