Prof Lambert Engelbrecht van die Departement Maatskaplike Werk in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het op Dinsdag 29 Oktober 2024 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was “Vyf olifante in die vertrek van maatskaplike werk: ʼn outo-etnografiese meta-ontleding".
Engelbrecht het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor sy navorsing om die onsigbare organisatoriese, sistemiese en strukturele oorsake en toestande bloot te lê wat doeltreffende maatskaplikewerk-dienslewering belemmer, asook om hierdie bevindings na uitvoerbare strategieë vir praktisyns, toesighouers, bestuurders en beleidmakers op die gebied van maatskaplike werk te herlei.
Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.
My primêre navorsingsveld is maatskaplikewerk-bestuur en -oorsig, met ʼn fokus op die impak van neoliberale beginsels op maatskaplike werk. Bestuur en oorsig in maatskaplike werk het eiesoortige kenmerke wat aansienlik verskil van dié in besigheid. Wanneer neoliberale of besigheidsgeoriënteerde bestuurs- en toesighoudingspraktyke maatskaplike werk infiltreer, word die waardegrondslag van die beroep verwring en verskuif die klem na kwantiteit, koste-effektiwiteit en doeltreffendheid eerder as om maatskaplike verandering, maatskaplike kohesie en die bemagtiging en bevryding van individue te bevorder.
As ʼn eerstelinie-maatskaplike werker, bestuurder van ʼn gemeenskapsentrum, toesighouer oor maatskaplike werkers, asook as ʼn lid van ʼn navorsingspan of as hoofondersoeker in verskeie plaaslike en internasionale navorsingsprojekte oor die afgelope drie dekades, het ek die toenemende agteruitgang van maatskaplikewerk-dienste in verskeie kontekste waargeneem, veral as gevolg van sosio-ekonomiese invloede. Hierdie invloede is die sigbaarste in die finansiering van maatskaplikewerk-dienste en die vorming van welsynsbeleide, wat dikwels ideologiese agendas dien eerder as om die behoeftes van die gemeenskap se mees kwesbare lede aan te pak. Hierdie bekommernis strook met ʼn gepaardgaande navorsingsbelangstelling, veral in die veld van finansiële maatskaplike werk, met ʼn spesifieke fokus op finansiële geletterdheidsopvoeding en die kapasiteitsontwikkeling van kwesbare huishoudings.
My belangstelling in hierdie area het ontstaan uit my ervaring as ʼn eerstelinie-gemeenskapswerker. Daar het ek agtergekom dat om kwesbare individue finansieel ongeletterd te hou, tesame met die gebruik van blote kontantoordragte as ʼn primêre vorm van die maatskaplike belegging- en armoedeverligtingstrategie, moontlik nog ʼn neoliberale benadering verteenwoordig om die status quo van kapitaalmarkte en politieke mag te handhaaf en uit te brei.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Die breër publiek, asook in sommige gevalle maatskaplikewerk-praktisyns, -toesighouers, -bestuurders en -beleidmakers self, neem dikwels onbewustelik deel aan die onsigbare nadelige invloede van neoliberaal-geïnspireerde ideologieë op maatskaplike ontwikkeling. Verskeie simptome van armoede in die samelewing word gewoonlik as hoofstroom-maatskaplike kwessies aangepak wanneer dit in die media opduik. Maar die welsynsorganisasies en -praktisyns wat hierdie simptome moet aanpak, ontvang karige ondersteuning en word dikwels as ondoeltreffend bestempel.
Dít is waar my navorsing relevant word: om die onsigbare of onderliggende organisatoriese, sistemiese en strukturele oorsake en toestande te ontbloot wat doeltreffende maatskaplikewerk-dienslewering belemmer, en om hierdie bevindings na uitvoerbare strategieë vir praktisyns, toesighouers, bestuurders en beleidmakers in die veld van maatskaplike werk te herlei.
Gegrond op jou navorsing, wat is van die groot uitdagings wat deur maatskaplike werk in Suid-Afrika in die gesig gestaar word?
Buiten die menigte maatskaplike probleme in Suid-Afrika wat hoofsaaklik deur armoede, werkloosheid, ongelykheid en uitsluiting veroorsaak word, bly die meeste eerstelinie-maatskaplike werkers in die land grootliks beperk tot krisisgedrewe statutêre behoeftes en rolle wat verband hou met kinderbeskerming binne staatsdepartemente met min hulpbronne, openbare maatskaplike welsynsorganisasies en spesifiek aangewese kinderbeskermingsorganisasies.
Maatskaplike ontwikkeling, as Suid-Afrika se welsynsbeleidsbenadering met die oogmerk om menslike en ekonomiese ontwikkeling vir alle kwesbare groepe te integreer, was bedoel om die verbruikersgedrewe welsynsmodel van die vorige politieke bedeling te vervang. Daar is egter nie aan die beloftes gestand gedoen nie, omdat die grootste deel van die maatskaplike ontwikkelingsbegroting aan maatskaplike toelaes toegewys is en direkte maatskaplikewerk-verwante dienslewering onvoldoende hulpbronne ontvang het. Ernstige begrotingsbesnoeiings, vertragings of die nie-betaling van staatsubsidies aan private maatskaplike welsynsorganisasies het hierdie organisasies onvolhoubaar gemaak, ondanks hul kritieke rol as die middelpunt van maatskaplike werk in die land, om dienste namens die regering te lewer en om gemeenskappe met min dienste en kwesbare bevolkings te bereik. Die voortbestaan van private maatskaplike welsynsorganisasies kan dus as een van die belangrikste uitdagings in maatskaplike ontwikkeling in die land beskou word.
