Die Universiteit Stellenbosch (US) het verlede week die Suider-Afrikaanse Volhoubare Energie-konferensie (SASEC) aangebied, 'n toonaangewende platform vir navorsers, ingenieurs, bedryfspraktisyns en beleidmakers om die jongste vordering in volhoubare energie te bespreek.
Vanjaar se konferensie, wat van 13 tot 15 November 2024 in Somerset-Wes gehou is, het die deurslaggewende rol van navorsing, ontwikkeling en innovasie (RDI) in die aandryf van volhoubare energie-oplossings beklemtoon en die belangrikheid van wetenskapdiplomasie onderstreep om 'n Regverdige Energie-oorgang (Just Energy Transition) te navigeer.
Platform vir kennisdeling en samewerking
SASEC 2024 het 'n uiteenlopende reeks kundiges bymekaargebring om kritieke temas rakende volhoubare energie te bespreek. Die konferensie het bestaan uit hoofsessies, paneelbesprekings, 'n beleidsgesprek en gelyklopende sessies oor 'n wye reeks onderwerpe, insluitende son- en windenergie, bio-energie en die Regverdige Energie-oorgang.
Maar die kollig is gesteel deur “groen"-waterstof, wat sy naam ontleen aan die ekovriendelike produksiemetode wat hernubare energie gebruik en dit onderskei van ander soorte waterstof wat op fossielbrandstowwe staatmaak en 'n hoër koolstofvoetspoor het.
FUTURA Hydrogen Campus Southern Africa (HyCASA)
'n Hoogtepunt van die konferensie was die aankondiging dat die US en die Universiteit van Groningen (UG) in Nederland sal saamwerk om FUTURA HyCASA te vestig, 'n voorloper-navorsing-en-innovasie-spilpunt wat toegewy sal wees aan volhoubare energietegnologieë en groenwaterstof in Suider-Afrika. Die fasiliteit sal in of naby Stellenbosch gevestig word, wat in 'n sleutelposisie langs die Europa-Suider-Afrika groenenergiekorridor is.
Hierdie inisiatief is veral tydig, aangesien Europa aktief maniere soek om sy energievoorsiening te ontkool, en groenwaterstof word al hoe belangriker. Suider-Afrika, wat oorvloedige sonkragbronne het, het die potensiaal om 'n sleutelverskaffer van groenmolekules (waterstof en ammoniak) aan Europa te word.
Prof. Cristina Trois, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES) en Voorsitter van SASEC, het die ambisieuse doelwitte van die inisiatief uiteengesit:
- Vestiging van 'n toegewyde kampus met hipermoderne navorsingsfasiliteite en studenteverblyf.
- Die bevordering van interdissiplinêre navorsing en innovasie in hernubare energietegnologieë en waterstofproduksie, -berging en -benutting.
- Implementering van omvattende vaardigheidsontwikkelingsprogramme om professionele persone en studente toe te rus met die kundigheid wat nodig is vir die groeiende waterstofsektor.
- Inkubasie van nuwe ondernemings wat op waterstof fokus om ekonomiese groei en werkskepping te stimuleer.
Die motivering vir die inisiatief is gekoppel aan die dringende behoefte om PhD-opleiding in Afrika te vergroot en die verlies aan kundigheid van hoogs gekwalifiseerde energie-ingenieurs te bekamp, het Trois verduidelik. Vroeër vanjaar het die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) 16 nuwe koöperatiewe PhD-programme goedgekeur, met die verwagting om 1 000 PhD-ontvangers jaarliks binne die volgende dekade te laat gradueer.
Die US en UG is deel van die Afrika-Europa-kluster van Navorsingsuitnemendheid in Hernubare Energie (CoRE-RE), een van 21 sulke strukture wat verlede jaar gesamentlik deur ARUA en die Gilde van Europese Navorsingsintensiewe Universiteite gestig is. Die CoRE-RE het 'n teiken om 50 PhD-kandidate per jaar in te neem.
In ooreenstemming met ARUA se verbintenis tot diversiteit en insluiting, streef die PhD-program na 70%-inskrywing deur vroue. Hierdie klem op die bemagtiging van vroue word weerspieël in die naam van die HyCASA-inisiatief.
“Ons noem dit FUTURA, want dis die vroulike vorm van futuro, wat 'toekoms' in Italiaans beteken," het Trois verduidelik.
Die UG se prof. Lorenzo Squintani het die transformerende potensiaal van HyCASA onderstreep en dit vergelyk met 'n “maantuiglansering" wat die groenwaterstoflandskap totaal kan hervorm.
Squintani is 'n sleutelrolspeler in die Hydrogen Valley Campus Europe (HVCE)-inisiatief in Noord-Nederland, wat as inspirasie vir HyCASA dien.
Drywer van ekonomiese ontwikkeling
Die eerste hoofsessie van SASEC 2024 het gefokus op die belang van RDI in die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika en die streek.
Dr. Khavharendwe Rambau van Suid-Afrika se Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (DSTI) het die potensiaal van RDI uitgelig om uitdagings soos werkloosheid en ongelykheid te oorkom.
Prof. Sampson Mamphweli, die vorige direkteur van CRSES wat nou aan die hoof staan van die DSTI se Energiesekretariaat in die Suid-Afrikaanse Nasionale Energieontwikkelingsinstituut (SANEDI), het gefokus op die ontwikkelende energielandskap en die behoefte aan nuwe vaardighede en samewerkingspogings om die kompleksiteite daaraan verbonde te navigeer.
