Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studentesake bied sy eerste Stellenbosch kampus Opedag aan
Outeur: Division Student Affairs
Gepubliseer: 28/09/2024

Die Afdeling Studentesake (STS) het sy eerste Opedag ooit op Stellenbosch-kampus aangebied, wat honderde studente gelok het wat gretig was om leierskapontwikkelingsgeleenthede en verskeie ondersteuningsdienste wat deur die Afdeling se twee sentra en nege eenhede aangebied word, te verken.

Die stalletjies, wat op 17 September tussen 12:00 en 14:00 op die Rooiplein opgerig is, het gegons van studente wat meer inligting gesoek het oor hoe om hul universiteitservaring persoonlik en akademies te verbeter.

Hierdie geleentheid volg op die sukses van die laaste drie opedae wat jaarliks sedert 2022 by die Tygerberg-kampus gehou word en geïnisieer is deur me Khairoonisa Foflonker, Bestuurder van STS se Tygerberg-kantoor. Die doel met die vestiging van 'n Opedag wat op die Studentesake-omgewing gefokus is, sê Foflonker, was om te verseker dat studente maklike toegang tot noodsaaklike inligting het en om die uiteenlopende behoeftes van studente wat verskillende grade volg, aan te spreek.

“Die groter sigbaarheid van ons ko-kurrikulêre aanbiedinge verseker dat studente holisties ontwikkel word in ooreenstemming met die US se Graduandi Eienskappe," sê Foflonker. "Dit skep ook bewustheid oor noodsaaklike ondersteuningsdienste, soos voedselsekerheid, geestesgesondheidsondersteuning en toeganklikheidbewustheid."

Pokkel, die Universiteit Stellenbosch (US) se geliefde gelukbringer, het aangesluit by personeel, studente-assistente en interns van die Sentrum vir Studentelewe en -Leer (SSLL) en die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling (SSVO) op die Rooiplein,  en het selfs sommige studente tot 'n dans (dance-off) uitgedaag. En Matie-studente het nie teleurgestel nie! Verskeie dapper studente het die uitdaging aangepak, wat Pokkel ernstige kompetisie besorg het. 

SSLL bied leierskap- en persoonlike ontwikkelingsgeleenthede aan studente deur sy vyf eenhede – die Eenheid vir Pendelstudente, Eenheid vir Studentebestuur, Eenheid vir Koshuis-studentegemeenskappe, Eenheid vir Leierskap, Diversiteit en Inklusiwiteit, en die Eenheid vir Ervaringsleer.. Intussen verskaf SSVO noodsaaklike ondersteuningsdienste deur sy vier eenhede: die Eenheid vir Graduandi Loopbaandienste, die Eenheid vir Gestremdhede, die Eenheid vir Akademiese Voorligting en Ontwikkeling, en die Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste.

Studente wat die stalletjies besoek het, het die geleentheid gehad om direk met personeel te praat oor onder meer leierskapontwikkelingsprogramme, werkswinkels en meesterklasse. Hulle het ook met studente-assistente en interns geskakel en eerstehands gehoor hoe DSAf se aanbiedinge hul akademiese sukses, leierskapvaardighede, geestesgesondheid en algehele welstand positief beïnvloed en verbeter het. Hulle het ook gesels oor hoe, met die ondersteuning van die Eenheid vir Gestremdhede en ongeag sigbare of onsigbare gestremdhede, hulle nog steeds 'n sukses van hul studies maak.

“Ons besluit om ook 'n Opedag op die universiteit se Stellenbosch-kampus aan te bied, was gegrond op die sukses van die Tygerberg-opedae en om te verseker dat ons studente – veral eerstejaars – bewus maak van DSAf en die wye reeks dienste wat ons hier bied," sê me Lynne Rippenaar-Moses, DSAf se kommunikasiekoördineerder.

"Ons hoop hierdie geleentheid kweek sterker bande tussen studente en die STS-span, en verbeter die ervaring van alle studente by die universiteit."​​​​

Tydens die geleentheid kon studente 'n inskrywing indien vir 'n kompetisie wat deur die Afdeling bestuur word, en wat hul kennis van elke sentrum en eenheid getoets het. Tien studente het aan die einde van die dag met 'n R250 Neelsie-koopbewys elk weggestap.