Hoe kan hierdie uitdagings aangepak word?
Ofskoon die positiewe impak van welsynstoelae op die lewe van kwesbare individue en huishoudings erken en geprys word, moet die toewysing van die nasionale en provinsiale maatskaplike ontwikkelingsbegrotings en finansieringsmodelle vir direkte maatskaplike dienste die vennootskap tussen die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en private welsynsorganisasies op ʼn gelyke grondslag prioritiseer.
Alternatiewe finansieringsmodelle vir maatskaplike werk, vry van politieke ideologieë, bedrog en korrupsie, is noodsaaklik vir die volhoubaarheid van gesonde maatskaplikewerk-praktyke in die land. Die organisatoriese infrastruktuur, skakeling tussen departementele en organisasies, asook die werksomstandighede van maatskaplike werkers in die private én openbare sektore moet die welstand en intervensies van praktisyns bevorder en hulle sodoende in staat stel om kwesbare bevolkings doeltreffend te dien. Dit behoort as die grondslag te dien vir die aanpak van die land se talle maatskaplike uitdagings, veral dié wat met kinderbeskerming en die behoud van gesinne verband hou.
Om ʼn maatskaplike werker in Suid-Afrika te wees is nie kinderspeletjies nie. Wat kan gedoen word om hulle te bemagtig?
Die prioritisering van staatsfinansiering vir direkte maatskaplikewerk-dienste, veral om die organisatoriese infrastruktuur en hulpbronne van private én openbare maatskaplikewerk-organisasies te verbeter, asook om toegewyde en doeltreffende oorsig oor alle maatskaplike werkers met ʼn fokus op ondersteuning moontlik te maak, sal aansienlik tot die bemagtiging van maatskaplike werkers in die land bydra. Boonop kan die publiek ʼn deurslaggewende rol in hierdie bemagtiging speel deur as vrywilligers by maatskaplikewerk-organisasies betrokke te raak, hul kennis, vaardighede, tyd en hulpbronne in die gees van Ubuntu te deel en sodoende tot die nasie se maatskaplike ontwikkeling by te dra.
Jy het baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys deurgebring. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Wanneer uitdagings opduik, vind ek krag in die positiewe energie van familie, vriende en verrykende aktiwiteite, terwyl ek altyd bewus bly van die geweldige voorreg om in hoër onderwys te kan werk. Ek kry dikwels nuwe perspektief deur veldbesoeke, waar ek die skerp werklikheid ervaar wat deur maatskaplikewerk-praktisyns in die gesig gestaar word. Musiek, die natuur en die stories van mense wat teëspoed oorkom, is voortdurende bronne van inspirasie, wat my herinner dat terugslae ʼn natuurlike deel van die lewe is. Tóg beskik ons elkeen oor die vermoë om ʼn betekenisvolle verskil in ander se lewe en omstandighede te maak, al dink ons dis hóé nietig. En soms spruit die motivering om aan te hou bloot uit die stralende glimlag van ʼn student wat ʼn komplekse taak bemeester of ʼn moeilike toets geslaag het.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Vir die afgelope 32 jaar in die akademie was een van die grootste hoogtepunte van my loopbaan om direk met studente te werk. Ek het die voorreg om eerstejaarstudente aan hul heel eerste maatskaplikewerk-module bekend te stel, terwyl ek finalejaars deur hul laaste kursus begelei voordat hulle hul professionele reise aanpak. Ek hou ook toesig oor meesters-, doktorale studente en nadoktorale genote. Om die volledige evolusie van maatskaplike werkers te aanskou – van gretige voornemende studente tot florerende praktisyns, navorsers en soms kollegas – is ʼn ervaring van onskatbare waarde en werklik die grootste vreugde van my loopbaan.
Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Ek kon al voor skool klavier speel en musieknote lees. Gedurende my laer- en hoërskooljare het ek lesse op verskeie musiekinstrumente geneem en gevorderde musiekeksamens voltooi. My familie en onderwysers het geglo ek was bestem om ʼn musikant te word. My diepgaande liefde vir mense, gekombineer met my bekendstelling aan kwalitatiewe navorsingsmetodologieë, het egter uiteindelik die weg gebaan vir ʼn vervullende loopbaan as ʼn akademikus in maatskaplike werk. Tóg vul ek steeds elke moontlike oomblik van elke dag met musiek en luister na verskillende genres wat by my bui pas van die oomblik dat ek my oë soggens oopmaak totdat ek hulle saans toemaak!
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek bring elke beskikbare oomblik saam met familie en vriende deur, en ek is ʼn passievolle reisiger wat gretig is om nuwe plekke te verken en met diverse mense en kulture te skakel. Oor die afgelope twee dekades het ek elke jaar minstens een nuwe land besoek en ek beplan om my avonture voort te sit en nog baie meer in die toekoms te ontdek.