Hoe voel dit om die persoon te wees wat telefoonoproepe maak na die wêreld se voorste wetenskaplikes en navorsers om vir hulle te sê dat ʼn Nobelprys vir Wetenskap aan hulle toegeken is? Vanjaar se Kanselierslesing aan die Universiteit Stellenbosch (US) het antwoorde op hierdie boeiende vraag verskaf toe prof Göran Hansson, ʼn leiersfiguur in die Nobelprys-stelsel, insig in die binnewerking van die wêreld se mees gesogte toekennings gebied het.
Die Kanselierslesing, wat deur die US en die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (Stias) aangebied is, was ʼn verrassende verkenning van die Nobelprys se geskiedenis, betekenis en keuringsproses.
As ʼn voormalige Vise-voorsitter van die Nobel-stigting wat self 67 Nobelpryswenners oor hul toekennings ingelig het, het Hansson se lesing gewemel van feite en amusante staaltjies in ʼn kykie agter die skerms oor die “Oscars vir bleeksiele", soos hy die Nobelpryse beskryf het.
In sy verwelkomingsboodskap het die US se Rektor en Vise-kanselier, prof Wim de Villiers, gesê die Nobel in Afrika-inisiatief, waarvan die Kanselierslesing ʼn hoogtepunt is, is meer as ʼn vennootskap met die Nobel-stigting en die Royal Swedish Academy of Sciences. “Dit is ʼn platform wat die wêreld se voorste wetenskaplike denkers byeenbring en samewerking bevorder wat die toekoms van ons vasteland én die wêreld kan vorm," het De Villiers benadruk. “Ons is werklik geëerd om prof Hansson by ons te hê. Hy is ʼn toonaangewende kardiovaskulêre immunoloog, geneeskundige wetenskaplike en iemand wat baie weet van die innerlike werking van die keuse van Nobelpryswenners."
Aan die begin van sy lesing het Hansson erkenning gegee aan Suid-Afrika se indrukwekkende Nobel-nalatenskap en verwys na die land se uitgelese pryswenners, van dr Max Theiler se Nobelprys vir Geneeskunde in 1951 vir die ontwikkeling van die geelkoors-entstof tot JM Coetzee se Letterkundeprys in 2003. Hansson het genoem dat hy die Nobelplein in Kaapstad se V&A Waterfront en die standbeelde van Suid-Afrika se Vredespryswenners, hoofman Albert Luthuli, aartsbiskop Desmond Tutu, oudpres. FW de Klerk en oudpres. Nelson Mandela, gaan besigtig het.
Oorsprong van die Nobelprys
Hy het vertel van die geskiedenis en evolusie van die Nobelpryse, wat deur die bekende Sweedse chemikus, uitvinder en filantroop Alfred Nobel tot stand gebring is. Met sy dood in 1896 het Nobel in sy testament bepaal dat ʼn fonds gestig moet word vir die toekenning van pryse aan diegene wat die mensdom uitsonderlik bevoordeel. Hierdie besluit het sy familielede geskok, wat verwag het om sy fortuin te erf, het Hansson opgemerk. Interessant genoeg het Nobel se testament bepaal dat nasionaliteit nie die toekenning van pryse mag beïnvloed nie – ʼn revolusionêre konsep tydens ʼn era wat deur ongebreidelde nasionalisme gekenmerk is.
Hansson het die onderskeie rolle verduidelik wat die verskillende toekenningsinstellings, soos die Royal Swedish Academy of Sciences en die Noorweegse Nobel-komitee, in die kies van die pryswenners speel. Hy het ʼn fassinerende insig in die uitdagings van die Nobel-komitee met die toekenning van die Vredesprys gebied. Anders as die ander pryse, waaroor Sweedse instellings besluit, word die Vredesprys deur die Noorweegse Nobel-komitee toegeken, waarvan die lede deur die Noorweegse parlement verkies word. Dit maak die proses selfs meer kompleks.
Die Nobel-komitee evalueer genomineerdes op grond van hul bydrae se oorspronklikheid en betekenis vir die mensdom, het Hansson verduidelik. Hy het benadruk dat die keuringsproses streng is en ten doel het om baanbrekerswerk in elke veld uit te lig.
“Daar is een maatstaf vir ʼn Nobelprys vir Wetenskap, en dit is ontdekking. Die Nobelprys word toegeken vir ontdekking, nie vir wetenskaplike leierskap nie, nie vir lewenslange prestasie nie. As jy nie iets ontdek nie, sal jy nie die prys kry nie. Dit maak nie saak hoeveel wonderlike lesings of oorsigartikels jy gedurende jou loopbaan gelewer het nie," het Hansson benadruk.
Die lede van die Nobel-keurkomitee neem hul verantwoordelikheid baie ernstig op, het hy gesê. “Ons werk hard om die ontdekkers te identifiseer, want ons voel die druk dat ons die geskiedenis van wetenskap skryf en ons wil nie verkeerd wees nie. Ons wil geloofwaardig bly. En dit beteken dat dit heelwat tyd kan neem." Op ʼn manier skryf die Nobelpryse “die vooruitgang van die beskawing", het Hansson bygevoeg.
