Wêreldleiers kom van 11 tot 22 November by die COP29-klimaatberaad byeen om die klimaatskrisis te bespreek. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times skryf Kira Alberts van die Sentrum vir Navorsing oor Demokrasie (Credo) aan die Universiteit Stellenbosch dat klimaatvergaderings (oftewel, climate assemblies) lande in die globale Suide kan help om die impak van klimaatsverandering te verminder.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Kira Alberts*
Wêreldleiers is van 11 tot 22 November byeen vir nog ʼn poging tot kollektiewe klimaataksie by die COP29-beraad in Azerbeidjan. Maar vir talle in die globale Suide het die konferensie sinoniem geword met hol beloftes, geveinsde solidariteit en die blywende wanbalans van klimaatbestuur.
Dit is nie verbasend dat COP29 ʼn bittersoet oomblik vir die klimaatbeweging is nie. Aan die een kant was die dringendheid van die krisis nog nooit so duidelik nie. Aan die ander kant verdiep die klowe binne die globale gemeenskap. Vir die globale Suide sal die gesprek by COP29 na verwagting oor twee herhalende temas gaan: finansies en aanspreeklikheid.
Ontwikkelde lande het herhaaldelik versuim om hul beloftes oor klimaatsfinansiering na te kom, wat beteken kwesbare lande betaal die gelag vir ʼn krisis wat hulle nie geskep het nie. Intussen bly die aanspreeklikheidsmeganismes om uitlatings te verminder swak, veral vir die grootste besoedelaars.
Dit lei tot ʼn sleutelvraag: Is daar dalk ʼn beter manier waarop ons demokrasie kan inspan om klimaatsverandering die hoof te bied? Die opkoms van klimaatvergaderings, ʼn vorm van demokratiese innovasie wat in beraadslagende demokrasie gewortel is, bied ʼn paar interessante moontlikhede.
ʼn Klimaatvergadering is ʼn soort burgerlike byeenkoms met die opdrag om klimaatbeleid te rig. Dit word uit ʼn verteenwoordigende steekproef van die bevolking samgestel en is gegrond op die beginsels van beraadslagende demokrasie. Deelnemers word oor klimaatwetenskap opgevoed, van kundige insigte voorsien en aangemoedig om oor beleidsoplossings te beraadslaag. Hul aanbevelings het dikwels ʼn beduidende invloed op die beleidmakingsproses.
Die aanloklikheid van sulke byeenkomste lê in hul potensiaal om die dikwels gepolariseerde en onproduktiewe debatte wat tradisionele wetgewende liggame kenmerk, te systap. In plaas daarvan bevorder hulle ingeligte, deurdagte en bowenal inklusiewe dialoog. Sodoende hou hulle die belofte in om klimaataksie nie net ʼn tegnokratiese oefening te maak nie, maar ʼn demokratiese een.
Die globale Suide, insluitend lande soos Suid-Afrika, dra die grootste las van klimaatsverandering ondanks die feit dat hulle die minste tot die krisis bydra. Uiterste weersomstandighede, waterskaarste en stygende seevlakke tref kwesbare gemeenskappe die swaarste. Tóg word hierdie bevolkings dikwels van betekenisvolle besluitneming oor die klimaat uitgesluit.
In hierdie konteks kan klimaatvergaderings transformerend wees. Dink jou vergaderings in wat die stemme versterk van bestaansboere wat teen droogte veg, inwoners van informele nedersettings wat oorstromings verduur, of werkers in steenkoolmynstreke met ʼn onseker toekoms. Sulke forums kan verseker dat klimaatbeleid die geleefde realiteit weerspieël van diegene wat die meeste geraak word, eerder as om deur elites of buitelandse belange voorgesê te word.
