Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Therina Theron ontvang SARIMA Toekenning vir Uitnemendheid
Outeur: Division for Research Development | Afdeling Navorsingsontwikkeling
Gepubliseer: 16/09/2024

Dr Therina Theron het die SARIMA (Southern African Research and Innovation Management Association – www.sarima.co.za) Toekenning vir Uitnemende Bydrae in Navorsingsbestuur in Suider-Afrika ontvang tydens `n glansgeleentheid wat op die 4de September 2024 plaasgevind het, as deel van SARIMA se jaarlikse konferensie, gehou in Maputo, Mosambiek.

Die SARIMA Toekenning vir Uitnemendheid gee erkenning aan individue wat vooraanstaande bydraes tot die ontwikkeling van navorsings- of innovasiebestuur gemaak het, veral met verwysing na spesifieke intervensies of inisiatiewe om die beroep oor `n volgehoue tydperk te bevorder.

Dr Theron het die toekenning ontvang vir haar volgehoue diens aan die navorsingsbestuursgemeenskap oor die afgelope 18 jaar sedert sy in 2007 as lid van die SARIMA Nasionale Uitvoerende Komitee verkies is. Oor die jare het sy as lid van die komitee gedien, as Vise-President (VP) (Kapasiteitsbou en Professionele Ontwikkeling), en as SARIMA President (2019 – 2021). Tydens haar ampstermyn as VP en President het sy bygedra tot groot strategiese besluite en gekoördineerde inisiatiewe gemik op die bevordering van SARIMA as `n Suider-Afrikaanse lidmaatskapvereniging vir navorsing- en innovasiebestuursberoeplui.

Deur haar betrokkenheid by SARIMA, lidmaatskap van verskeie komitees op nasionale en internasionale vlak en ook in haar pos as Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US, speel sy steeds `n leiersrol in kapasiteitsontwikkeling en professionalisering van navorsingsbestuurders wêreldwyd. `n Groot deel van Therina se bydrae op internasionale vlak in 2023 was haar rol as voorsitter van die International Network of Research Management Societies (INORMS) 2023-kongres wat tussen 30 Mei 2023 en 2 Junie 2023 deur SARIMA in Durban, Suid-Afrika aangebied is.

As Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US lei sy `n doetreffende en diensgerigte afdeling (www.sun.ac.za/research-innovation/research-development), wat deurgaans daarna streef om `n sleutelbemagter in die US se navorsing en innovasie ekosisteem te wees. Deur verskeie funksies ondersteun die afdeling die navorsingspoging van die akademiese personeel, na-doktorale genote en nagraadse studente, en speel `n sleutelrol I ndie sigbaarheid en bevordering van navorsing aan die US.

In 2023 het dr Theron, saam met die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Sibusiso Moyo, twee groot nuwe projekte implementeer wat bydra tot die US se visie om `n toonaangewende navorsingsintensiewe instelling op die Afrika-kontinent te wees:

  • Die 'Public Squares' projek wat daarop gemik is om nuwe trans-dissiplinêre samewerking te bevorder, met die doel om Navorsing vir Impak as `n strategiese institusionele doelwit te ondersteun. Die inisiatief bemagtig navorsers oor die US se tien fakulteite en twee skole heen om gewaagde idees te verken en mededingende toekenningsvoorstelle te ontwikkel om nuwe transdissiplinêre fokusareas te skep.
  • Die SUNRISE-program, wat daarop gemik is om top-akademici te ondersteun in hul pad om professore te word. Die SUNRISE- program ondersteun die verjonging en transformasie van die US se professoraat.

`n Paar jaar gelede het Therina ook die US se Vroeë Loopbaan Akademiese Ontwikkeling (ECAD)-program geinisieër, met die ondersteuning van befondsing van die DHOO Universiteitskapasiteitsontwikkelingstoelae (UCDG) wat (in 2o24) mentorskap en kapasiteitsontwikkelingsteun aan 145 vroeë-loopbaan akademici verskaf.

Die volhoubare impak van haar bydraes tot die ontwikkeling van die navorsingsbestuursprofessie is onbetwisbaar, en haar leierskapsrol in verskeie inisiatiewe oor baie jare het uitgeloop op `n aantal tasbare uitsette. Dit sluit onder andere in:

  • Haar leidende rol in `n Erasmus+ Capacity Building in Higher Education (CBHE)- projek getiteld “Strengthening of Collaboration, Leadership and Professionalisation in Research Management in SADC and EU Higher Education Institutes (StoRM)" (2017-2020);
  • Dien as modulekoördineerder en dosent op `n Nagraadse Diploma in Navorsingsbestuur en -administrasie (RMA) aangebied deur die Sentrum vir Navorsing oor Evaluering, Wetenskap en Tegnologie (SENWET), US (2020-2023);
  • Dien as streeksredakteur vir Afrika vir The Emerald Handbook of Research Management and Administration Around the World (eds. Poli, Susi; Yang-Yoshihara, Mariko; Kerridge, Simon (2023) https://library.oapen.org/handle/20.500.12657/86164.

As mentor het sy nasionaal en internasionaal leiding gegee aan navorsingsbestuurspraktisyns en is sy betrokke by verskeie komitees en praktykgemeenskappe, asook fasiliteerder van werkswinkels en forums wat met die veld verband hou. Deur haar netwerke en leierskap in die veld, word die US se Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) dikwels versoek om as gasheer vir besoekende navorsingsbestuurders en administrateurs op te tree – nasionaal en internasionaal. As sodanig is die ANO onlangs gekies om deel te neem aan `n SARIMA-projek wat deur die Bill en Melinda Gates stigting befonds word en in 2024 afskop. Die primêre doel van hierdie projek is om die navorsingsbestuursvermoëns van die deelnemende instellings en die US, deur middel van die ANO,te verbeter. Die ANO sal as mentor vir twee universiteite in Malawi optree.

  • Foto: Dr Therina Theron