Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Janis van der Westhuizen fokus op rol van swaaistate
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 27/09/2024

Prof Janis van der Westhuizen van die Departement Politieke Wetenskap in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het op Donderdag 26 September 2024 sy intreerede gelewer. Die titel was  “Die wêreld is groter as vyf: Wêreldswaaistate en die veranderende globale orde."

Van der Westhuizen het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gepraat oor hoe Suid-Afrika die swaaistaatkonsep as 'n strategie moet gebruik om sy outonomie te versterk, toestande vir ekonomiese groei te optimaliseer en werkloosheid te verminder.

Vertel ons meer oor jou navorsing en hoe jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het

Ek het my PhD-studies onderneem in 'n tyd toe daar groot optimisme was oor die post-Koue Oorlog-era, veral die voordele van ekonomiese globalisering vir die ontwikkelende wêreld. Nogtans, ten spyte van aansienlike ekonomiese groei in die Globale Suide, reflekteer baie sleutelinstellings van globale bestuur steeds die magsbalans soos dit in 1945 was. Dit is fassinerend om te sien hoe en of die post-2022-orde die idees, materiële vermoëns en instellings van 'n veel meer multipolêre wêreld sal weerspieël.

Hoe sal jy die relevansie van jou werk beskryf?

Anders as die 1990's is die Weste nie meer “die enigste vertoning in die dorp" nie – daar gaan “verskeie vertonings" wees. Ek hoop dat die onderrig van studente oor ander lande in die Globale Suide (alhoewel ek net in een spesialiseer), hulle help om op 'n meer vergelykende manier na die wêreld te kyk. Soms vind ek dat wanneer ons 'n tipies “Suid-Afrikaanse" probleem na 'n ander land verplaas, studente op 'n ander manier na die kwessie kyk, partykeer sonder die “etikettering" wat so maklik is om rond te slinger as jy dink jou land se probleme is “uniek".

Hoe sien jy die rol van globale swaaistate soos Indië, Brasilië en Suid-Afrika in 'n veranderende globale orde?

In 2012 is ek genooi om 'n vierdaagse werkswinkel by te woon wat deur die DFID (die Britse ontwikkelingsagentskap) by die Universiteit van Sussex gefinansier is, bygewoon deur maatskaplike aktiviste, akademici en NGO-tipes van die “opkomende lande". Wat deur die loop van die werkswinkel opvallend was, was hoe natuurlik die Brasiliane, die Suid-Afrikaners en Indiërs saamgebondel het tydens middagete en aandgeleenthede. Soos BRICS tans daar uitsien, is daar 'n tekort aan demokrasieë. Die burgerlike samelewings in Indië, Brasilië en Suid-Afrika moet saamstaan om te verseker dat daar 'n sterk demokratiese “spilpunt" binne BRICS is.

Wat is sommige van die probleme en moontlikhede wat met swaaistaat wees geassosieer word?

Om wêreldorde ná Oekraïne te navigeer, sal ongelooflike diplomatieke behendigheid verg. 'n Mens hoop dat die regering van nasionale eenheid die swaaistaat-konsep (state wat beduidende mag op die wêreldtoneel het, maar hul voorkeure vir samewerking verander) sal sien as 'n strategie om Suid-Afrika se outonomie te versterk eerder as 'n ideologiese dwangbuis om toestande te optimaliseer vir ekonomiese groei en werkloosheidsvermindering. Wanneer ons die G20 in Desember vanjaar oorneem, kan dit Suid-Afrika 'n gulde geleentheid bied om die toon in hierdie rigting aan te gee.

Jy het baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys deurgebring. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

So hier en daar in 'n skrikkeljaar sien jy 'n student na jou toe aangestap kom en jy verwag dat sy of hy óf twee persent meer uit jou wil beding vir toelating tot die eksamen óf om vir uitstel vir 'n werkopdrag se indiening te vra, en dan kom vertel hulle jou hoeveel hulle jou kursus geniet het.

Hoe bestee jy jou vrye tyd?

Oor naweke vroetel ek gewoonlik in die tuin rond, of as ek nie te lui is nie, gaan ek op 'n Sondagoggend fietsry (solank daar nie wind is nie!).