Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jonathan Jansen ontvang gesogte toekenning vir lewenslange bydrae
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 29/01/2025

Die Universiteit Stellenbosch (US) kondig met trots om dat prof Jonathan Jansen, 'n uitgelese professor in die opvoedkunde, deur die Amerikaane Opvoedkundige Navorsingsvereniging (AERA) as die 2025-ontvanger van die organisasie se Afdeling B-toekenning vir Lewenslange Bydrae aangewys is.

Prof Wim de Villiers, die Universiteit se Rektor en Visekanselier, het Jansen gelukgewens met die “welverdiende" eer. “Dit is aangenaam om namens die Universiteit Stellenbosch prof Jansen geluk te wens met hierdie gesogte toekenning vir sy lewenslange bydrae. Hierdie wêreldwye erkenning weerspieël prof Jansen se reusebydrae tot onderwysnavorsing en sy onwrikbare verbondenheid daartoe om kritieke uitdagings in die onderwys in Suid-Afrika en internasionaal aan te spreek. Ons is uiters trots om hom as kollega te hê en vier hierdie welverdiende toekenning saam met hom."

Hierdie toekenning is vir Jansen baie persoonlik. In nabetragting oor die toekenning, het hy 'n aangrypende herinnering gedeel: “Ek was destyds as 'n jong nagraadse student baie trots op my Stanford-professore toe hulle die toekenning vir hulle lewenslange bydrae van die voorste opvoedkundige navorsingsorganisasie ter wêreld, die Amerikaanse Opvoedkundige Navorsingsvereniging (AERA), ontvang het," sê Jansen. "Om nou die 2025-ontvanger te wees, is dus 'n baie groot stuk genade wat ek met vreugde ontvang, terwyl ek altyd aan diegene sal dink wat dit vir my moontlik gemaak het, insluitende die baie ruim ondersteuning vir my navorsingswerk van die Universiteit Stellenbosch."

'n Lewe toegewy aan die opvoedkunde en verandering

Jansen se loopbaan is tot dusver gekenmerk deur sy vermoë om komplekse opvoedkundige omgewings te navigeer, skole en universiteite te transformeer terwyl gelykheid, insluiting en uitnemendheid bevorder word. Hy het sy doktorsgraad aan die Stanford-Universiteit verwerf en word hy wyd gevier vir sy navorsing oor die politiek van onderwys, kurrikulumverandering en leierskap in verdeelde samelewings. As voormalige visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat het Jansen die instelling deur transformerende versoeningsprosesse gelei ná die omstrede Reitz Vier-voorval. Hy het ook 'n sleutelrol in die aanspreek van die landwye Fees Must Fall-veldtog gespeel om 'n balans tussen studente se bekommernisse en institusionele volhoubaarheid te vind.

Jansen se onlangse werk buite die universiteitsomgewing is 'n voorbeeld van sy diepe verbondenheid tot sosiale geregtigheid en gemeenskapsimpak. In Januarie 2024 het hy saam met die Hoërskool Crestway in Retreat begin werk nadat dié skool die laagste matriekslaagsyfer van 35% in die Wes-Kaap behaal het. Aangevuur deur sy passie vir onderwys en 'n persoonlike verbintenis met die gemeenskap waar hy grootgeword het, het Jansen nou saam met die skool se toegewyde personeel gewerk om 'n omkeerstrategie in werking te stel. Binne 'n jaar het die matriekslaagsyfer tot 66% gestyg – 'n merkwaardige verbetering wat deur vroeë-oggendklasse, mentorskap en die bevordering van 'n kultuur van uitnemendheid aangedryf word.

Jansen se jongste eerbetoon is 'n toevoeging tot 'n lang lys internasionale en plaaslike toekennings wat erkenning gee aan sy bydraes tot onderwys en die samelewing. Hy is in 2023 formeel as 'n lid van die Amerikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap in Cambridge, Massachusetts ingehuldig.

Afgesien van sy verpligtinge by die US, waar hy impakvolle navorsingsprojekte lei en opkomende akademici mentor, toon Jansen steeds sy geloof in die krag van onderwys om lewens te transformeer en skeidings te oorbrug.

  • Die lewenslangebydrae-toekenning word op 24 April by die AERA se jaarkongres in Denver, Colorado aan Jansen oorhandig.