Begunstigdes van maatskaplike toelaes, veral bejaardes of enkelmoeders, word steeds geteiken deur ongeregistreerde of informele geldskieters (algemeen bekend as loan sharks, mashonisas of skoppers) wat die staat se maatskaplike toelaes as sekuriteit vir hoërentelenings gebruik. Om dinge te vererger is daar geen wetlike regulering van hierdie gewetenlose geldskieters nie.
Dít is volgens ʼn nuwe verslag, “Collaborations to Curb Indebtness", wat onlangs vrygestel is. Die verslag is saamgestel deur Deborah James (Londen School of Economics and Political Science), Odwa Nweba (die Universiteit Stellenbosch Regskliniek), Amanda Rinquest (Black Sash) en Kabelo Teme (Nasionale Finansiële Ombudskema Suid-Afrika – NFOSA).
Soos die verslag se titel aandui, wou die skrywers help om onwillekeurige skuld, veral onder die ontvangers van welsynstoelae, te takel en hok te slaan deur opleiding aan gemeenskapsleiers, leke-adviseurs en gemeenskapsregsassistente te bied en evalueringswerksessies te gebruik om saam kennis op te bou en praktiese oplossings te vind.
Die opleidingsessies het ʼn reeks onderwerpe gedek, soos ʼn oorsig van die Nasionale Kredietwet; om geld te skuld en skuld te hê; verbruikersregte; skuldverligtingsmeganismes; regstappe wat met skuld verband hou (soos die verjaring van skuld ná drie jaar, ballonbetalings en die kansellasie van kredietooreenkomste met volle betaling); kontraktering met ʼn skuldeiser; bestuur van geld; kredietburo's en die verwydering van skuld uit kredietrekords; en die rol van stokvelle of roterende kredietverenigings in spaar en leen. Hulle het met verskeie gemeenskapsgebaseerde organisasies oor alle provinsies in Suid-Afrika heen saamgewerk om hierdie sessies aan te bied.
Die skrywers wys daarop dat ontvangers van toelae, wat dikwels dringend toegang tot krediet nodig het, nie geld op ʼn regverdige grondslag kan leen nie.
“Aangesien hulle nie vir lenings van formele uitleners kwalifiseer nie, het hulle dikwels geen ander alternatief as om by informele uitleners of mashonisas te leen nie. Dié leen geld teen onwettige rentekoerse uit (tussen 30% en 100% per maand) en gebruik vorme van aanvullende sekuriteit soos om leners se Sassa- of bankkaarte en ID-boeke vir lang tydperke te hou, selfs vir altyd.
“Dit is veral die geval by ontvangers van kinderondersteuningstoelae, toelae vir ouer persone en ongeskiktheidstoelae. In uiterste gevalle hou informele geldskieters leners as't ware gevange en op ʼn basiese vlak van bestaan deur hulle van die minimum voedsel te voorsien en sommige skuld te betaal. In een geval het ons gehoor van mashonisas wat lewensversekering – met hulleself as die begunstigdes – namens leners uitgeneem het, maar sonder om hulle in te lig."
Om sake te vererger maak wetgewing nie voorsiening vir begunstigdes van toelae om hulle tot die reg te wend wanneer toelae as sekuriteit vir mashonisa-lenings gebruik word nie en kon hulle nie veel raad oor hierdie onwettige aktiwiteitsfeer in hul Debt, Credit and Consumer Rights-handboek aan regsassistente bied nie, sê die skrywers.
“Baie mense is nie bewus van nie – of is bang – om na die ombudspersoon of reguleerders uit te reik. Maar ondanks die afwesigheid van formele regulering, het regsassistente en adviseurs reg oor die land met ʼn geleidelik ontwikkelende sin van wat regverdig en wettig is, maniere gevind om tussen geldskieters en leners te bemiddel.
“Ons het bewyse gevind van gemeenskapsregsassistente se vermoë om raad te gee oor hoe om vorentoe te beweeg en probleme reg te stel. In sommige noemenswaardige gevalle het hulle bruikbare raad gegee en kliënte in staat gestel om ʼn oplossing vir probleme met onwettige lenings te vind. Heelwat van die opleiding het betrekking gehad op formele krediet- en verbruikersooreenkomste, ʼn kennisgebied wat hulle nuttig gevind het om sake aan te pak."
Die skrywers sê een positiewe uitkoms van die opleidingsessies was die verspreiding en uitdra van kennis oor sekere kwessies wat met skuld en verbruikersregte verband hou. Die kennis wat by die werksessies opgedoen is, is versprei deur een-tot-een ontmoetings tussen regsassistente en diegene wat hulle adviseer. Hulle het ook werksessies in hul streke gehou.
“Werksessie-deelnemers wat mense met skuld adviseer, het die bruikbaarheid bevestig van die praktiese inligting wat aangebied is. Hulle het dit ook waardeer om meer te leer oor verbruikersregte en hoe om onbillike eise van krediteure of die onwettige konfiskering van meubels en ander huishoudelike goedere te hanteer."
Aanbevelings
Op grond van hul bevindings vra die skrywers vir versnelde onderrig oor en kennisoordrag van die regte van verbruikers en ontvangers van toelae deur die media te gebruik om voorbeelde van raadgewers of regsassistente se ervarings met die mees kwesbares te deel. Daar moet ook gereeld met inligtingstoere na gemeenskappe uitgereik word.
Hulle benadruk voorts die behoefte aan meer fondse om te verseker dat staatsdepartemente hul mandaat in landelike gemeenskappe nakom.
“Ons opleidingsessies het ʼn behoefte aan finansiële geletterdheid in landelike gebiede of gebiede met gebrekkige hulpbronne getoon. Finansiële insluiting beteken dat ons ook die kennis wat ons het so ver en so wyd as wat ons kan, sal uitdra. ʼn Gebrek aan sigbaarheid van beide die Nasionale Kredietreguleerder en die NFOSA in hierdie gemeenskappe het die potensiaal om verbruikers meer kwesbaar vir gewetenlose kredietverskaffers te maak.
“Daar is ook ʼn behoefte aan buigsame en innoverende oplossings wat toeganklik en koste-effektief is om voort te bou op bestaande bemiddelingspraktyke en om gemeenskapsregsassistente in staat te stel om die vaardighede wat hulle deur die opleiding bekom het, te gebruik om informele geldskieters aan te moedig om hul sake binne die raamwerk van die reg te doen en/of om ingevolge die Nasionale Kredietwet (NKW) te registreer.
“Deur opvoeding en doeltreffende skakeling met regeringsliggame sal informele uitleners aangemoedig word om binne die raamwerk van die reg te werk. Dit sal ook sekere geldskieters in staat stel om hul besighede te registreer en sodoende aan die regulasies van die NKW te voldoen."
Die skrywers voeg by dat die Nasionale Tesourie, die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die Departement van Binnelandse Sake ʼn geïntegreerde benadering in werking moet stel, eerder as om in silo's te werk.