Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs 'n bedryfsetiekbeampte, Lindokuhle Sibiya, in die nuutgestigte Bedryfsetiekkantoor aangestel. 'n Nuwe nakomingsbeampte, Tlotliso Molefi, is ook teen die einde van verlede jaar aangestel. Ons het ons twee nuwe kollegas gevra om insigte oor hulle werk te deel, asook oor die verskil wat hulle by die US wil maak.
-
Lindokule Sibiya, Bedryfsetiekbeampte
Sibiya is 'n organisatoriese etiekpraktisyn wat haar laat rig deur die strewe om organisasies deur etiese bestuurspraktyke, beleidshervorming en leierskapstyltransformasie te beïnvloed. Sy is 'n gesertifiseerde etiekbeampte met 'n meestersgraad in bestuur en politieke transformasie (cum laude) van die Universiteit van die Vrystaat. Haar proefskrif was getiteld "Ethical corporate governance: The impact of ethical culture in the public and private sector in South Africa (Etiese korporatiewe bestuur: Die impak van etiese kultuur in die openbare en private sektor in Suid-Afrika). Voordat sy by die US aangesluit het, was sy by die Etiekinstituut werksaam, waar sy gehelp het om 'n teenkorrupsiegids vir die burgerlike samelewing te skryf.
Wat is die doel van die nuutgestigte Bedryfsetiekkantoor by die US en wat is sy kernfunksies?
Die Bedryfsetiekkantoor se doelwit is om die US se etiese kultuur te versterk en voort te bou op sy bestaande fondament. Hoewel etiek nog altyd deel van die US was, formaliseer die Kantoor hierdie fokus deur die nakoming van nie-navorsingsetiese standaarde te monitor en te evalueer. Die kantoor se kernfunksies sluit in die bevordering van die US se geïntegreerde etiese kode, Kode 2040, om te verseker dat besluite deur etiese beginsels gelei word, die verskaffing van opleiding en bewustheid en die belyning van bestuurspraktyke met institusionele waardes.
Wat is jou hoofverantwoordelikhede en hoe strook dit met die US se strategiese doelwitte?
My verantwoordelikhede sluit die bevordering van 'n etiese kultuur in en om te verseker dat die Universiteit hoë etiese standaarde in sy sakepraktyke handhaaf, deur oorsigbestuursdokumente by te werk en te handhaaf, besluitneming te lei en etiese dilemmas op te los. Ek sal ook fokus op die opvoeding van personeel en fakulteite oor etiek, die bevordering van deursigtigheid en die aanmoediging van aanspreeklikheid op alle vlakke. Dit strook met die US se verbintenis tot uitnemendheid, billikheid, respek en aanspreeklikheid in Kode 2040. Etiek moet ingebed wees in elke besluit, ongeag die skaal, om te verseker dat die Universiteit die daad by die woord voeg.
Hoe beplan jy om etiese praktyke en besluitneming regoor die Universiteitsgemeenskap te bevorder?
Sleutelstrategieë sluit in:
- Opvoeding en bewustheid: Opleiding om Kode 2040 prakties en relevant te maak om personeel te help om etiese gedrag in hulle rolle te verstaan.
- Duidelike kommunikasie: Die verskaffing van toeganklike en praktiese etiese riglyne en instrumente vir daaglikse gebruik.
- Oop dialoog: Skep 'n veilige omgewing om etiese bekommernisse te opper sonder vrees vir vergelding.
- Lei deur die voorbeeld te stel: Werk saam met leiers die voorbeeld te stel ten opsigte van etiese gedrag en gee van bo af die toon aan.
Hierdie benaderings sal etiese gedrag met daaglikse bedrywighede integreer en 'n kultuur van verantwoordelikheid en vertroue ondersteun.
Wat het jou belangstelling in bedryfsetiek geprikkel, en watter ervarings het die rigting van jou loopbaan op hierdie gebied bepaal?
Etiek was nog altyd deel van my lewe. Ek het op hoërskool as onderhoofmeisie en direkteur van dissipline die nakoming van skoolreëls bevorder en dissiplinêre verhore gelei. Hierdie ervaring het my laat besef hoe belangrik dit is om aktief 'n etiese kultuur te bou, eerder as om net te reageer wanneer onetiese gedrag voorkom. Op universiteit het my studie my waardering vir sake-etiek en die impak daarvan op die samelewing verdiep. Hierdie passie het voortgeduur in my loopbaan, waar ek geleer het dat etiese beginsels soos respek en deernis uitnemendheid en aanspreeklikheid dryf. Oor die jare was die een goue draad die besef dat alle mense eties behandel wil word – dit is die sleutel tot die bevordering van betrokkenheid en innovasie.
