Die Internasionale Raad vir Sportarbitrasie (ICAS), die beheerliggaam van die Hof vir Sportarbitrasie (CAS), het prof Thuli Madonsela, Direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), in hul geledere verwelkom.
Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het Madonsela gekies om vir die res van die 2023-'26-termyn in die ICAS te dien. Dié instelling, wat in 1994 gestig is, bestaan uit 22 lede met regskundigheid en hou toesig oor die administrasie en finansies van die CAS. Die CAS is ʼn globaal erkende instelling wat verantwoordelik is vir die oplossing van geskille in die sportsektor deur arbitrasie.
Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het sy hartlike gelukwensing aan Madonsela oorgedra. “Dit is ʼn welverdiende erkenning van haar onwrikbare verbintenis tot geregtigheid, regverdigheid en integriteit, waardes wat sy plaaslik én wêreldwyd met onderskeiding verpersoonlik," het De Villiers gesê. “Prof Madonsela se aanstelling is nie net ʼn trotse oomblik vir ons Universiteit nie, maar ook vir Suid-Afrika, omdat sy op die wêreldverhoog volhard in haar rol as kampvegter vir die beginsels van gelykheid en maatskaplike geregtigheid. Ons is vol vertroue dat haar wysheid en toewyding die ICAS en sy missie grootliks sal verryk. Die Universiteit Stellenbosch vier hierdie mylpaal saam met haar," het De Villiers afgesluit.
Madonsela het gesê sy voel uiters geëerd dat sy deur die ICAS aangestel is. “Ek aanvaar met dankbaarheid en nederigheid die geleentheid om my toewyding tot en perspektief op geregtigheid en regverdigheid uit te brei na die globale arena wat fokus op bestuur van die oplossing van sportgeskille onder die Hof vir Sportarbitrasie.
“Ek was veral verootmoedig deur my bekendstelling deur John Coates, die ICAS se President, tydens my eerste vergadering onlangs in Lausanne, waarin hy my reputasie vir toewyding tot regverdigheid en integriteit belig en geprys het. Die enigste rede vir hartseer is dat die geleentheid ontstaan het weens die ontydige heengaan van ʼn groot Suid-Afrikaanse regsgeleerde en kosbare vriend, Yvonne Mokgoro, ʼn voormalige regter van die Konstitusionele Hof. Ek sien uit na die voorreg om globale geregtigheid in sport te dien," het Madonsela gesê.
Sy is bekend vir haar bydraes tot die reg en maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika en het van 2009 tot 2016 as die land se Openbare Beskermer gedien, waartydens sy kwessies van wanadministrasie en korrupsie ondersoek en aangepak het. Sy beklee sedert Januarie 2018 die Regstrust-leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid aan die US, met die fokus op die bevordering van maatskaplike geregtigheid en menseregte.
Madonsela is in 2014 as een van Time100 se invloedrykste mense in die wêreld aangewys en as Forbes Africa se Persoon vir die Jaar 2016. Sy is ook ʼn lid van die African Academy of Sciences en die Scottish Writers to the Signet (WS) Society en is onlangs in die Verenigde Nasies (VN) se Wetenskaplike Adviesraad aangestel. Sy is voorts voorsitter van die Cities Alliance, wat deur die VN ondersteun word, en is ʼn lid van die International Anticorruption Conference Council.
Die CAS is ʼn onafhanklike instelling wat in Lausanne gesetel is en geskep is om sportverwante geskille deur arbitrasie of bemiddeling op te los. Die jurisdiksie van die CAS word deur alle Olimpiese sportfederasies en talle nie-Olimpiese federasies erken. Die organisasie registreer jaarliks ongeveer 900 gevalle.