Soos ander vryheidsvegters voor en ná hom, is Anton Lubowski vermoor omdat hy plundering deur korporatiewe belange teëgestaan en hom vir die herverdeling van Afrika se rykdom aan sy mense beywer het. Dít was die ondubbelsinnige boodskap van die afgetrede regter en skrywer Chris Nicholson by die onlangse sesde jaarlikse Anton Lubowski-gedenklesing.
Die geleentheid, wat deur die veteraanjoernalis Max du Preez gemodereer is en deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge in samewerking met die Fakulteit Regsgeleerdheid en Simonsberg-koshuis aangebied is, het die lewe en bydrae van Anton Lubowski, ʼn toegewyde anti-apartheidsaktivis en US-alumnus, vereer. Hy het in 1989 tragies in ʼn sluipmoordaanval gesterf.
Du Preez het in sy inleidende opmerkings besin oor sy vriendskap met Lubowski en hoe hulle ʼn band gedeel het as US-alumni en aktiviste wat probeer het om van hul bevoorregting in die konteks van rasse-onderdrukking en onreg sin te maak.
“Die apartheidstelsel wou Anton nie vermoor omdat hy ʼn terroris of ʼn kommunis of ʼn radikale sosialis was nie, maar omdat hy ʼn simbool was wat ʼn boodskap aan wit en swart jongmense gestuur het dat ʼn mens wit en Afrikaanssprekend kan wees en jou kan skaar aan die kant van die onderdruktes en diegene wat vir vryheid en demokrasie geveg het. En in daardie opsig was Anton Lubowski ʼn groot inspirasie vir my en baie ander," het Du Preez gesê.
Hy het gewys op Lubowski se besluit om afstand te doen van ʼn potensieel winsgewende loopbaan as regter of advokaat en hom eerder toe te wy aan die stryd vir maatskaplike geregtigheid in sy geboorteland Namibië, ʼn keuse wat hom uiteindelik sy lewe gekos het. Du Preez het verduidelik hoe Lubowski se moord gelei het tot die onthulling van polisie- en militêre moordbendes danksy die ondersoeke wat gedoen is deur Vrye Weekblad, die anti-apartheidskoerant wat Du Preez gestig het. “Ek het altyd gedink dat Anton die feit sal waardeer dat sy dood tot die onthulling van al hierdie polisie- en militêre moordbendes gelei het," het Du Preez gesê.
In sy toespraak het Nicholson Lubowski se rol in Namibië se bevrydingstryd en sy moedige verset onder geweldige druk in besonderhede beskryf. Lubowski is ses keer aangehou, een keer vir drie weke in eensame aanhouding by die berugte Oshiri-aanhoudingkamp. Hy het geweier om die stilswye opgelê te word, selfs in die aangesig van dreigemente van tronkstraf en die dood, en dít het van hom ʼn teiken vir Suid-Afrika se apartheidsregering gemaak, het Nicholson beweer.
“Anton was nie net aktief as ʼn prokureur wat diegene verdedig het wat van politieke oortredings aangekla is nie. Hy was ook aktief op die ekonomiese front en dit het die groot korporasies rede gegee om van hom ontslae te raak," het Nicholson gesê. “Hy was vasbeslote dat die land se rykdom – die diamante, die viswaters en die uraan – ná onafhanklikheid onder almal herverdeel sou word. Hierdie eenvoudige beginsel dat verdeling oortolligheid ongedaan moes maak, kon die enkele belangrikste motief vir sy moord gewees het onder diegene wat die rykdom vir hulleself wou behou."
Sy sluipmoord is volgens Nicholson deur die apartheidsregering se berugte Buro vir Burgerlike Samewerking georkestreer. "Maar daar is geen poging om hierdie mense aan te kla, om diegene te vervolg wat deur regters as medepligtiges van die moord geïdentifiseer is nie," het Nicholson aangevoer.
Hy het verbande getrek tussen Lubowski se sluipmoord en ander politieke moorde soos dié van Patrice Lumumba, Dag Hammarskjöld, Olof Palme, Bernt Carlsson en Chris Hani. In sy onlangs gepubliseerde boek Who Really Killed Chris Hani? daag Nicholson die narratief uit dat Janusz Waluś en Clive Derby-Lewis Hani se moord sonder hulp beplan het. Al hierdie sluipmoorde dui op sameswering tussen korporatiewe belange en staatsveiligheidsmagte, het hy aangevoer.
Nicholson se lesing het ook die sistemiese ongelykhede ondersoek wat voortgeduur het nadat apartheid geëindig het en hoe armoede in Afrika steeds aan die plundering van die vasteland se hulpbronne gekoppel is. Hy het parallelle tussen die verlede en hede getrek en daarop gewys dat baie van die sosio-ekonomiese kwessies waarteen Lubowski geveg het – ongelykheid, armoede, honger, korporatiewe hebsug en die marginalisering van die armes – steeds nie opgelos is nie. Hy het gesê Lubowski se nalatenskap is een wat steeds diegene inspireer wat vir maatskaplike geregtigheid in Namibië en Suid-Afrika veg.
Die geleentheid het ook die kollig laat val op die werk van die Anton Lubowski Educational Trust (ALET), ʼn organisasie wat Lubowski se nalatenskap voortsit om geregtigheid deur middel van onderwys te bevorder. ALET, onder leiding van Anton se dogter, Nadia, fokus op vroeë kinderontwikkeling in lae-inkomste gemeenskappe waar toegang tot onderwys van gehalte steeds beperk is. Nicholson het dié inisiatief in Phillipi geprys vir die verbintenis om die siklus van armoede te breek en toekomstige geslagte op te hef. ʼn Gedeelte van die opbrengs uit Nicholson se boek Who Really Killed Chris Hani? word aan die trust geskenk.
Na afloop van die lesing het Gabrielle Lubowski, Anton se weduwee, haar innige dankbaarheid teenoor Nicholson uitgespreek vir sy navorsing en volharding om die waarheid agter Anton se sluipmoord bloot te lê. Hy het aan haar en Anton se familie antwoorde verskaf waarna hulle al 35 jaar soek, het sy gesê. “Om uiteindelik te weet hoekom en wie verantwoordelik is vir sy lafhartige, gevoellose en wrede moord, het my lewe heeltemal verander en het aan my en my gesin die afsluiting gegee waarna ons so lank gesoek het. Chris, dankie uit die diepte van my hart dat jy nie moed opgegee het nie."
Gabrielle het ter afsluiting die studente in die gehoor toegespreek: “My hoop is dat julle almal geïnspireer word en wegstap met die wete dat elke lewe hier betekenisvol is en dat elke mens in hulle die moontlikheid dra om ʼn bydra e telewer om ʼn beter plek van hierdie aarde te maak."
Foto: Max du Preez, Nadia, Gabrielle en Almo Lubowski saam met Chris Nicholson.