Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee sterrekundiges sluit by US se Fisika-departement aan as buitengewone fakulteitslede
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 27/01/2025

Die Departement Fisika in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Natuurwetenskappe, is opgewonde om twee sterrekundiges in sy geledere te verwelkom – Dr Rob Adam as ereprofessor, en Dr. Charles Takalana as buitengewone dosent.

Dr Adam spog met 'n lang, uitnemende loopbaan waar hy 'n sleutelrol gespeel het in die ontwikkeling van wetenskap en tegnologie in Suid-Afrika. Hy het in verskeie hoedanighede gedien wat onder andere insluit: as adjunk-direkteur-generaal van Wetenskap en Tegnologie (1996), direkteur-generaal van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, hoof-uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Kernkragkorporasie, direkteur van die Vierkante Kilometer Reeks of “Square Kilometer Array (SKA)" Suid-Afrika, asook direkteur van die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie-sterrewag.

Ter erkenning van sy prestasies het die US se Fakulteit Natuurwetenskappe in Desember 2023 'n eredoktorsgraad in die natuurwetenskappe aan Dr Adam toegeken. Gegewe sy uitgebreide lys van prestasies in wetenskapsnavorsing, beleidsontwikkeling en -bestuur, is Dr Adam die ideale persoon om 'n bydrae te kan lewer tot die groei van die Departement Fisika wat reeds oor kapasiteit in kernfisika en 'n onlangs gevestigde astrofisika-navorsingsgroep beskik. Dr Adam lewer ook 'n beduidende bydrae as adviseur by die Paarl Africa Underground Laboratory (PAUL)-konsortium, waarin die Departement Fisika 'n leidende rol speel.

Dr Charles Mpho Takalana het 'n agtergrond in sterrekunde en astrofisika, met navorsing wat fokus op die ondersoek van die kosmologiese 21 cm-agtergrondsein van die Donker Eeue en die Tydperk van Reïonisasie, deur gebruik te maak van differensiële waarnemings van sterrestelselswerms deur die  SZE-21 cm, 'n vorm van die Sunyaev-Zel'dovich-effek.

Hy het gedurende 2021-2023 as hoof van die sekretariaat by die Afrika- sterrekundevereniging (AfAS) gedien. Hy was ook 'n sterrekundebeleidsnavorser by die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie-sterrewag en die Suid-Afrikaanse Departement van Wetenskap en Innovasie. In hierdie rol het hy die implementering van die Suid-Afrikaanse Multigolflengte Sterrekundestrategie ondersteun en die ontwikkeling van 'n lewendige sterrekundegemeenskap met die tegniese kapasiteit om verskeie sterrekundeprojekte te implementeer. Hy dien tans as adjunkdirekteur van die International Astronomical Union – Office of Astronomy for Development (IAU-OAD).

Met sy fokus op 21 cm-astrofisika en sterrestelselvorming en -evolusie, sal Dr Takalana saam met die astrofisikanavorsingsgroep in die departement werk en ook voorgraadse studente onderrig.  

Prof. Yin-Zhe Ma, professor in astrofisika in die Departement Fisika, sê die teenwoordigheid van bogenoemede twee wetenskaplikese sal van onskatbare waarde wees om die departement se wetenskaplike en opvoedkundige uitsette te verhoog. Dr Adam en Dr Takalana sal beslis ook belangrike rolmodelle wees wat die volgende generasie wetenskaplikes en sterrekundiges inspireer.