Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch gons terwyl Universiteit voorberei om nuwe Maties te verwelkom
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Anel Lewis]
Gepubliseer: 23/01/2025

​Duisende opgewonde nuwelingstudente en hulle gesinne sal na verwagting oor die volgende paar dae op Stellenbosch aankom voor die Universiteit se amptelike verwelkomingseremonie volgende Donderdag, 30 Januarie.

Ná 'n dag van inligtingsessies en bekendstellings sal prof Wim de Villiers, uittredende Rektor en Visekanselier van die US, sy laaste verwelkomingstoespraak vir nuwe studente by die Danie Craven-stadion lewer.

Daarna sal studente omstreeks 20:00 by hulle koshuise of pendelstudentegemeenskappe (PSG'e) aansluit vir die langverwagte Droomoptog in Victoriastraat. Studente sal onder leiding van akademiese personeel en studenteleiers in Victoriastraat afstap om die amptelike begin van hul akademiese reis aan die US te vier.

Die optog sal onder Victoriastraat se bekende laning plataanbome deur beweeg met die bome  wat in maroen lint getooi en versier sal wees met briefies deur studente wat hulle onderskeie hoop en drome vir hulle tyd op universiteit uiteensit. Sedert die bekendstelling in 2019 het die Droomoptog 'n hoogtepunt van die nuwelingprogram geword. 

Soos 'n 2024-nuweling ná die ervaring geskryf het: "Ek het die Droomoptog in Victoriastraat geniet, want daar was baie ouers en mense wat ons toegejuig het soos ons verbygestap het. Ek het meer as welkom in die Maties-familie gevoel. Die Droomoptog was die beste oomblik van my lewe. " Familie en vriende is toeskouers by die simboliese optog wat met 'n groepfoto eindig.

Die program is ontwerp om studente aan te moedig om nuwe vriende te maak en meer oor die Universiteit te leer. Geleenthede sluit die Verwelkomingsfees in waar studente meer oor sport en vereniging op kampus te wete kom en 'n Klusterdag waar hulle ander nuwe studente in hulle kluster ontmoet. Hulle berei in groepe voor vir hulle optredes wat by Connect ("Vensters") plaasvind, raak betrokke by 'n Sosiale Impakoggend en neem aan 'n atletiekbyeenkoms deel.

Verwelkoming sluit Saterdag 8 Februarie af met Connect ("Vensters") by die Welgevallen-hokkievelde. Vanjaar se tema is: Vensters 2025: The Sound of Stellies – die musiekblyspel. Beplande geleenthede hier sluit in 'n gesinsvriendelike fees met nuwelingoptredes, plaaslike en studentestalletjies wat kos verkoop, kreatiewe kunsvlyt en interaktiewe aktiverings. Koshuise en PSG'e werk saam en ding mee om die beste dansroetines op die verhoog uit te voer.

Die akademiese jaar begin amptelik op Maandag 10 Februarie wanneer klasse 'n aanvang neem.

Klik hier om die amptelike verwelkomingswebwerf te besoek en hier vir die program.

Volg @maties_connect op Instagram vir meer inligting.

Foto: Stefan Els