Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ANIME-konferensie ondersoek meertaligheid, inklusiwiteit en akademiese uitnemendheid
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 27/11/2024

Akademici en administrateurs van universiteite oor die wêreld heen het vroeër vandeesmaand by die Universiteit Stellenbosch (US) byeengekom vir die jaarlikse konferensie van die Akademiese Netwerk vir Inklusiwiteit, Veeltaligheid en Uitnemendheid (ANIME).

Die ANIME-konferensie is deur US Internasionaal aangebied en het verteenwoordigers van 13 hoëronderwysinstellings in Europa, die Midde-Ooste, Afrika en Suid-Amerika byeengebring. Deelnemers was betrokke by besprekings, werksessies en kulturele aktiwiteite wat ten doel gehad het om die ANIME-netwerk se missie van die kweek van inklusiewe en veeltalige akademiese gemeenskappe te bevorder. Vakkundige besprekings is ook aangebied oor hoe meertaligheid kognitiewe vaardighede en aanpasbaarheid onder studente kan verbeter.

Prof Deresh Ramjugernath, die US se Adjunk-visekanselier: Leer en Onderrig en die aangewese Vise-kanselier, het die Universiteit se verbintenis tot inklusiwiteit en veeltaligheid in sy verwelkomingstoespraak benadruk. “Vir ons is veeltaligheid en inklusiwiteit meer as net aspirasies," het hy gesê. “Dit is noodsaaklike komponente van ons institusionele identiteit en ons missie as ʼn universiteit. Ons sien dit as ʼn belangrike deel van wie ons is en dit is in ons identiteit verweef."

Ramjugernath het besin oor die Universiteit se historiese uitdagings rakende inklusiwiteit en taalerkenning binne Suid-Afrika se diverse linguistiese landskap. Hy het ook gewys op die US se pogings om sy taalbeleid te hersien en die diskoers van ʼn debat oor Engels of Afrikaans te verskuif na die omarming van die diversiteit van die land se amptelike tale.

“Ons het eerstehands ervaar dat meertaligheid op sosiale gebied kulturele respek en wêreldburgerskap bou deur diverse groepe te verbind," het Ramjugernath gesê. “Op akademiese gebied bevorder dit inklusiwiteit deur studente van verskeie taalagtergronde en van buite ons kampus te verwelkom en open dit professionele deure, wat studente toerus om wêreldwyd te floreer terwyl kulturele erfenis bewaar word."

Die rol van die US se Taalsentrum is uitgelig as deurslaggewend in die bevordering van die leer van taal oor die kampus heen.

Inklusiewe gemeenskappe

Prof Irini Tsamadou-Jacoberger, verteenwoordiger van die Universiteit van Straatsburg, die ANIME-netwerk se stigtersinstelling, het die belangrikheid van die konferensie se rigsnoere verduidelik. “Die ANIME-netwerk is noodsaaklik om ʼn onderling verbonde, diverse akademiese landskap te bevorder," het sy gesê.

Tsamadou-Jacoberger het die US-span, veral Robert Kotzé, Direkteur van US Internasionaal, bedank vir hul ondersteuning en toewyding om die derde jaarlikse ANIME-geleentheid aan te bied.

In haar hoofrede het dr Darla Deardorff, ʼn sleutelfiguur in die ANIME-netwerk en bekleër van die Unesco-leerstoel oor Interkulturele Vaardighede, gesê dis ʼn plesier om deelnemers in Stellenbosch te verwelkom ná die vorige byeenkomste in Sofia en Straatsburg.

Oor die rol van universiteite in die bevordering van die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 16 (vrede, geregtigheid en sterk instellings), het Deardorff daarop gewys hoe hoër onderwys tot die skep van regverdiger en meer inklusiewe samelewings kan bydra. “Universiteite is kennisspilpunte, maar hul invloed strek veel verder as die akademie," het sy gesê.

Deardorff het ook ʼn raamwerk van vyf beginsels vir interkulturele integrasie uitgestippel, wat fokus op gedeelde verantwoordelikheid, wederkerigheid, inklusiewe onderwys, burgerlike opvoeding deur gedeelde waardes en die herverbeelding van burgerskap. “Hierdie benadering verseker dat alle studente gewaardeer, ondersteun en ingesluit voel. Dit bevorder ʼn gevoel van behoort wat van deurslaggewende belang vir studentesukses en gemeenskapsimpak is," het sy verduidelik.

Prof Nico Koopman, Adjunk-visekanselier: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel aan die US, het in sy hoofrede oor transformasie in die hoër onderwys besin. Hy het transformasie beskryf as ʼn komplekse, nimmereindigende reis wat strukturele verandering én ʼn diepgaande skuif in institusionele kultuur vereis.

