Drie studente van die Universiteit Stellenbosch (US) was wenners in die Wes-Kaapse streekrondte van die Entrepreneurskapontwikkeling in Hoër Onderwys (EOHO) se Entrepreneurskap Intervarsity 2024-kompetisie.
Robyn Truter, stigter van Report Buddy; Alexandra Lutz, stigter van die aanlyn leerplatform Milani Education, en Chiedza Vushe, stigter van die fotografie-onderneming FineApplePixels, is onder die vier Wes-Kaapse studente wat in November in Johannesburg by finaliste van ander universiteite oor die land heen sal aansluit wanneer die kategoriewenners, nasionale Student-entrepreneur van die Jaar en die wen-universiteit aangekondig sal word.
Die US het onlangs vir die eerste keer die EOHO-streekrondte aangebied, waar van die Wes-Kaap se slimste jong denkers van die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Wes-Kaapland, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en die US hul potensiaal getoon het om Suid-Afrika se ekonomiese groei te beïnvloed.
Die kompetisie bestaan al ses jaar, word deur die Universiteitskapasiteitsontwikkelingsprogram gefinansier en word in vennootskap met die Allan Gray Orbis-stigting en die SAB-stigting aangebied. Die streekgeleentheid is moontlik gemaak deur finansiering van prof Stan du Plessis, die US se Uitvoerende Bedryfshoof, asook prof Sibusiso Moyo, die US se Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies.
Met die opening van die streekgeleentheid het prof Eugene Cloete, Uitvoerende Hoof van die Kaapse Hoër Onderwyskonsortium en voormalige Adjunk-visekanselier van die US, die deurslaggewende rol van entrepreneurskap in die aanpak van maatskaplike uitdagings benadruk. Met jeugwerkloosheid wat in 2024 tot 46,5% gestyg het, is dit nie meer ʼn lekker opsie om entrepreneurskap onder studente moontlik te maak nie, maar het dit ʼn noodsaaklikheid geword, het hy gesê.
Die hoofsprekers was dr Wessel Myburgh, medestigter van Urobo Biotech, ʼn US-afwentelmaatskappy, en Noku Katom, ʼn reeksentrepreneur en ʼn mentor by US LaunchLab. Hulle het insigte uit hul entrepreneurskapsreise gedeel en praktiese raad en inspirasie aan deelnemers gebied.
Prof Deresh Ramjugernath, Adjunk-visekanselier: Leer en Onderrig van die US, het deelnemers geprys dat hulle die geleentheid gebruik het om ʼn entrepreneurskapsingesteldheid te ontwikkel. “Die reis as entrepreneur is nie maklik nie. Jy het veerkragtigheid en geloof in jouself nodig. Moenie moed opgee as jou eerste idee nie werk nie, hou aan probeer al misluk jy."
Hy het bygevoeg dat kompetisies soos die EOHO ʼn belangrike rol speel om gegradueerdes vir die lewe ná universiteit voor te berei. “Universiteite bestaan nie net om gegradueerdes te lewer wat werk sal kry nie. Universiteite moet ook gegradueerdes lewer wat werk kan skep. Dit is wat ons nodig het om die ekonomie te laat groei."
Die US se studente-entrepreneurs het sedert April vanjaar nou saam met die US se LaunchLab-span gewerk om hul besighede te ontwikkel. Hulle is ingeskryf vir die ResNova-program, ʼn intensiewe opleidingsessie oor ses weke wat op kritieke vroeë-stadiumbehoeftes van beginner-ondernemings fokus.
Truter, wat Report Buddy vier jaar gelede begin het toe sy in gr. 11 was, sê die wen van die streekrondte het haar oortuiging bevestig dat haar maatskappy “regtig groot potensiaal het". Report Buddy het tot stand gekom toe Truter se ma, ʼn neurosielkundige, gekla het oor hoe lank dit neem om ʼn neurosielkundige verslag op te stel – minstens 20 uur. En heelwat van hierdie verslagskrywing is herhalend. “Ek het my ore gespits toe ek dit hoor en het nog ʼn paar vrae gevra."
Truter het haar destydse beginnerkennis van kodering toegepas om ʼn oplossing te vind en so die konsep gevorm vir Report Buddy, ʼn tydbesparende program waarin pasiënte se toetstellings opgeneem, berekeninge gedoen en ʼn verslag saamgestel word.
