Die room van Afrika- en Europese akademici het die afgelope week op Stellenbosch bymekaargekom as deel van 'n rigtinggewende en ambisieuse inisiatief wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) gefasiliteer is.
Meer as 200 akademici en navorsers het oor drie dae by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) byeengekom vir die eerste Afrika-Europa-konferensie oor Navorsingsuitnemendheid. Die geleentheid is saam aangebied deur die US, die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) en die Gilde van Europese Navorsingsintensiewe Universiteite.
Belangrike maatskaplike uitdagings word deur 21 gesamentlike klusters van navorsingsuitnemendheid (CoRE), gelei deur universiteite van elke vasteland, aangespreek deur vennootskappe oor vakgebiede heen en belyn hulle pogings met die AU-EU-innovasie-agenda. Hierdie groepe, wat meer as 169 instellings in 60 lande verteenwoordig, weerspieël ook die gedeelde verbintenis van Afrika en Europa om die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO's) aan te spreek.
Die konferensie was 'n belangrike mylpaal en het 'n unieke geleentheid gebied om innoverende oplossings te ondersoek en netwerke te versterk wat noodsaaklik is om die dringende uitdagings wat Afrika- en Europese samelewings in die gesig staar, aan te spreek.
Geskiedkundige samewerking
Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, het die internasionale gaste op Stellenbosch verwelkom en die gehoor herinner wat die voormalige president Nelson Mandela gesê het dat onderwys is die kragtigste wapen is om die wêreld te verander.
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het in sy verwelkomingstoespraak die geleentheid as 'n "geskiedkundige samewerking" beskryf om vindingryke, interdissiplinêre oplossings te gebruik om die huidige groot kwessies, van openbare gesondheidskrisisse tot klimaatsaanpassing, aan te spreek. "Ons is veral opgewonde oor die feit dat ARUA 'n ambisieuse doelwit gestel het om oor die volgende dekade jaarliks 1 000 PhD's by sy liduniversiteite te lewer. Dit is aspirerend en werklik inspirerend. Dit is nie net noodsaaklik vir ons vasteland se akademiese toekoms nie, maar ook om sommige van hierdie ontwikkelingsuitdagings wat ons wil aanpak, aan te spreek," het De Villiers gesê.
Die konferensie het interdissiplinêre samewerking as 'n belangrike komponent beklemtoon om komplekse globale uitdagings aan te spreek.
Prof John Gyapong, sekretaris-generaal van ARUA, het in die eerste plenêre sessie die dringende behoefte bespreek om Afrika se navorsingsuitsette aan te spreek en talent binne die vasteland te behou. Hy het 'n visie verwoord vir die verhoging van navorsingsuitsette wat van op Afrika-kontekste van toepassing is, terwyl samewerking met Europese vennote bevorder word.
Prof Jan Palmowski, sekretaris-generaal van die Gilde wat Europese universiteite verteenwoordig, het die belangrikheid van billike vennootskappe tussen Afrika en Europa beklemtoon om te verseker dat albei vastelande by langtermynsamewerking baat vind wat gedeelde uitdagings soos migrasie, klimaatsverandering en maatskaplike ongelykhede aanspreek. "Dit gaan nie net oor korttermynprojekte nie, maar 'n langtermynverbintenis om die wêreld se grootste uitdagings saam op te los," het hy gesê, met verwysing na die AU-EU-innovasie-agenda as 'n strategiese raamwerk vir samewerking oor die volgende dekade.
Prof Funmi Olonisakin, Visepresident (Internasionaal, Betrokkenheid en Diens) by King's College in die VK, het in haar hoofrede, die inisiatief as die bousteen van 'n akademiese beweging om die wêreld te verander, beskryf. "Hierdie samewerking gaan nie net oor navorsing nie; dit gaan daaroor om iets spesiaals, iets anders te skep," het sy gesê. "Ons is nie net navorsers nie; ons is veranderingmakers. Dit is hoe ons 'n beweging van kennisprodusente bou wat doeltreffend is om die samelewing te verander."