Wetenskapdiplomasie
Die tweede hoofsessie het die krag van wetenskapdiplomasie ondersoek om volhoubare energiekorridors te bou en 'n Regverdige Energie-oorgang te bestuur.
Prof. Scarlett Cornelissen van die US se Departement Politieke Wetenskap, wat die sessie gelei het, het gesê: “Ons is almal afhanklik van mekaar, en wetenskapdiplomasie is 'n belangrike werktuig om die uitdagings wat die wêreld in die gesig staar, die hoof te bied."
Eudy Mabuza, Suid-Afrika se wetenskapraadgewer by die Europese Unie (EU), en dr. Laurent Bochereau, EU-wetenskapraadgewer by die Afrika-unie (AU), het albei die belangrikheid van samewerking en vennootskappe in die bevordering van skoon energie beklemtoon.
'n Beleidsgesprek het diplomate van Italië, Duitsland, Japan, die Katalonië-streek van Spanje, België se streek Vlaandere en die Verenigde Koninkryk bymekaargebring om die rol van wetenskapdiplomasie in die navigering van 'n Regverdige Energie-oorgang te bespreek.
Nuwe vaardigheidsontwikkeling vir die Regverdige Energie-oorgang
Die laaste hoofsessie het gefokus op nuwe vaardigheidsontwikkeling vir die Regverdige Energie-oorgang. Prof. Prathieka Naidoo, wat die SA Navorsingsleerstoel in Groenwaterstofintegrasie en -oorgang aan die US beklee, het die behoefte aan inklusiewe en volhoubare programme beklemtoon om individue toe te rus met die vaardighede wat nodig is vir die veranderende energielandskap.
Dr. Natalie Kowalik van die US se Afrika Doktorale Akademie (ADA) het die uitdagings en geleenthede bespreek om navorsingskapasiteit in Afrika te versterk.
Band tussen akademie en bedryf
Ander hoëronderwysinstellings wat by SASEC 2024 teenwoordig was, het die universiteite van Kaapstad, Fort Hare en Pretoria, sowel as Nelson Mandela- en Walter Sisulu-Universiteit ingesluit.
Een van die borge van SASEC 2024 was GeoSUN, 'n CRSES-afwentel-maatskappy, wat ook by die geleentheid uitgestal het.
Riaan Meyer, uitvoerende hoof, het gesê: “Dit was wonderlik om by die konferensie met die verskillende universiteite te skakel. Ons verskaf sonkragsensors en ander metingstoerusting wat vir buitelugeksperimente gebruik word. Dit is altyd wonderlik om tyd saam met jou kliënte deur te bring en te hoor wat hul jongste navorsingsfokus is."
Bemagtiging van die volgende generasie
Die konferensie is voorafgegaan deur 'n werkswinkel gefokus op akademiese skryfwerk en entrepreneurskap, wat plaasgevind het onder die beskerming van die DSTI se Hernubare Energie Spilpunt-en-Speke (Hub-and-Spokes)-program, in samewerking met die ARUA Sentrum vir Uitnemendheid in Energie en die ADA aan die US.
Die US dien as die koördinerende spilpunt, met die Universiteit van Pretoria wat bydra in die sontermiese speek, Nelson Mandela-Universiteit en die Universiteit van Fort Hare in die sonfotovoltaïese speek, en die Universiteit van Kaapstad in die windenergie-speek. Hierdie netwerk van samewerking het deur die jare 600 meestersgrade opgelewer.
Die werkswinkel het 'n waardevolle geleentheid gebied vir nagraadse studente en navorsers aan die begin van hul loopbaan om hul vaardighede in akademiese skryfwerk te slyp en die kommersialiseringspotensiaal van innovasies in hernubare energie te verken.
Prof. Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het op die werkswinkel die US se verbintenis uitgespreek om Suid-Afrika se energie-uitdagings te help oplos.
Surath Simon, 'n meestersgraadstudent in hitte-oordrag en hernubare energie aan die US se Fakulteit Ingenieurswese, het die werkswinkel “besonder insiggewend" gevind en het daarna die konferensie bygewoon – 'n eerste vir hom.
“Ek is baie bly ek kan hier wees, want ek ontmoet baie mense en leer soveel nuwe dinge," het hy gesê.
US wys die pad aan
SASEC 2024 het die jongste vooruitgang in volhoubare energienavorsing en -innovasie ten toon gestel, met 'n spesifieke fokus op die potensiaal van groenwaterstof om die energielandskap te transformeer.
Die US speel deur sy navorsingsinisiatiewe, samewerking en verbintenis tot vaardigheidsontwikkeling 'n leidende rol in die soeke na volhoubare energie-oplossings vir Suid-Afrika en ander lande.
Die konferensie het gedien as 'n kragtige herinnering aan die deurslaggewende rol wat universiteite speel om globale uitdagings aan te pak en 'n meer volhoubare toekoms te skep.
FOTO: Prof. Cristina Trois, huidige Direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES), saam met haar voorganger, prof. Sampson Mamphweli (links), en prof. Wikus van Niekerk (regs), stigterdirekteur en Dekaan van Ingenieurswese (op sabbatsverlof), by die Suider-Afrikaanse Volhoubare Energie-konferensie SASEC 2024. FOTO: DESMOND THOMPSON