Elke Donderdagaand om 18:00 kom tientalle hardlopers, toegerus met koplampe, by Coetzenburg-sentrum in Stellenbosch byeen vir hul weeklikse roetedraf (trail run). Dit is die Stellies Shake Out, ʼn inisiatief wat gegroei het van ʼn klein groepie vriende in 2019 tot ʼn florerende gemeenskap van meer as honderd deelnemers.
Die inisiatief trek ʼn diverse groep mense aan – studente en personeel van die Universiteit Stellenbosch (US), werkende professionele persone en plaaslike inwoners. Saam is hulle ʼn gemeenskap wat toegewy is aan fiksheid en geestelike welstand.
“Oktober is Geestesgesondheid-bewustheidsmaand, en oefening is een van die beste maniere om geestesgesondheid te bevorder," sê dr Shaundré Jacobs, Sportwetenskapdosent by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en een van die groep se koördineerders. "Roetedraf kombineer kardiovaskulêre oefening met die voordele van in die natuur wees."
Die groep kom drie weke van die maand by Coetzenburg-sentrum byeen, en het een maandelikse "wegdraf" by óf Eden Forest, Botmaskop, óf Ida's Valley. Die groep, wat deur Simon en Jana de Waal gestig is, word nou deur Jacobs, Julian Vermeer en Mirko Steinhaege bestuur.
Hardlopers word in vier groepe georganiseer, elk gelei deur vrywilligers. Groepe wissel van stappers wat 5km voltooi tot hardlopers wat 10km in ʼn uur aflê. “Ons prioritiseer veiligheid en inklusiwiteit," verduidelik Jacobs. "Elke groep het ʼn leier en ʼn skoonveër om te verseker dat niemand agterbly nie."
Die inisiatief bly gratis, alhoewel deelnemers aangemoedig word om ʼn skenking te maak aan die Stellenbosch Trail Fund wat die roetes in stand hou. Wat begin het as ʼn veiligheidsmaatreël vir alleenlopers, veral vroue, het in ʼn hoeksteen van Stellenbosch se hardloopgemeenskap ontwikkel.
In 2022 het Jacobs begin met die jaarlikse Vrouedaglopie as deel van Stellies Shake Out. “Ons het groot getalle vroue gehad wat aangesluit het. Vir baie was dit hul eerste roetedraf." Hulle het ook 'n Vrouedag-seminaar in Augustus vanjaar gereël waar vroue aangemoedig is om vrae oor hardloop te vra, soos goeie voedingpraktyke, hoe menstruasie hul hardloop beïnvloed, sportsielkunde en vele ander onderwerpe.
Jacobs glo dat Stellies Shake Out ʼn belangrike inisiatief is wat belangstelling in roetedraf verhoog het. “Ons maak die sport meer toeganklik en stel mense bloot aan avontuur en die natuur. Daar is geen twyfel dat 'natuurbad' goed is vir geestesgesondheid en vir die siel nie. Al hierdie faktore het ons gehelp om ons getalle te verhoog."
*Om op hoogte te bly van weeklikse drawwe, kan belangstellendes @Stelliesshakeout op Instagram volg of by hul WhatsApp-groepe aansluit.