MFM 92.6, die Stellenbosse gemeenskapsradiostasie wat vanuit die Neelsie-studentesentrum op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) uitsaai, het nie minder nie as ses benoemings ontvang in die jaarlikse Telkom-radiopryse.
Die benoemings is:
- Stasie van die jaar (kampus).
- Middagprogram-aanbieder (kampus): Wilné van Rooyen.
- Ontbytprogram (kampus): MFM Breakfast Show (aangebied deur Sibulele Ndudula).
- Ontbytprogram-aanbieder (kampus): Sibulele Ndudula.
- Beste program oor nuus, politiek en aktuele sake (kampus- en gemeenskapstasies): The Daily Vibe (uitgesaai op Maandagaande en aangebied deur Lesedi Mnisi).
- Aandprogram (kampus): Siyakhula Live (uitgesaai op Woensdagaande en aangebied deur Katlego Letlonkane).
Programme wat tussen April 2023 en Maart 2024 vervaardig is, kon vir die kompetisie ingeskryf word. Die wenners word op Saterdagaand 30 November 2024 tydens ’n galadinee in die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg aangekondig.
“Die Telkom-radiopryse vereer uitsonderlike prestasies in die Suid-Afrikaanse radiobedryf en stel ’n norm waarna alle radiostasies en professionele mense kan streef,” volgens die kompetisie se webblad.
MFM saai sewe dae per week en 24 uur per dag regoor die groter Stellenbosch en omliggende wynlandgebiede uit op die frekwensie 92.6 FM, asook wêreldwyd deur middel van ’n stromingsplatform. Die stasie word bestuur deur die US se Afdeling Institusionele Strategie, Navorsing en Analitika, wat gesetel is in die Verantwoordelikheidsentrum: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake.
Relevant en nuuswaardig
Steyn du Toit, MFM se inhoudbestuurder, sê hierdie meertalige radiostasie is al die afgelope drie dekades die hartklop en hoeksteen van gemeenskapsradio.
“Die stasie se blywende sukses is vasgeknoop aan ons onderneming om ’n jong, dinamiese en nadenkende gehoor te dien. Ons luisteraars – hoofsaaklik 16 tot 30 jaar oud – is weetgierige individue wat baie omgee oor onderwerpe soos sosiale geregtigheid, gelykheid en aktuele sake. Hulle is nie net passiewe ontvangers van inligting nie. Hulle wil graag meedoen, ’n bydrae lewer en help om gesprekke te voer wat saak maak. Hierdie aktiewe betrokkenheid is ’n groot inspirasie vir ons programmering, wat ’n fyn balans handhaaf tussen feitelike inhoud, wonderlike musiek en inligtingsvermaak,” sê Du Toit.
MFM wil graag relevant en nuuswaardig wees, sê Du Toit. Die stasie is daartoe verbind om waardevolle gesprekvoering te bevorder oor onderwerpe wat oor ’n breë spektrum wissel van aktuele sake, sport, kuns en kultuur, vermaak, musiek, wetenskap, sake, geslagsgebaseerde geweld, geestesgesondheid tot erfenis en bewaring, politiek en entrepreneurskap.
“Die afgelope jaar het ons verskeie hoëprofiel-onderhoude uitgesaai wat tekenend is van ons diverse en inklusiewe etos. Ons het vermaakkunstenaars en kreatiewe persoonlikhede van wêreldgehalte op die lug gehad – van die Grammy-bekroonde kunstenaar Eric Bellinger en die bekende plaaslike kunstenaar Porchie, tot die deurwinterde joernalis Ruda Landman, die ikoniese Nataniël en die veteraankomediant Casper de Vries.
“Ons het ook gesels met invloedryke persone soos dr Mimmy Gondwe, adjunkminister van hoër onderwys, Amy Kleynhans, ’n voormalige Mej Suid-Afrika, en Rikku Ó’Donnchu, ’n bekroonde glanssjef. Hierdie gesprekke beklemtoon ons toewyding om ’n platform aan individue te bied by wie ons luisteraars kan aanklank vind en wat hulle inspireer en inlig.
“Ons verbintenis met en betrokkenheid by die Stellenbosse gemeenskap is egter net so belangrik. Mettertyd het ons betekenisvolle vennootskappe gevorm, byvoorbeeld met die gerespekteerde Buro vir Ekonomiese Navorsing wat by gereelde insetsels betrokke is. Ons voer onderhoude met verskeie kundiges, navorsers en akademici van die Universiteit, maar ook met gemeenskapsleiers en plaaslike nuusmakers. Die Skool Spot-insetsel, as ’n voorbeeld, bied ’n geleentheid aan plaaslike hoërskoolleerlinge om hulle eie programme aan te bied.
“Geestesgesondheid is ’n fokuspunt met dr Ange Nespola, ’n sielkundige op Stellenbosch, wat aan weeklikse gesprekke deelneem om luisteraars te help om verskeie uitdagings die hoof te bied. Ons bied ook lugtyd aan plaaslike welsynsorganisasies en instellings, soos KANSA Stellenbosch en Huis Horison, om hulle belangrike werk te deel en die gemeenskap op te hef,” sê Du Toit.
Kragtige opleidingsprogram
Sedert 2022 het MFM meer as 50 nuwe omroepers opgelei deur middel van ’n gestruktureerde en omvattende opleidingsprogram. Om momentum te behou en groei te verseker, word nuwe vakleerlinge twee keer per jaar ingeneem, touwys gemaak en deurlopend gementor.
“Ons is trots daarop dat ons jong, geesdriftige stemme ontwikkel wat glo in uitnemendheid en inhoud saamstel wat ’n transformerende uitsaai-ervaring aan almal bied,” sê Martin de Abreu, programbestuurder in die Afdeling Institusionele Strategie, Navorsing en Analitika en waarnemende stasiebestuurder van MFM.
“Die afgelope paar jaar het ons betekenisvolle groei ervaar. Ons gefokusde en kragtige opleidingsprogram sluit in die volle spektrum van vaardighede wat nodig is in die moderne uitsaaiwese. ’n Belangrike onderbou tot ons benadering is om deeglike voorbereiding, navorsing en uitvoering te verseker, gerugsteun deur goeie stelsels en prosesse.
“In ons daaglikse werk beklemtoon ons ook ’n kultuur van waardesgebaseerde bestuur en interaksies. Deur ontluikende, diverse stemme aan te moedig om nie net te vermaak nie, maar ook in te lig en ’n verhouding met hulle gemeenskap te bou, probeer ons seker maak elke program het diepte en ’n transformerende impak. Ons pluk reeds die vrugte hiervan as ’n mens kyk na die gehalte, verskeidenheid en kaliber van ons inhoud, gaste, vennote en die voortgesette betrokkenheid van ons gehoor.”
De Abreu sê die personeel se harde werk oor die afgelope paar jaar begin om vrugte af te werp en die benoemings dui op die vooruitgang en sukses van die stasie. Hulle kan egter nie op hulle louere rus nie – die werk om die stasie te verstewig is ’n deurlopende inisiatief wat in komende jare sal voortduur.
“Hetsy deur ons talentvolle span uit te brei of ons luisteraarsgetal te vermeerder, MFM streef altyd daarna om bekend te wees vir sy professionaliteit, toewyding en vermoë om op ’n betekenisvolle manier met ’n breë, diverse gehoor te gesels oor uiteenlopende idees en onderwerpe.”
Skakel in op 92.6 FM, stroom via https://mfm.co.za/ of volg MFM op Instagram en Facebook.
Bron: https://radioawards.co.za/