Olonisakin het die belangrikheid van billike vennootskappe beklemtoon en erken dat Afrika-universiteite dikwels deur strukturele ongelykhede benadeel word. "Ons begin nie op 'n gelyke voet nie. Ons moet bedag wees op hierdie gapings en billike raamwerke bou wat ander saam met ons bring," het sy gewaarsku en daarop gewys dat bestaande ongelykhede tussen Afrika- en Europese instellings, soos toegang tot infrastruktuur en finansiering, aangespreek moet word vir die vennootskap om te slaag.
Gedurende die konferensie het deelnemers aan wegbreeksessies en werkswinkels deelgeneem wat diepgaande besprekings oor onderwerpe soos geslags- en gesondheidsverskille, volhoubare ontwikkeling, waterhulpbronbestuur en kunsmatige intelligensie bevorder het.
Verteenwoordigers het in terugvoersessies van die verskillende klusters hulle sleutelprestasies uitgelig, insluitende die verkryging van finansiering, die vestiging van opleidingsprogramme, die bou van navorsingsnetwerke en publikasie in topvakatydskrifte. Uitdagings soos die uitbreiding van lidmaatskap, die verkryging van voldoende finansiering en hoe om administratiewe struikelblokke te oorkom, is ook bespreek.
Grondslag van maatskaplike geregtigheid
Op die tweede dag is die hoofrede deur
prof Thuli Madonsela, Direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid aan die US, gelewer. Sy het met groot entoesiasme oor die behoefte aan transdissiplinêre navorsing om komplekse maatskaplike uitdagings aan te pak, gepraat en het die Covid-19-pandemie as 'n gevallestudie gebruik. Madonsela het aangevoer dat die pandemie die beperkings van eng benaderings tot openbare gesondheid beklemtoon het wat aspekte soos geestesgesondheid en ekonomiese gevolge oor die hoof gesien het. Sy het beklemtoon dat maatskaplike geregtigheid 'n fundamentele element in navorsingsinisiatiewe moet wees. “Deur nie die voordele en laste van navorsing regverdig te versprei nie, loop ons die risiko om bestaande ongelykhede te vererger," het Madonsela afgesluit.
Sean Rowlands, die senior beleidsbeampte van die Gilde het 'n belangrike sessie aangebied en het 'n padkaart vir die ARUA-klusters verskaf om hulle pad deur die komplekse finansieringslandskap te vind en die moontlikhede van die AU-EU-innovasie-agenda te benut. Rowlands het die multilaterale aard van die klusters beklemtoon en verduidelik hoe hierdie struktuur duidelike voordele soos buigsaamheid, samewerking en langtermynbeplanning bied. Hy het opgemerk dat die ARUA-groepe reeds op die AU-EU-paneel vir hulle groot bydrae tot die gedeelde prioriteitsareas erken is. "Julle is reeds goed met die innovasie-agenda belyn, en dit plaas julle in 'n mededingende posisie om die navorsers te wees waarna hierdie oproepe soek," het Rowlands aan akademici gesê.
'n Belangrike paneelbespreking op die laaste dag van die konferensie het waardevolle insigte oor beleidskwessies verskaf. Die sessie het sleutelbelanghebbendes van die AU, EU, nasionale navorsingsagentskappe en universiteitsleierskap bymekaargebring om ondersoek in te stel oor hoe die nuutgestigte navorsingsgroepe kan help om die AU-EU-innovasie-agenda te bevorder.
Botho Kebabonye Bayendi van die Afrika-unie (AU) het navorsers aangemoedig om te verseker dat hulle werk direk tot die vasteland se ambisieuse doelwitte bydra, veral terwyl Afrika 'n "dekade van versnelling" betree. Bayendi het die konferensie se fokus op kwessies soos klimaatsverandering, voedselsekerheid en vaardigheidsontwikkeling – wat met die AU se strategiese doelwitte ooreenstem – geloof. "Wat ons sê, is Afrika-oplossings vir Afrika-probleme en die agenda moet burgergedrewe wees," het sy beklemtoon.