Boonop kan sulke byeenkomste die koloniale nalatenskap uitdaag wat in globale klimaatbestuur ingebed is. Deur agentskap oor klimaatbesluite terug te eis, kan lande in die globale Suide die paternalistiese neigings van ryker nasies beveg. Hoekom moet lande wat die kwesbaarste vir klimaatineenstorting is, per slot van rekening staatmaak op prosesse soos COP wat hulle konsekwent gefaal het?
Suid-Afrika se klimaatdilemma is ʼn mikrokosmos van die globale Suide se uitdagings. Die land bly baie afhanklik van steenkool, wat vir sowat 80% van sy elektrisiteitsopwekking sorg. Die wegbeweeg van fossielbrandstowwe is ʼn ekonomiese en politieke mynveld, veral wanneer gemeenskappe oor die land heen van steenkool vir hul bestaan verantwoordelik is.
Dit is waar ʼn klimaatvergadering van groot waarde kan wees. Dit kan diverse belanghebbendes, mynwerkers, voorstanders van hernubare energie, wetenskaplikes en gemeenskapsleiers byeen bring om saam ʼn regverdige oorgang te karteer. Sonder so ʼn inklusiewe dialoog loop Suid-Afrika die risiko om ʼn “bevel-en-beheer"-benadering tot klimaatbeheer te perpetueer wat gemeenskappe vervreem en teenstand ontlok.
Suid-Afrika se posisie by COP29 is besonder twyfelagtig. Ons pleit vir “algemene maar gedifferensieerde verantwoordelikhede", maar ons afhanklikheid van steenkool ondermyn ons geloofwaardigheid. Die veelgeprese regverdige-energieoorgang-transmissieplan (JET IP) het hoofopskrifte gehaal, maar die implementering bly traag. Boonop bevraagteken baie mense of die finansieringspakket van $8,5 miljard werklik tot voordeel van diegene in die voorste linies van klimaatkwesbaarheid sal wees, of bloot korporatiewe en burokratiese belange sal dien.
Hierdie onsamehangendheid onderstreep die demokratiese beperkings in die kern van globale én nasionale klimaataksie. Besluite wat in verafgeleë raadsale en konferensiesale geneem word, vind dikwels nie aanklank by of bereik selfs die voetsoolvlak nie.
Klimaatvergaderings kan ʼn teenmiddel vir hierdie hiërargiese benadering wees. Hulle beliggaam demokratiese innovasie op sy beste: bemagtiging van gewone burgers om met komplekse kwessies te worstel, gevestigde belange uit te daag en saam oplossings te skep.
Vir Suid-Afrika kan die aanvaarding van klimaatvergaderings ook die breër krisis van vertroue in instellings aanpak. Openbare vertroue in die regering is aan die kwyn en die demokratiese dividend wat in 1994 belowe is, voel al hoe meer ontwykend. Deur mense regstreekse seggenskap in klimaatbeleid te gee, kan sulke vergaderings opnuut ʼn gevoel van agentskap en solidariteit kweek.
Natuurlik is sulke vergaderings geen wondermiddel nie. Hul sukses hang af van hoe ernstig regerings hul aanbevelings opneem. As ʼn blote simboliese gebaar kan hulle betekenisloos wees, en oorname deur die elite bly ʼn voortdurende risiko. Maar wanneer dit reg gedoen word, bied hulle ʼn oortuigende model vir hoe demokrasie in die aangesig van die klimaatkatastrofe nuwe lewe kan kry.
Soos wat die wêreld na ʼn onsekere klimaattoekoms voortstrompel, was die behoefte aan gewaagde, inklusiewe en demokratiese oplossings nog nooit groter nie. Klimaatvergaderings verteenwoordig ʼn tasbare manier om die gaping tussen retoriek en optrede te oorbrug, veral in kontekste soos Suid-Afrika waar klimaatkwesbaarheid met groot sosio-ekonomiese verskille gepaard gaan.
*Kira Alberts is ʼn meestersgraadstudent in politieke wetenskap en ʼn navorsingsgenoot by die Sentrum vir Navorsing oor Demokrasie (Credo) aan die Universiteit Stellenbosch.