Hy het die veeleisende reis van nominasie tot toekenning in besonderhede beskryf. Daar is sowat 700 nominasies vir elke prys en evaluering vind deur verskeie siklusse plaas voordat ʼn wenner gekies word.
Kontroversie
In die lesing is ook oor die Nobel-komitee se uitdagings uitgewei, onder meer die ontwikkelende landskap van wetenskaplike ontdekkings, die kompleksiteit van spangebaseerde navorsing en die behoefte om regverdigheid en verteenwoordiging oor verskillende streke en velde heen te verseker. Hansson het opgemerk dat hoewel vordering gemaak is, daar nog veel gedoen moet word om billike verteenwoordiging oor alle velde heen te verseker.
Hy het nie weggeskram van omstrede aspekte van die Nobelprys nie, insluitend noemenswaardige weglatings soos Mohandas Gandhi vir die Vredesprys en die Britse chemikus Rosalind Franklin vir haar DNS-werk, asook problematiese toekennings soos die Geneeskundeprys in 1949 vir lobotomie. Hy het verduidelik dat hierdie gevalle gehelp het om die huidige noukeurige, meerjarige evalueringsproses te vorm.
Hansson het die emosionele belewing beskryf om Nobelpryswenners persoonlik oor hul toekennings te verwittig. Elke oproep word deur afwagting en opwinding gekenmerk. “Ek het die voorreg gehad om 67 pryswenners te bel en almal van hulle was gelukkig. Ek het altyd formeel gevra: 'Aanvaar jy die prys?' Almal het 'ja' gesê, en sommige het selfs verbaas geklink dat ek gevra het."
Die gehoor het verskeie vermaaklike staaltjies oor die verwittiging van wenners aangehoor, insluitend die storie van die David MacMillan, wenner van die Chemie-prys in 2020, wat die oproep oor die aankondiging herhaaldelik beëindig het omdat hy oortuig was dit is ʼn grap. “Ek wed jou $1 000 dit is ʼn slenter," het dié Skotse wetenskaplike se SMS aan sy mede-pryswenner, Benjamin List, gelui. Volgens Hansson het MacMillan later vir hom gesê: “Jy het my vandag $1 000 gekos ... maar ek het die Nobelprys gewen, so ek dink dis oukei."
Hansson het roerend vertel hoe die Geneeskundekomitee in 2011 ʼn Nobelprys aan Ralph Steinman van Kanada toegeken het; onwetend dat hy kort voor die aankondiging aan kanker gesterf het. Hansson het ʼn foto gewys van Steinman se weduwee wat die toekenning namens hom ontvang het en die aangrypende oomblik beskryf toe Claudia Steinman ʼn simboliese soen vir haar man geblaas het.
'Daai ander vrou'
Die mees onvergeetlike oproep was toe een van Hansson se voorgangers die pryswenner vroegoggend by sy huis gebel het. “Sy vrou het geantwoord en die Sekretaris-generaal het gevra om met professor so en so te praat. Haar antwoord was: 'Hy's by daai ander vrou'," het Hansson tot groot vermaak van die gehoor vertel.
Hy het voorts kritieke Nobelprys-kwessies bespreek, soos die historiese onderverteenwoordiging van vroue en wetenskaplikes uit Afrika, Suid-Asië en Suid-Amerika. Hansson het hierdie uitdagings erken, maar ook onlangse vordering in veral geslagsverteenwoordiging benadruk. Hy het verwys na 2018, toe al vier wetenskaplike Nobel-komitees deur vroue gelei is, insluitend prof Juleen Zierath wat by die Stellenbosch-lesing teenwoordig was.
Hansson het die Nobelprys se voortgesette aansien aan verskeie faktore toegeskryf: die 123-jarige nalatenskap, die kombinasie van wetenskap, kultuur en vrede, en bowenal die indrukwekkende prestasiegeskiedenis. “Vandag voel alle nuwe Nobelpryswenners dat hulle in Einstein se voetspore volg," het hy opgemerk.
Ter afsluiting het Hansson jong navorsers in die gehoor aangemoedig om uitnemendheid na te streef en betekenisvolle bydraes tot hul veld te maak. Hy het daarop gewys dat daar nog plek is vir nuwe pryswenners uit streke soos Afrika. “Ons hoop vir nominasies en verskeie soorte bydraes van vakkundiges hier in Stellenbosch, in Suid-Afrika en op hierdie vasteland. Ons hoop dat ons in die nabye toekoms Nobelpryse vir Wetenskap aan Afrikane sal kan toeken," het hy gesê en bygevoeg: “Werk dus hard, studente! Ons wag vir julle om Stockholm toe te kom."
FOTO: Stefan Els