Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-student oorkom 2 hartoperasies om as fisioterapeut te gradueer
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Anel Lewis]
Gepubliseer: 09/12/2024

​Sy pa se afsterwe, twee opehartoperasies en finansiële uitdagings het Schwann Chavalala nie daarvan weerhou om sy BSc in Fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch te gradueer nie.

Die student, wat van Tiyani, 'n dorpie in Limpopo, afkomstig is, het in die voetspore van sy suster, wat in die MBChB-program was, gevolg toe hy in 2019 vir sy graad ingeskryf het. Hy erken hy het eers in sy matriekjaar regtig verstaan wat fisioterapie behels. Maar dit was terwyl hy sy ouma versorg het wat Parkinsons gehad het en fisiese hulp benodig het, dat hy sy voorliefde om mense te help, besef het. "Fisioterapie het soos die perfekte manier gevoel om my liefde om ander te help met 'n betekenisvolle loopbaan te kombineer."

Hoewel dit hom gehelp het om sy suster op kampus te hê – Chavalala beskryf haar as iemand wat nog altyd "meer as 'n broer of suster en ook 'n vriend en beskermer" was – moes hy gou die harde finansiële werklikhede van universiteitsstudie in die gesig staar. "Ek het nie regtig die gewig van finansiële la gevoel totdat ek hier aangekom het nie. Om dit te hanteer, het ek allerhande geldmaakskemas begin." Om geld te maak, het Chavalala en 'n vriend student-tot-student-ondernemings begin, insluitende die verkoop van bokse en tweedehandse yskaste. "Ons het selfs verhuisingsdienste teen 'n fooi aangebied. Hierdie werk het sakgeld en 'n bietjie ekstra verskaf om met my broers en susters te deel."

In 2023 het hy verreweg sy grootste terugslag beleef toe sy pa oorlede is. "Sy afsterwe het my hard getref en amper my studies ontspoor." Asof dit nie genoeg van 'n struikelblok was nie, is Chavalala kort ná sy pa se begrafnis met 'n hartkwaal gediagnoseer wat twee opehartoperasies vereis het. Die hospitaalverblyf en onderbreking in sy studies het sy finansiële situasie vererger en Chavalala met studenteskuld belas.

Chavalala sê hy was gedurende" daardie verskriklike tyd "doodbang". "Nie net oor die agterstand in my studies nie, maar ook oor die baie werklike vrees dat ek kon sterf." Hy skryf sy vermoë om ondanks al hierdie probleme deur te druk, toe aan sy ondersteuningstelsel. "Ek was werklik geseënd om baie simpatieke dosente te hê wat my geakkommodeer het en my gehelp het om in te haal. My familie en vriende het seker gemaak dat ek altyd versorg was en het emosionele en praktiese hulp aangebied. Hulle liefde en aanmoediging het my deurgedra, en danksy hulle ondersteuning kon ek deur elke dag kom en uiteindelik na my studies terugkeer. Dit is danksy hulle dat ek vandag hier is."

Verder het die ervaring hom 'n nuwe perspektief op sy gekose beroep gegee. "Met my teruggekeer na die hospitaal vir my praktika, was ek meer deernisvol, geduldig en gedrewe om te verseker dat elke mens wat ek versorg, gewaardeer voel. Ek wil hê elke pasiënt moet bly wees dat ek deel van hulle sorgspan was. Sy senior lektor in die Departement Gesondheids- en Rehabilitasiewetenskappe, Leoné Williams, sê Chavalala se "kanniedood-ingesteldheid" het hom deur die moeilike tye gedra. "Hy het 'n plan van aksie uitgewerk en met 'n ekstra dosis toewyding en deursettingsvermoë tot middel November gewerk om sy kliniese ure te voltooi sodat hy as fisioterapeut kon gradueer."

Volgens Chavalala spruit sy veerkragtigheid en deursettingsvermoë uit sy liefde vir sy gesin. "Waar ek vandaan kom, is sukses nie net joune nie; dit behoort aan almal. Wanneer jy misluk, voel almal dit, en wanneer jy slaag, is dit 'n oorwinning vir die hele gesin." Hy beklemtoon dat sy graad, wat by die US se Desember-gradeplegtigheid toegeken is, vir sy broers en susters, sy oorlede pa, sy ma, sy ouma wat 'n "besonder spesiale rol gespeel het" en "almal wat ooit vir my gebid of iets opgeoffer het sodat ek hier kon wees", is.

Ter afsluiting voeg Chavalala by: "Ek is werklik 'n produk van soveel sorgsame hande en gebede. Dit verg regtig 'n dorpie, en ek is so dankbaar vir myne." ​​

Foto: Stefan Els