Dr Thandi Mgwebi van Suid-Afrika se Nasionale Navorsingstigting (NNS) het gekyk na hoe navorsing 'n deurslaggewende rol in Suid-Afrika se beleid oor inklusiewe groei en werkskepping speel.
Spelveranderende inisiatief
Volhoubare ontwikkeling was 'n groot fokusarea vir die paneelbespreking, met deelnemers wat verduidelik het hoe Afrika die omgewingsskadelike industrialiseringspaaie wat deur ander lande gevolg word, kan vermy. Die bespreking het tot die gevolgtrekking gekom dat die bevordering van beter verbindings tussen navorsers, regerings en die burgerlike samelewing die sleutel is om Afrika se dringende kwessies van klimaatsverandering tot openbare gesondheid aan te spreek.
Die konferensie het afgesluit met 'n inspirerende besinning oor wat bereik is en die pad vorentoe.
Professor Anders Hagfeldt, voorsitter van die Gilde en visekanselier van Uppsala-Universiteit in Swede, het gesê die bou van vertroue en die bevordering van samewerking vereis 'n diepgaande begrip van mekaar se agtergrond en geskiedenis, wat die waarde van luister in die skep van betekenisvolle vennootskappe versterk. "Ons kan met vertroue sê ons doen iets baie belangriks. Hierdie inisiatief is op baie vlakke spelveranderend," het Hagfeldt opgemerk.
Olonisakin het gesê dit is duidelik dat die konferensie 'n nuwe era in wetenskaplike onderneming inlui.
Prof Oluyemisi Bamgbose van die Universiteit van Ibadan in Nigerië het die inisiatief 'n "nuwe dagbreek" genoem en na die "gemeenskaplike menslikheid" wat sentraal gestaan het, verwys.
Palmowski het hierdie sentiment gedeel en gesê hy wil hulde bring aan die US se doeltreffendheid en leierskap in die aanbieding van die konferensie. "Ons het baie by mekaar geleer, en ons sal aanhou leer terwyl ons saam op hierdie reis is. Terwyl ons vergader, het die wêreld 'n baie donkerder plek geword. Dit moet ons aanmoedig om ons pogings te verdubbel, want daar is geen alternatief vir wat ons doen nie. Ek is daarvan oortuig dat ons werk nou nodiger is as ooit. Dit is 'n gemeenskap, en ons sal ons bes in die Gilde- en ARUA-kantore doen om hierdie poging te ondersteun."
Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake aan die US, het in haar slotopmerkings op die laaste dag van die konferensie die belangrikheid van vertroue en samewerking in die bevordering van die konferensie se doelwitte beklemtoon. Sy het met verwysing na die terugvoer van deelnemers opgemerk dat wanneer individue vir die eerste keer bymekaar kom, hulle dikwels 'n gevoel van kwesbaarheid bring. Sy het gesê dit is noodsaaklik om hierdie kwesbaarheid te oorkom vir die bou van doeltreffende spanne met vertroue as die grondslag van suksesvolle samewerking. "Ek glo eerlikwaar wat ons hier doen, is iets geskiedkundigs. Daar nêrens anders die omvang van die netwerk wat ons hier saam het en die geleentheid om werklik 'n verskil te maak nie," het Klopper ter afsluiting gesê.
Robert Kotze, Senior Direkteur: US Internasionaal, het die laaste woord by die konferensie ingekry. Hy het gesê dit is hierdie samekoms van Afrika en Europa se topakademici wat hy 32 jaar gelede in die vooruitsig gestel het toe hy die Internasionale Kantoor begin het. "Dit is 'n wonderlike ervaring om 'n plek te kan bied waar mense kan saamwerk om die wêreld 'n beter plek te maak," het Kotze gesê.
FOTO: Ignus Dreyer