Hoe het jou akademiese en professionele agtergrond jou vir hierdie rol voorberei?
My akademiese reis het saam met die vrystelling van die King-kode IV geval, wat my begrip van korporatiewe bestuur en bedryfsetiek gevorm het. My meestersgraadverhandeling het op etiese korporatiewe bestuur in Suid-Afrika se openbare en private sektore gefokus, wat my 'n stewige grondslag in etiek verskaf het. Ek het as 'n gesertifiseerde etiekbeampte organisasies oor etiek geadviseer, beleide hervorm en leierskaptransformasie ondersteun. My vorige rolle het die vestiging van etiekkantore en die verskaffing van bestuursondersteuning behels. Hierdie ondervinding het my vir hierdie rol by die US voorberei.
Water persoonlike waardes of beginsels is noodsaaklik vir die bevordering van etiese gedrag in organisasies?
Geduld, vriendelikheid en 'n opregte begrip van ons verskille is noodsaaklik vir sterk werksverhoudings. En integriteit, deursigtigheid, regverdigheid en aanspreeklikheid is die hoekstene van die bevordering van etiese gedrag. Wanneer hierdie waardes individueel en organisatories omhels word, floreer etiese gedrag.
Watter belangstellings of stokperdjies help jou buite jou professionele lewe om 'n gesonde balans tussen werk en lewe te handhaaf?
Ek prioritiseer altyd gehaltetyd saam met vriende en familie. Die koestering van hierdie betekenisvolle verhoudings is 'n goeie herinnering daaraan dat die lewe meer is as net ons professionele verantwoordelikhede. Ek is nie juis baie avontuurlustig nie, maar ek doen moeite om te reis en nuwe plekke te sien. Om te reis en verskillende kulture te beleef help my om te herlaai en 'n balans te handhaaf.
Wat is jou onmiddellike prioriteite in jou nuwe pos?
Aangesien dit 'n nuwe pos is, is die onmiddellike prioriteit om 'n sterk grondslag te lê. Dit sluit 'n 'Etiek- en geleentheidsrisiko-assessering' in om die US se etiese profiel te bepaal en leemtes in huidige riglyne te identifiseer. Opleidings- en bewusmakingsinisiatiewe sal ook verbeter word om te verseker dat die belangrikheid van etiek in bedryfsbesluite regoor die instelling verstaan word.
Watter boodskap wil jy oordra oor die belangrikheid van bedryfsetiek in die hoër onderwys?
Bedryfsetiek in die hoër onderwys gaan nie net oor nakoming nie – dit gaan oor die vorming van toekomstige leiers wat komplekse etiese uitdagings navigeer. Deur etiek by onderrig in te sluit, leer studente om die gevolge van hulle besluite nie net vir organisasies nie, maar ook vir die samelewing, die omgewing en gemeenskappe te oorweeg. Dit verseker dat US-gegradueerdes toegerus is om 'n betekenisvolle, etiese invloed op die wêreld te hê.
-
Tlotliso Molefi, Nakomingsbeampte
Voordat sy die nakomingsbeampte by die US se Sentrum vir Oorsigbestuur, Etiek en Nakoming geword het, het Molefi as nakomingsbeampte by die Universiteit van die Vrystaat gedien, waar sy 'n rol die vestiging van die kantoor gespeel het. Molefi is 'n nakomingspraktisyn (SA) by die Nakomingsinstituut van Suider-Afrika (CISA) en 'n internasionaal gesertifiseerde nakomingsptsktidyn (ICCP) by die Internasionale Federasie van Nakomingsverenigings (IFCA). Molefi is passievol oor korporatiewe bestuur en etiek en het 'n nagraadse diploma in risikobestuur (UNISA) en 'n BTech-graad in interne ouditkunde.
Wat het jou geïnspireer om 'n loopbaan in nakoming te volg, en wat is die dryfveer vir jou passie vir hierdie gebied?