Haar raad aan aspirant-entrepreneurs is: “Moenie daaraan dink om ʼn besigheid te begin as ʼn 'groot ding' waar jy presies moet weet wat jy doen, iets wat noodwendig kapitaalbelegging nodig het, of net as ʼn manier om geld te maak nie. Om ʼn besigheid te begin is so eenvoudig soos om ʼn probleem op te los." Om te weet dat jy ʼn besigheid begin het om ʼn probleem op te los en nie net geld te maak nie, sal verseker dat jy die deursettingsvermoë het wat nodig is om die uitdagende tye te deurstaan, voeg sy by.
Lutz het ook haar aanlyn leerplatform begin terwyl sy nog op skool was. In gr. 9, tydens die Covid-19-pandemie, het sy besef dat hoewel haar skool soomloos na aanlyn leer kon oorskakel, daar baie leerders was wat nie dieselfde toegang tot digitale opvoedkundige hulpmiddels gehad het nie. ʼn Paar jaar later is Milani Education nou ʼn gratis aanlyn leerplatform wat opvoedkundige inhoud uit die huidige kurrikulum vir gr. 8- tot gr. 12-leerders landwyd verskaf.
Vushe, wat haar fotografie- en inhoudskeppingsonderneming FineApple Pixels in 2022 begin het, stem met Truter saam: “Hierdie besigheid het vir my nooit net daaroor gegaan om wins te maak nie. Dit het gegaan om te bewys dat idees gestalte kan kry – die vermoë om te skep, om te groei, om iets meer te word." Die maatskappy is ontwikkel weens Vushe se persoonlike ervaring toe sy nie ʼn geskikte of bekostigbare fotograaf vir ʼn spesiale geleentheid kon vind nie. Nou bied die studentgedrewe FineApple Pixels buigsame, deeltydse geleenthede vir studentefotograwe om hul talent te ontwikkel en ʼn inkomste te verdien terwyl hulle doen waarvoor hulle lief is. “Ons doelwit is om een van die grootste vryskutplatforms vir kreatiewe dienste te word."
Dié data-ingenieurstudent verduidelik dat sy haar tegniese vaardighede en haar kreatiewe gees saam wou inspan. “Toe my suster vir my haar kamera gee wat sy nie meer nodig gehad het nie, was ek vasbeslote. Ek het alles van voor af geleer met behulp van YouTube en aanlyn bronne. Ek het begin met gratis fotosessies vir my vriende, vir my koshuis tydens die verwelkomingsweek vir eerstejaars en vir fakulteitsgeleenthede."
Om ʼn finalis in die EOHO -kompetisie te wees is vir haar ʼn “mylpaal" op haar entrepreneurskapsreis. "Dit is ʼn geleentheid om te groei, te leer en met geesgenote te skakel, terwyl dit ook vir ander studente wys dat dit moontlik is om hul drome te verwesenlik."
*Oor LaunchLab
Die Universiteit Stellenbosch (US) LaunchLab is deel van die Afdeling Innovasie en Kommersialisering, wat ook die Tegnologieoordragkantoor Innovus, SUNCOM, Kortkursusse en Handelsmerke en die Stellenbosch-netwerk insluit.
US LaunchLab is deur UBI Global as Afrika se #1 universiteitsinkubator vir 2017-2020 aangewys. Dit wys dat ons ʼn reputasie het vir die verskaffing van ondersteuning aan entrepreneurs wat kommersiële sukses vir hul besighede en ekonomiese sukses vir ons streek meebring.
Besoek LaunchLab.co.za vir meer inligting oor US LaunchLab se aktiwiteite.
Wes-Kaapse streekwenners
- Bestaande Besigheid (Tegnologie): Report Buddy van Robyn Truter, US
- Bestaande Besigheid (Sosiale Impak): Milani Education van Alexandra Lutz, US
- Bestaande Besigheid (Algemeen): FineApplePixels van Chiedza Vushe, US
- Navorsingsgebaseerde Besigheid: Cartell van Jordan Smith, Universiteit van Kaapstad
Onderskrif:
Van links na regs: Chiedza Vushe (US), Jordan Parker (UK), Robyn Truter (US), en Alexandra Lutz (US).
Erkenning: Ignus Dreyer