Die verspreiding en misbruik van hommeltuie hou 'n toenemende bedreiging vir streeks- en internasionale veiligheid in, wat ernstige etiese en wetlike dilemmas skep. Só skryf prof Lindy Heinecken van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie in ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Lindy Heinecken*
Soos in Oekraïne gedemonstreer is, verander hommeltuie en onbemande lugvaartuie (UAV) die toekoms van oorlog en ontwikkel hulle voortdurend op maniere wat moeilik is om te begryp. Terwyl hommeltuie in oorlogvoering voorheen slegs deur weermagte gebruik is, kan dodelike hommeltuie vandag deur enigiemand gebruik word. State het nie meer beheer oor die monopolie van kollektiewe geweld nie.
Die implikasies vir nasionale en globale veiligheid is diepgaande. State het die verantwoordelikheid om hul burgers, grondgebied en instellings teen eksterne bedreigings te beskerm. Dit behels die beskerming van jou burgers teen eksterne aggressie, jou ekonomie teen kuberaanvalle wat noodsaaklike dienste kan ontwrig, asook aanvalle wat skade kan berokken aan kritieke infrastruktuur, energiebronne, water en voedselsekerheid.
Die verspreiding en misbruik van hommeltuie kan nasionale veiligheid op verskeie maniere beïnvloed. Hulle kan toegerus word met verskeie wapens, insluitend plofstof, chemiese middels of biologiese loonvragte, wat die veiligheid en sekuriteit van burgers bedreig. Soos in Oekraïne gesien is, kan hulle gebruik word om kritieke militêre en burgerlike infrastruktuur te teiken, soos energievoorraad, vervoer en telekommunikasie. Hommeltuie en UAV's hou duidelike voordele in vir diegene wat hierdie tegnologie gebruik.
Soos gedemonstreer in hul gebruik deur die VSA in Afganistan, Pakistan en Somalië in hul 'oorlog' teen terreur, kan hulle presisieaanvalle op teikens uitvoer. Hommeltuie bied intydse waarneming en verkenning, waardeur omstandigheidsbewustheid verbeter word wat weermagte in staat stel om operasies doeltreffend te beplan en uit te voer. Hulle is meer koste-effektief om te bedryf as bemande vliegtuie en kan die behoefte aan 'stewels op die grond' verminder of troepe beter beskerm.
Terwyl die risiko vir burgerlike ongevalle deur presisieaanvalle verminder kan word, is die dood van onskuldige burgerlikes onvermydelik. Benewens die fisieke bedreiging om in 'n hommeltuig-aanval gedood te word, het die konstante dophouding deur hommeltuie 'n groot impak op gemeenskappe. 'n Studie oor Living Under Drones toon dat gemeenskappe aan wydverspreide sielkundige trauma, angs, depressie en posttraumatiese stres ly. Hommeltuigaanvalle versplinter ook gemeenskappe namate mense huiwerig raak om byeenkomste of godsdienstige seremonies by te woon of selfs kinders skool toe te stuur. Hulle ervaar 'n gevoel van hulpeloosheid en magteloosheid om aanvalle te stop, wat kommer laat ontstaan oor die menseregte van diegene wat voortdurend deur die 'oog in die lug' bewaak word.
Dit vuur wrokke en woede aan, wat lei tot verhoogde werwing en ondersteuning vir ekstremistiese groepe. Die wydverspreide beskikbaarheid van hommeltuigtegnologie laat kommer ontstaan oor hul potensiële gebruik deur buite-staatlike agente en terroriste. Die ontwikkeling van klein en kommersieel beskikbare hommeltuie het die speelveld gesif en ekstremiste iets gegee wat hulle nie voorheen gehad het nie – slaankrag uit die lug. Hommeltuie word vinnig 'n belangrike deel van rebelle se arsenale in die Demokratiese Republiek die Kongo en onder al-Sjabaab-vegters in Somalië. Die gebruik van hommeltuie deur nie-staatsgewapende groepe hou 'n toenemende bedreiging vir streeks- en internasionale veiligheid in, wat ernstige etiese en wetlike dilemmas skep.
Die gebruik van hommeltuie vir geteikende moorde wek etiese kommer oor die wettigheid van sulke optrede, in terme van die beginsels van regverdige oorlog wat verband hou met die jus ad bellum-beginsel, wat verwys na die reg om aan te val, sowel as die jus in bello-kriteria van proporsionaliteit en onderskeiding, en verbod op willekeurige aanvalle. Die afgeleë aard van hommeltuigbedrywighede verhoog dit, wat aanleiding gee tot wat “geburokratiseerde moorde" genoem word, waar algoritmes en kunsmatige intelligensie (KI) besluite om toe te slaan, inlig. Hierdie abstraksie kan dit makliker maak om die gebruik van geweld te regverdig sonder om die potensiële risiko's ten volle te oorweeg.
'n Nog groter gevaar is die snelle ontwikkeling van outonome wapens, waar die mens potensieel uit die doodmaak-ketting gehaal word of betrokkenheid beperk is. Sulke stelsels kan vinniger en aggressiewer reageer as mense, wat lei tot onbedoelde eskalasie. Erger nog wanneer KI gekoppel word aan swerms hommeltuie, waar veelvuldige hommeltuie hul optrede koördineer om 'n gemeenskaplike doel te bereik. Gekoördineerde gewapende hommeltuig-swerms kan presiese aanvalle op verskeie teikens gelyktydig uitvoer, wat tradisionele lugverdedigingstelsels oorweldig, en dit baie moeilik maak om lugafweerstelsels as afskrikmiddel te gebruik.
Dit lei tans tot 'n wapenwedloop, aangesien lande poog om hul vermoëns te bekom en te verbeter, met die VSA, Rusland, China, Israel en Brittanje vooraan en baie ander wat kort op hul hakke volg. Kenners voer aan dat sulke wapens 'n fundamentele bedreiging vir die mensdom inhou en nie ontwikkel of ontplooi moet word nie. Hierdie kommer het gelei tot internasionale oproepe vir 'n verbod op outonome wapenstelsels wat teikens kan kies en aanval sonder betekenisvolle menslike ingryping.
Alhoewel die Verenigde Nasies (VN) die kwessie van outonome wapenstelsels al bespreek het, met verskeie lande wat kommer uitgespreek het oor hul potensiële gevare, het die wêreldmoondhede nie 'n regstreekse verbod daarop gesteun nie. Die VN-groep van regeringskundiges oor dodelike outonome wapenstelsels werk aan die ontwikkeling van regulatoriese raamwerke om die gebruik daarvan te beheer. Baie wêreldveldtogte soos die Campaign to Stop Killer Robots en lande poog om die ontwikkeling van hierdie tegnologie te stop, gegewe die potensiële impak op die mensdom.
Twee dinge is egter seker as 'n mens kyk na die ontwikkeling in die wapentuig wat by die onlangse Africa Aerospace and Defence (AAD)-wapenskou in Pretoria vertoon is: mense sal altyd redes hê om te veg en sal altyd op soek wees na doeltreffender maniere om mekaar dood te maak.
*Prof. Lindy Heinecken is Visedekaan vir Navorsing in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op haar aanbieding by die 12de Africa Aerospace and Defence (AAD)-wapenskou wat van 18-22 September in Pretoria gehou is.