Ek het my professionele loopbaan in interne oudit begin en sê altyd nakoming het my gekies. Dit het 'n beduidende oorgang geverg, maar ek geniet hoe dit bydra om te verseker dat bedryfsdoelwitte op 'n voldoenende en etiese manier bereik word. Die rol bied ook blootstelling aan alle aspekte van die organisasie, begrip van bedryfsaktiwiteite en interaksie met uiteenlopende belanghebbendes. Nakoming hou jou ook op jou tone, gegewe die vinnige evolusie van die regulatoriese omgewing. 'n Mens moet voortdurend potensiële bedreigings en uitdagings verwag wat soms vinnige verandering en aanpassing vereis.
Wat is die hoofverantwoordelikhede van die Nakomingskantoor by die US?
Die US moet verseker dat sy bedrywighede en aktiwiteite aan nakomingsverpligtinge voldoen, en dat interne beleide en prosedures nagekom word. Die Nakomingskantoor help deur die nodige ondersteuning, leiding en raad te verskaf om hierdie aksies moontlik te maak. Dit speel 'n toesighoudende rol om te verseker dat nakomingsbeheerstelsels doeltreffend is, swak plekke proaktief geïdentifiseer word, verbeterings in werking gestel word en interne beheermaatreëls verbeter word om herhaling te voorkom.
Hoe sou jy jou rol en prioriteite beskryf?
My rol is om die US-gemeenskap by te staan, te ondersteun en te adviseer om die vereistes van eksterne wette en interne beleide te voldoen. Sleutelprioriteite sluit die identifisering, assessering en bestuur van nakomingsrisiko's in. Bewusmakings- en opleidingsinisiatiewe word uitgevoer om te verseker dat nakomingsverantwoordelikhede verstaan en geïmplementeer word ten einde die vlak van nakoming te monitor en 'n kultuur van nakoming te bevorder.
Wat is jou persoonlike waardes wat jou werk rig?
"'n Verbondenheid daartoe om die regte ding te doen, selfs wanneer niemand kyk nie" en "Doen aan ander soos jy wil hê hulle aan jou moet doen", wat integriteit toon en vertroue bou. Dit moedig jou aan om ander met respek, regverdigheid en empatie te behandel.
Watter ander belangstellings het jy behalwe jou werk?
Om tyd saam met my familie deur te bring, hou my geaard. Ek geniet dit ook om te mediteer en na musiek te luister – dit is my terapie – en om deel te neem aan aktiwiteite wat my brein stimuleer.
Wat is jou doelwitte as die nakomingsbeampte by die US?
Ek beoog om voort te gaan om by te dra tot die ontwikkeling van die Kantoor. Dit sluit die ontwikkeling en bywerking van nakomingsbestuursdokumente, die uitvoer van nakomingsidentifikasie, assesserings, bestuur, monitering en verslagdoening in. En om voortdurend 'n ingebedde nakomingskultuur te bevorder waar die regte ding as die norm beskou word en nakoming as die eerste verdedigingslinie teen risiko's soos boetes, operasionele ontwrigtings of reputasieskade beskou word. Nakomingsrisikobestuur moet volwasse en volhoubaar wees en in die US se DNS geïntegreer word.
Watter boodskap wil jy aan US-personeel, studente en belanghebbers oordra oor nakoming?
Nakoming is nie net 'n regmerkie of 'n hindernis vir bedryfsake soos dit soms beskou word nie – dit is 'n kritieke komponent van die US se bedrywighede. Dit help om regs- en finansiële risiko's te vermy, bou vertroue by belanghebbendes en handhaaf die instelling se reputasie. Deur aan regulatoriese vereistes te voldoen, demonstreer die US sy verbintenis tot 'n etiese en verantwoordelike praktyk en verseker die welstand van sy belanghebbendes. Nakoming is 'n spanpoging en daarom is dit noodsaaklik dat ons as 'n geheel saamwerk, want almal wat met die US geassosieer word, speel 'n deurslaggewende rol in die bevordering van 'n kultuur van eerlikheid, deursigtigheid en aanspreeklikheid om 'n veilige, etiese en verantwoordelike omgewing te verseker.
Wat maak jou die meeste opgewonde om by die US te werk?
In net meer as drie maande het ek reeds 'n sterk nakomingsmodel gesien danksy die grondslag van my voorganger. Ek is opgewonde om op hierdie grondslag voort te bou, en bowenal met die US-gemeenskap saam te werk en 'n proaktiewe, voorkomingsgerigte benadering tot nakoming in hierdie vinnig ontwikkelende, dinamiese en lonende omgewing te volg.
FOTO's: Ubaid Abrahams