Koopman het die US se pogings uiteengesit om van uitsluiting na insluiting, van vervreemding na mede-eienaarskap, en van trauma en verwonding na genesing te beweeg. Hy het gewaarsku dat transformasie nie bloot ʼn geval van regmerkies in blokkies is nie, maar ʼn diepgaande, sistemiese verandering wat op ʼn individuele, institusionele en samelewingsvlak moet plaasvind. ʼn Sleutelkomponent van hierdie transformasie is die US se verbintenis tot dekolonisasie en Afrikanisering, het hy verduidelik.

Koopman het opgemerk dat diversiteit en uitnemendheid nie opponerende kragte is nie, maar verweefde elemente wat deur universiteite geharmonieer moet word om te floreer.

Bemagtiging van gemarginaliseerde groepe

In ʼn sessie met die tema “Uitnemendheid in Inklusiwiteit" het dr Jan-Petrus Bosman, Direkteur van die US se Sentrum vir Leertegnologieë, die Universiteit se betrokkenheid by die African Higher Education in Emergencies Network (AHEEN) en sy transformerende Refugees and Displaced Persons (RDP) Pathways Project uitgelig.

Dié inisiatief het ten doel om Afrika-geleide, inklusiewe hoëronderwysoplossings aan vlugtelinge en ontheemdes oor Kenia, Somalië, Burundi, Suid-Soedan en Suid-Afrika heen te lewer, met 'n klem op die bemagtiging van gemarginaliseerde groepe deur middel van volledige graadprogramme.

Bosman het AHEEN se skeppingsreis beskryf, wat aangevuur is deur ʼn visie om die tekortkominge aan te pak van inisiatiewe van die Globale Noorde wat studente dikwels sonder ondersteuning laat wanneer befondsing eindig. As ʼn sleutelvennoot dra die US kundigheid in digitale pedagogie by om onderwyslewering in brose kontekste te verbeter. ʼn Vlagskip-aanbieding, die “Refugee-Ready Digital Pedagogy Training Course", rus opvoeders toe om doeltreffend in afgeleë gebiede met beperkte hulpbronne te onderrig.

Dié projek van agt jaar, wat deur die MasterCard-stigting gefinansier word, teiken meer as 3 500 studente, prioritiseer 75% van die beurse vir vroue en het ʼn beduidende fokus op studente met gestremdhede.

Die tweede dag van die ANIME-konferensie het met Afrika-universiteitedag saamgeval en die US se samewerking met Afrika-instellings is gevier. Dr Nico Elema, Direkteur van die Sentrum vir Samewerking in Afrika, het besprekings gefasiliteer oor projekte wat deur die African Collaboration Grant (ACG) ondersteun word. Sprekers het die kollig op uiteenlopende vennootskappe laat val, insluitend prof Lorna Dreyer se werk oor inklusiewe onderwys en vroue in die akademie; prof Thinus Booysen se verkenning van elektriese mobiliteit in Afrika suid van die Sahara; en Julia Harper se landbousamewerkingsvennootskappe wat voedselstelseluitdagings oor die vasteland heen aanpak.

“Billike vennootskappe en kontekstuele relevansie is van kardinale belang om die Afrika-agenda te bevorder," het Elema opgemerk en instellings aangemoedig om vertroue en wedersydse respek in hul samewerking te koester. (Lees hier​ meer oor die sessie.)

ʼn Smakie van Suid-Afrika

Benewens intense akademiese netwerkvorming tydens die konferensie, is die internasionale gaste ook op uitstappies geneem wat Suid-Afrika se unieke kulturele erfenis ten toon gestel en die gesprekke oor inklusiwiteit en versoening verryk het. Afgevaardigdes het wynplase besoek en na Kaapstad gereis vir middagete in die Bo-Kaap en ʼn toer deur die Distrik Ses-museum, wat aangrypende geskiedkundige konteks relevant tot die konferensie se subtema van “Konflikte: Geheue en Rekonstruksie" gebied het.

Nog ʼn hoogtepunt was ʼn besoek aan Amazink, ʼn restaurant en geleentheidsvenue in die hartjie van Kayamandi. Hierdie outentieke township-uitstappie het die internasionale gaste se begrip van die plaaslike sosio-kulturele konteks verryk.

Aan die einde van die konferensie het deelnemers optimisme uitgespreek oor die potensiaal om ANIME se impak uit te brei. “Hierdie netwerk beliggaam ʼn gedeelde verbintenis tot die bou van akademiese ruimtes wat diversiteit weerspieël en respekteer," het Tsamadou-Jacoberger gesê. Kotzé het saamgestem en die geleentheid beskryf as “ʼn inspirerende herinnering aan wat hoër onderwys deur samewerking kan bereik".​