Drie chemie-dosente in die Universiteit Stellenbosch se Departement Chemie en Polimeerwetenskap is ingelyf as genote van die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut (SACI).
Professors Delia Haynes, Bert Klumperman en Willem van Otterlo het erkenning van van SACI ontvang vir 'n verskeidenheid dienste aan hul vakdissipline wat bydraes tot wetenskaplike navorsing, prestasies in die leer en onderrig van chemie, en effektiewe leierskap binne die breër chemie-gemeenskap kan insluit.
Prof. Haynes spesialiseer in die veld van kristalingenieurswese met multikomponent molekulêre kristalle. Dit behels die begrip en die gebruik van intermolekulêre interaksies/wisselwerking om molekulêre materiale te ontwerp met interessante en nuttige bruikbare fisiese eienskappe. Sy is in 2021 verkies as eerste president van die nuutgestigte Afrika-kristallografie Vereniging. Sy is reeds voorheen vereer vir haar navorsing as die ontvanger van die 2015 Jan Boeyens-toekenning en sy was in 2010 'n Fulbright-beurshouer.
Prof. Klumperman het vanaf 2006 tot 2022 die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture by die US beklee en sedert 2007 is hy 'n A-gegradeerde van die Nasionale Navorsingstigting. Hy het reeds verskeie toekennings ontvang waaronder die SACI Goue Medalje (2013), die SASOL-medalje as Innoveerder van die Jaar (2015), die Nasionale Wetenskaps- en Tegnologoieforum (NWTF) se Leeftyd-toekenning (2016), en die John FW Herschel-toekenning van die Royal Society of South Africa (2018).
Prof. Van Otterlo se navorsing fokus op die gebruik van moderne sintesemetodologieë vir die sintese van klein, funksionele organiese molekules. Van besondere belang is die gebruik van natuurlike produkte as strukturele muse vir die ontwikkeling van nuwe teenkanker-agente. Hy het ook reeds die SACI Raikes Medalje (2004), en die Alexander von Humboldt Stigting se Georg Foster Navorsingsgenootskap vir ervare navorsers ontvang. (2008-2009).
Boonop is Prof. Van Otterlo – ook tans die US departementshoof – verkies as 'n genoot van die Royal Society of South Africa (RSSAf). Die RSSAf wat in 1908 tot stand gekom het, word beskou as Suid-Afrika se voorste multidissiplinêre wetenskaspsorganisasie.
Nagraadse studente in die departement het ook húl deel gedoen. Dr Gestél Kuyler het die gesogte SACI Nagraadse Medalje ontvang as die beste PhD-student aan die US, terwyl Me Lisa de Wet die James Moir-medalje vir die beste honneurs-BSc-student in chemie vir 2023 ontvang het. Mnr Reece Tuck, 'n MSc-student in die departement het dieselfde toekenning ontvang (ook 2023) vir sy honneurs-BSc wat hy aan die Nelson Mandela Universiteit voltooi het.
Prof. Burtram Fielding, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die US het die pryswenners gelukgewens: “Ons is trots op julle. Baie dankie vir julle toewyding aan ons fakulteit en die groter chemie-gemeenskap."